Seisoen verby vir Bulle se Hougaard, Stegmann

Deel op
Stegmann, Hougaard in 2010
Stegmann, Hougaard in 2010

Deur Koos Venter.

Die nuus dat Francis Hougaard en Deon Stegmann albei binnekort geopereer word vir ernstige beserings, en dus nie vanjaar weer rugby sal speel nie, is die nuuste terugslag vir die Blou Bulle wat na dese só uitgedun is voor die Curriebekerreeks dat hulle waarskynlik die jongste en mees onervare span in dié toernooi gaan

wees.

Met slegs tien dae oor voor die Curriebekerreeks vir 2013 afskop, het die krisis in die Bloubul kamp op Loftus Versfeld hierdie week vergroot toe daar aangekondig is dat nog twee senior Springbokke nie weer vanjaar vir die Bulle in aksie sal wees nie.

Dié twee Springbokke, Francois Hougaard en Deon Stegmann, word albei binne die volgende week vir onderskeidelik ’n skouer- en ’n enkelbesering geopereer en sal dus nie weer vanjaar kan speel nie.

Hierdie nuus is nie net sleg vir die Blou Bulle nie, maar ook vir die Springbokke, wat binnekort met hul veldtog in die Castle Rugby Kampioenskap teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië begin. Hoewel Stegmann waarskynlik nie tans in Springbok afrigter, Heyneke Meyer, se visier is nie, was Hougaard se betrokkenheid by die Springbokspan ’n formaliteit.

Hougaard se besering en operasie beteken dat die Springbokke waarskynlik vanjaar die Castle Rugby Kampioenskap met twee skrumskakels sal aandurf wat albei hul klubrugby oorsee speel. Ruan Pienaar wat tans vir Ulster in Ierland speel is van verlede jaar af al deel van Meyer se planne, terwyl sy derde keuse in dié posisie naas Hougaard en Pienaar, Jano Vermaak, ook kort na die SupeRugby halfeindrondte na Toulouse in Frankryk vertrek het, waar hy vir die volgende twee seisoene sy rugby gaan speel.

Stegmann was waarskynlik die sterkste kandidaat om die Blou Bulle in vanjaar se Curriebekerreeks te lei, nadat die ander kandidate vir die kapteinskap ook òf beseer is òf oorsee verkas het. Pierre Spies sal weens ’n besering eers weer in 2014 rugby speel, terwyl Dewald Potgieter na Japan uitgewyk het waar hy vir die Yamaha-span gaan speel.

Saam met Potgieter en Vermaak het nóg vyf senior spelers Pretoria die afgelope maand verlaat. Hulle is Chiliboy Ralepelle (Frankryk), Juandré Kruger (Frankryk), Jacques Potgieter (Japan), Morné Steyn (Frankryk), Wynand Olivier (Frankryk) en Zane Kirchner (Ierland).

Voeg hierby Spies en Arno Botha se langtermyn beserings en die feit dat Flip van der Merwe, Jan Serfontein, JJ Engelbrecht en Bjorn Basson waarskynlik almal by die Springbokke betrokke gaan wees, en dit word duidelik dat die Blou Bulle se diepte tot die uiterste beproef gaan word in die Curriebekerreeks wat op 10 Augustus afskop.

Die Blou Bulle sal dus kan reken op slegs die stutte, een slot en een vleuel wat vir die Curriebekerreeks gaan oorbly uit die span wat verlede Saterdag in die halfeindrondte teen die Brumbies op die veld gedraf het. Pine Pienaar, die Bou Bulle se Curriebeker afrigter, sal dus byna ’n hele nuwe agterlyn en drie nuwe losvoorspelers moet vind vir sy Curriebeker veldtog.

Verlede jaar moes die Blou Bulle baie hard werk om in die Curriebekerreeks onder die top vier spanne te eindig, terwyl hulle die vorige jaar selfs gesukkel het om nie laaste (sesde) te eindig en by ’n promosie-relegasie wedstryd teen die top span uit die Eersteliga betrokke te raak nie.

Vanjaar sal die stryd soveel groter wees, want Pienaar sal moet terugval op jong en onervare spelers om sy Curriebekerspan vol te maak.

Daar word verwag dat die OP Kings met ’n groot aanslag gaan kom om te probeer om vanjaar na die Premierliga-afdeling van die Curriebeker bevorder te word. Hoewel hulle tans vyfde op die punteleer in die Eersteliga-afdeling is, sal hulle vanaf volgende naweek en basies die hele tweede rondte van dié kompetisie al hul SupeRugby spelers beskikbaar hê vir hul Curriebekerspan. Dit is dus nie onmoontlik dat hulle die Pumas, wat tans tien punte voor hulle op die punteleer lê, sal kan inhaal en selfs dié liga kan wen nie.

Indien die OP Kings dit regkry om vir die promosie-relegasie wedstryd te kwalifiseer teen die laagste span op die Premierliga-afdeling, kan dit aanvaar word dat die rugbymagte in die Oos-Kaap alles in hul vermoë sal doen om gepromoveer te word.

Die Blou Bulle sal dit dus nie kan bekostig om enige kanse te vat om in so ’n wedstryd betrokke te raak met ’n jong en onervare span nie. Daar sal enorme druk wees op die Blou Bulle om selfs na die verlies van soveel top spelers én sonder die hulp van hul Springbokke steeds te presteer in die komende Curriebekerreeks. Die Springbokke speel hul laaste toets in die Castle Rugbykampioenskap op 5 Oktober, wat beteken dat die Blou Bulle se Springbokke eers in hul laaste ligawedstryd van die Curriebekerreeks, wat op 12 Oktober sal gespeel word, beskikbaar sal wees. Op daardie stadium behoort die spanne se lot op die punteleer reeds bepaal te wees. – looklocal.co.za

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.