Nuwe SAUK-kanaal nog ‘n nasiebouslenter

Deel op
Yunus Carrim
Yunus Carrim

President Jacob Zuma het Donderdag die SAUK aangemoedig om Afrika se suksesvarhale wat die vasteland se vordering weerspieël, te vertel.

Die 24-uur nuuskanaal moet nie net fokus op misdaad en korrupsie nie, maar die land se goeie eienskappe weergee, het hy gesê by die nuwe kanaal se bekendstelling, in Auckland Park, Johannesburg.

“Ek hoop dat hierdie kanaal die houdinge sal verander en Suid-Afrikaners trots sal maak op wat hulle in staat was om te bereik op hul eie. In kort, die ware Suid-Afrikaanse storie wat wag om vertel te word.

Die kanaal sal uitsendings op DStv se kanaal 404 uitsaai, en was geskeduleer om te begin vanaf 18:00. Die groei van die kommunikasiesektor is merkwaardig,” het Zuma gesê.

Zuma het gesê dit sal ‘n deurslaggewende rol speel in die samelewing want media is ‘n belangrike kommunikasie-instrument. “Ons is gelukkig om te leef in ‘n tydperk van Afrooptimisme,” het hy bygevoeg.

Die nuwe kanaal sal in al 11 tale uitsaai en is oënskynlik geskep om die verskillende tale tot hul reg te laat kom. DStv behoort aan Naspers.

Kritici meen só ‘n ondeneming sal nooit winsgewend wees nie en dit is bloot ’n manier om die dalende kykergetalle van SABC2 te probeer teenwerk, terwyl die nuwe kanaal ’n gulde geleentheid sal bied om in al die verskillende tale ‘n nasiebouoffensief tot voordeel van die maghebbers uit te bou.

Die Afrikaanse kyker was lank die SAUK se melkkoei, aangesien adverteerders gretig is om geld uit te haal waar kykergetalle hoog is.

Afgevaardigdes na die bekendstelling het Zuma se eweknie van Lesotho Tom Thabane, minister van kommunikasie, Yunus Carrim en sokkeradministrateur Irvin Khoza ingesluit.

Carrim het gesê dit sal gratis beskikbaar wees op TV sodra die skuif van analoog na digitale televisie gebeur. DStv is steeds ‘n betaalkanaal en ‘n groot bron van inkomste vir Naspers.

Die besluit het vir kritiek teen die SAUK gesorg om sy 24-uur nuus aan te bied op ‘n betaalplatform wat oor die die enigste openbare uitsaaimandaat in die land beskik.

Carrim het egter vrese dat die kanaal finansieel onvolhoubaar is geïrriteerd afgemaak en gesê dit is die risiko wat sulke kanale reg oor die hele wêreld in die gesig staar.

Hy het die hoop uitgespreek dat die kanaal sal help om gehore wat hulle verloor het, terug te wen.

Die bekendstelling het saamgeval met die 77ste herdenking van die SABC.

Die besturende direkteur van die ATKV, Japie Gouws, sê hy is opgewonde oor die groter blootstelling wat gebied word en wat “opbouend” vir Afrikaans sal wees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.