Pretoriase man skiet aanvaller dood

Deel op

rooihuiskraal‘n Vermeende rower is Dinsdagaand in Rooihuiskraal, Pretoria, doodgeskiet.

Skote het Dinsdagaand in Rooihuiskraal afgegaan toe ’n man glo ‘n vermeende rower in selfverdediging doodgeskiet het.

Dié man, Karel Liebenberg, het na bewering die vermeende rower voor sy huis doodgeskiet nadat ’n vuurwapen op hom gerig is.

Met die aankoms vroeër by hul huis, het Liebenberg uit sy voertuig geklim om die veiligheidshek en motorhuisdeur oop te maak.

’n Oomblik daarna het hy opgemerk dat ’n silwer-grys Subaru sonder ’n nommerplaat agter hulle voertuig stilgehou het. Die voertuig het vir hom verdag voorgekom en hy het sy gelisensieerde vuurwapen uitgehaal.

’n Passasier het regs agter uit die voertuig geklim en ’n vuurwapen op Liebenberg gerig.

Volgens Liebenberg se prokureur, Peet du Plessis, is Liebenberg die hoof van die plaaslike blokwag en daarom dra hy ten alle tye ’n vuurwapen by hom. Weens vrees dat sy lewe in gevaar was, het hy twee skote op die verdagte gevuur.

Volgens Du Plessis het die bure en Liebenberg se vrou verskeie skote gehoor wat afgevuur is, wat moontlik kan aandui dat dié 33-jarige verdagte teruggeskiet het.

Die verdagte is raak geskiet en die ander verdagtes in die voertuig het van die toneel gevlug.

Liebenberg het dadelik die polisie ontbied. Met Sersant Michiel Roos se aankoms op die toneel het die verdagte nog geleef en Roos het die mediese dienste ontbied.

Ten spyte van mediese sorg, is die verdagte op die toneel dood verklaar.

“Die egpaar is nog in skok en erg getraumatiseer,” het Du Plessis aan Looklocal gesê.

Hy wou nie verdere kommentaar lewer totdat die verslae afgehandel is nie.

Volgens Generaal-Majoor Tommy Mthombeni was die reeksnommer van die oorledene se vuurwapen afgeskuur en elf rondtes van ammunisie is in die wapen gevind waarvan een patroon reeds in die kamer gelê het.

Mthombeni het bevestig dat ’n saak van poging tot kaping deur die polisie ondersoek sal word. ’n Geregtelike doodsondersoek sal ook gedoen word. – looklocal.co.za

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.