‘DA Midvaal-burgemeester moes bedank’

Deel op

timothy_nastDie skielike bedanking van Midvaal se burgemeester, mnr. Timothy Nast, was nie onverwags nie.

Mnr. Corrie Pypers, die Vryheidsfront Plus se raadslid vir Midvaal, sê volgens sy mening het Nast nie ‘n keuse gehad as om te bedank nie.

“In teenstelling met die uitbeelding van Nast as iemand wat Midvaal bo-gemiddeld goed bestuur het, het hy talle foute begaan wat daartoe gelei het dat die VF Plus deurlopend druk op hom geplaas het deur wanbestuur in die munisipaliteit bloot te lê,” sê Pypers.

Volgens Pypers was Nast onder meer instrumenteel in die hersonering van grond, wat aan familielede van hom behoort,  langs die R59-snelweg. ‘n Hersoneringsaansoek, wat industriële regte insluit, is deur die burgemeesterskomitee onder sy voorsitterskap goedgekeur slegs tien dae voor die munisipale verkiesings in 2011

Die hersoneringsproses is gekenmerk deur grootskeepse ongerymdhede en die hele aangeleentheid word steeds ondersoek.

Nast was ook instrumenteel in die vervolging van die Meyerton-Gholfklub se bestuur. Dit het gelei tot regskostes van tienduisende rande vir die klub en die stadsraad.

Die grond van die gholfbaan behoort aan die raad en is gesamentlik bestuur deur die raad en die gholfklub sedert die klub se totstandkoming in die jare tagtig.

In ‘n vermoedelik persoonlike vete van Nast teen Pypers, is belastinggeld en amptenare van die raad glo misbruik. Nast, tesame met die raadslede en amptenare van die raad wat by hierdie vrugtelose stryd betrokke was, moet verantwoording doen vir hul optrede en die koste daaraan verbonde.

Die beginsel van wanbesteding van munisipale fondse was onlangs in die kollig met uitspraak in die saak rondom die Tlokwe-raad rakende die ANC-burgemeester wat nie sy kantoor na ‘n mosie van wantroue wou ontruim nie.

Me. Helen Zille, die leier van die Demokratiese Alliansie (DA), het onlangs moontlik lasterlike bewerings rakende Pypers en ‘n voormalige raadslid mnr. Kobus Hoffman op die DA se webwerf geplaas. Die inligting is vermoedelik deur mnr. Nast en sy voorganger Marti Wenger verskaf.

Die optrede van Zille het daartoe gelei dat Pypers en Hoffman‘n regseis vir laster van miljoene rande teen haar ingestel het.

Nast het na bewering nogtans voortgegaan om toe te sien dat raadslede en amptenare wat die waarheid rondom die vals bewerings ontbloot het, afgedank word.

Nast was volgens inligting ook betrokke by die naamsverandering van ‘n oorwegend Afrikaanse skool, en het met stappe begin om, soortgelyk soos ANC-beheerde munisipaliteite doen, die name van verskeie strate en plekke te verander.

Die vermoede bestaan daarom dat Nast binnekort by die ANC kan aansluit.

Verskeie ander sake met ernstige gevolge vir Nast en die DA, is tans sub judice en sal mettertyd bekend gemaak word. Om hierdie redes het Pypers twee maande gelede aangedring op die bedanking van Nast.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.