Die hoofstroommedia se Zimbabwiese gehuigel

Deel op

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Die skynheiligheid van die linksverkramptes sal nooit ophou om my te verstom nie. ‘n Linksverkrampte, of is dit ‘n libgestremde, is iemand wat in sy lelieblanke voorstad sit, agter tienvoetmure om die swartes uit te hou; iemand wie se kinders spierwit Model C- of privaatskole bywoon, maar dan geen teenstrydigheid daarin sien om te huigel oor hoe rassisties ander blankes glo is nie.

Dit kom eenvoudig nie by die linksverkrampte op dat mens bloot hoef te kyk na sy eie optrede nie – na sy blanke eggenoot, sy kinders se blanke skool, sy blanke buurt – om te sien hoe belaglik skynheilig  en teenstrydig die woorde is wat uit sy mond stroom nie. Hy sal tipies ‘n akademiese pos beklee, befonds deur blanke belastingbetalers, maar dan hoog en laag sweer dat regstellende aksie nie so erg is nie, sonder om in te sien dat, as hy sy gehuigel vir een oomblik geglo het, hy onmiddellik ten gunste van ‘n RA-lektor sou bedank het .

Wys jy hierdie skynheiligheid aan ‘n linksverkrampte uit, reduseer jy hom dadelik tot ‘n staat van huilerige paniek, oorlaai jy sy klein breintjie, en is al reaksie waarmee hy vorendag kan kom, een van die flouerige geskree van sy gunstelingvloekwoord: “Rassis!”

Teen bostaande agtergrond is ek nietemin steeds geamuseerd deur die gehuigel van die linkse media (en is daar enige ander tipe hoofstroommedia  in Suid-Afrika as die linkse soort?) oor die Zimbabwiese verkiesing. Allister Sparks, ‘n voormalige redakteur van die Rand Daily Mail, is in vandag se Business Day buite homself van vertontwaardiging oor hoe Mugabe die Zimbabwiese verkiesing gaan kook.

Sparks borrel van linkse vertontwaardiging omdat president Zuma nie vir Mugabe op sy plek gesit het nie. Hy is kwaad oor Mugabe se minagting vir Lindiwe Zulu, Zuma se gesant aan Zimbabwe. Hy wonder hoe dit kan wees dat daar 127-jarige kiesers op die kieserslys kan wees.

Die Rand Daily Mail, Sparks se vorige koerant, was egter destyds een van die voorste agitators vir swart regerings in Suider-Afrika. Die koerant se bewondering vir al wat Brits was, en sy minagting vir Afrikaners, was eweneens duidelik. Naas verloorders soos Mad Max du Preez se linkse propagandablad, die Vrye Weekblad, het die Rand Daily Mail hom onophoudelik beywer vir die kommunistiese oorname van die ganse Suider-Afrika. Saam met die Britse poniepers was die einste Rand Daily Mail in ekstase toe Ian Smith se regering deur die Britte uitverkoop is tydens die Lancaster House-onderhandelings. Het die Rand Daily Mail nie in 1985 toegemaak nie, sou sy klakkelose lofsingery oor die marxisitiese oorname in Suid-Afrika van 1994, ongetwyfeld die meeste blankes na hul Valoid-pille laat gryp het.

Nes die linksgestremde in sy lelieblanke buurt nie die teenstrydigheid van sy woorde met sy optrede insien nie, is die ironie van Sparks se eie tirade in Business Day, blykbaar totaal en al op hom verlore. As iemand vóór die eerste verkiesing in 1980 vir Sparks gewaarsku het om bloot na die res van Afrika te kyk, en voorspel het presies wat in Zimbabwe en Suid-Afrika sou gebeur onder ‘n regering wat sy oorsprong had in ‘n terreurbeweging, het Sparks ongetwyfeld ook ‘n ewe skril redaksionele stuk geskryf as sy stuk van vandag, en diegene wat die waarheid en feite oor Afrika-regerings durf opper het, as rassiste en doemprofete uitgekryt.

Vandag, 33 jaar later, probeer Sparks, Mad Max en kie egter maak asof hulle glad nie gewaarsku is oor wat sou plaasvind in Zimbabwe of Suid-Afrika nie. Hulle skryf hoogheilige stukke wat presies dít waarvoor hulle hul beywer het, probeer veroordeel.

Nee wat, menere Sparks, Du Preez en die res van die linkse gespuis in die hoofstroommedia se redaksies. Mugabe, Zuma en die res is julle eie maaksels. Julle is gewaarsku, maar het die realiste destyds as rassiste en regses doodgeskree. Vandag se handomkeer oortuig niemand nie.

Júlle het hierdie bed gemaak. Slaap nou daarin.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.