Mugabe, die gunsteling

Deel op

whatsappDie meeste ontleders glo Zimbabwe se president, Robert Mugabe het ‘n beter kans as die opposisieleier, Morgan Tsvangirai om die verkiesing te wen.

Mugabe se voorsprong is te wyte aan sy beheer oor die media, kuberruim, veiligheidsmagte en verkiesingslogistiek. Mugabe het alle Westerse waarnemers verbied om toesig te hou oor die verkiesing. Hy het Britse en Amerikaanse regerings beskuldig van ‘n anti-swart agenda.

Waarnemers van die Afrika Unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het die verkiesing intussen as vry en regverdig gaan verklaar. Ontleders meen die AU en SAOG is so desperaat vir ‘n geloofwaardige uitslag in die verkiesing dat hulle sommige probleme sal miskyk, solank daar nie openlike geweld plaasvind nie.

Die Afrika Unie sê aanvanklike bevindings rakende die verkiesing in Zimbabwe is dat dit vreedsaam en vlot verloop het. Die leier van die AU-waarnemerspan en voormalige president van Nigerië – Olusegun Obasanjo – sê daar is geen rede waarom die verkiesing nie as geloofwaardig beskou kan word nie.

Kiesers het gister in groot getalle by stembusse regdeur die land opgedaag om hul kruisies te trek.

Die MDC in Zimbabwe het egter ‘n lang lys van ongerymdhede opgestel in dié land se parlementêre en presidentsverkiesing.

Die party beweer dat twee miljoen stembriewe met dieselfde strepieskodes as bestaande stembriewe gedruk is. Die party sê ook dat groot getalle kiesers weggewys word weens die chaotiese kieserslys.

Die MDC beweer dat vervalste registrasiekaarte gedruk is, dat stempunte in verkeerde wyke is en dat kiesers in plattelandse gebiede geïntimideer word. Die sekretaris-generaal van die MDC, Tendai Biti sê die party het Woensdag steeds nie toegang tot die jongste kieserslys gehad nie.

President Robert Mugabe sê die verkiesing in sy land is om vir vryheid en regverdigheid te stem. Mugabe het sy kruisie in Harare getrek, en dit duidelik gemaak dat hy vir homself gestem het.

Vroeër het die polisie in Zimbabwe bevestig dat hulle die diefstal van kieserslyste in die Midlands-provinsie ondersoek. ‘n Polisiewoordvoerder, Charity Charamba wou nie meer inligting gee oor die ondersoek nie, maar het gesê dat verdagtes binnekort in hegtenis geneem sal word.

Die MDC beweer dat Zanu PF besig is met ‘n verbete kuberstryd wat toegang tot kommunikasie platforms soos Whatsapp en SMS-boodskappe beperk.

Die Zimbabwiese Verkiesingskommissie het die verkiesing as vry en regverdig bestempel. Die voorsitter van die kommissie, Justice Rita Makarau het onderneem om berigte van ongerymdhede te ondersoek.

Die Zimbabwiese polisie het mense opnuut gewaarsku wat probeer om voortydig uitslae oor die verkiesing uit te lek, dat hulle in hegtenis geneem sal word.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Charity Charamba sê enigeen wat die uitslae vooruitloop, voordat dit amptelik deur die Zimbabwiese Verkiesingskommissie aangekondig word, loop die risiko om in hegtenis geneem te word, en dit sluit in die bekendmaking via die internet of sms-boodskappe.

Die waarskuwing bemoeilik nou planne deur sommige burgerregte-groepe wat die uitslae so gou moontlik bekend wil maak.

Mugabe het vroeër gesê dat hy dit sal aanvaar indien hy verloor. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.