FW verraai en Naspers verdraai

Deel op

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt’s se Facebookblad

Die boikotaksie wat daar die afgelope paar weke spontaan teen die Naspersgroep losgebars het, kom ná jare van oneerlikheid deur mnr. Koos Bekker se maatskappy.

Naspers redeneer nie hy, hy stigmatiseer. Hy debatteer nie, hy verguis. Soos ‘n viswyf op die Kaapse dokke skel hy op enigeen wat maar ‘n millimeter van die gefabriseerde konsensus in dié land afwyk.

Van die eerste oomblik dat ek by die Afrikaanse taaldebat betrokke geraak het in die laat negentigerjare, het die Nasperskoerante my begin aanval en belaster. Die destydse redakteur van Die Burger, mnr. Arrie Rossouw het by die KKNK-kunstefees, wat insgelyks deur Naspers beheer word, ‘n platvloerse aanval op my en praag geloods deur te vra: “Wil jy Afrikaans hê, of wil jy vreet?”

Dit was na aanleiding van die veldtog wat ons destyds teen die maatskappy Parmalat gevoer het, wat Afrikaans van sy produkte verwyder het.

Naspers maak geld uit Afrikaans, sommer baie geld. Die KykNET-kanaal, wat benewens rugby een van die trekpleisters vir Afrikaners is om R600 per maand vir DSTV te betaal, is in Afrikaans. Oor die algemeen is Afrikaners lojale mense: lojaal teenoor hul taal, maar ook handelsmerke. Naspers buit daardie lojaliteit gewetenloos uit.

Terwyl Koos Bekker en sy kultuurmarxistiese trawante op die Naspersdireksie al die pad bank toe lag omdat hul sukses ten dele op Afrikanerlojaliteit gegrond is, ondermyn die maatskappy oral waar hy kan die beeld en posisie van Afrikaners in Suid-Afrika.

Net waar hy kan, verteken Naspers ons geskiedenis. Eers het FW verraai en nou gaan Naspers verdraai.

Naspers steun regstellende aksie en radikale grondhervorming. Terwyl hy ons, die Afrikaanse skrywers, sangers en taalaktiviste, maar ook ons hele volk, honend verguis en swartsmeer, is die blaaie van sy koerante en internetruimtes oop vir Britse radikales soos prof. Ruth Hall wat haat teen ons grondeienaars en boere aanhits.

Dis vir my die moeilikste van alles om te begryp: Waarom haat Koos Bekker en sy maatskappy die Afrikaner so? Eenmaal het Bekker in ‘n toespraak na ons verwys as “ruwe mense”. Was al ons groot skrywers, filosowe en politieke leiers uit die verlede “ruwe mense”? Al ons groot skilders soos Pierneef en Maggie Laubscher wie se skilderye vir miljoene op veilings in Londen verkoop word, ‘n digter soos N.P. van Wyk Louw, sangers soos Gé Korsten en Mimi Coertse, verdien hulle almal die stigma van “ruwe mense”?

Koos Bekker is seker die grootste filistyn in hierdie land se geskiedenis! Hy misken alles wat Afrikaans is.

Ek is nie geneig tot komplotteorieë nie, maar hier is iets baie snaaks aan die gang. Die een oomblik het FW de Klerk  nog die volk verseker dat hy met die ANC gaan “onderhandel”, die volgende oomblik dank hy sy eie generaals af en hensop voor Ronnie Kasrils, Joe Slovo en die bokwagter van Qunu, soos Albert Brenner na hom verwys.

En as gevolg van dít alles verkry Naspers ‘n mediamonopolie in Afrikaans en toenemend in Suid-Afrika. In weerwil van die Mededingingswet, duur daardie mononpolie tot vandag toe en word op allerlei onderduimse maniere onderhou. Die afgelope paar dae is praag.co.za se bediener aangeval en ons word deur naamlose mense op Facebook beswadder wat spog dat hulle op ons spioeneer en selfs ons privaat boodskappe en epos lees. Werk hulle vir Naspers? Werk Naspers saam met die Nasionale Intelligensiediens om onafhanklike media in Afrikaans in die kiem te smoor? Wat is hier aan die gang?

Watse beloftes of ooreenkomste is daar agter die skerms in die vroeë negentigerjare tussen Naspers en die ANC gemaak? Iets in die trant van: Ons kan saam plunder aan die oorblywende Afrikanerbates en sodra iemand sy kop uitsteek om vrae te vra, dan sê ons hom so sleg dat die see hom nie kan afwas nie?

Want dis min of meer die Naspers-modus-operandi. Sodra daar ‘n Afrikaner opstaan, of dit nou Steve of Sunette Bridges of Jaap Kelder of wie ook al is, wat indringende vrae begin vra oor plaasmoorde, korrupsie en die verval van plaaslike regering, dan is die Naspersmedia altyd daar om hulle as “rassiste”, “verregses” en “kranksinniges” te verguis.

In Suid-Afrika maak Naspers geld uit die Afrikaner, maar hy steun die politiek van die Afrikaner se vyande. Hoe rym dit? Ek dink ek het dit al voorheen gesê, maar Naspers is die enigste maatskappy ter wêreld wat nie van sy eie kliënte hou nie. Hy minag hulle. En natuurlik beskik Naspers oor ‘n horde kommentators en joernaliste wat in die maatskappykultuur geïndoktrineer is en wat ons, die “ruwe mense”, ewe veel minag.

Daarom spuug Max du Preez, Neels Jackson, Jonathan Jansen, Waldimar Pelser, Adriaan Basson, Tim du Plessis en ‘n horde ander ‘n konstante stroom Afrikanerhaat uit wat daarop gemik is om ons te kry om onsself te verag. Ook moet ons enige aanspraak wat ons op menseregte mag hê, selfs die mees basiese reg op lewe, afsweer.

As Afrikaner moet jy gesien en nie gehoor word nie. Jy moet stilletjies uit die vertrek verdwyn, jou plaas of jou huis afgee sodat Koos Bekker en Ton Vosloo vir hulle paleise en chateaux in Frankryk kan gaan koop. (Daaroor spog hulle in die “glanstydskrifte” wat hulle met ons geld in die Kaap uitgee.) As ‘n moordbende by jou huis of jou plaas opdaag, moet jy “in vrede vrek”, soos ‘n oudsoldaat dit eenkeer aan my gestel het.

Ons moet plaasmoorde en geweld as ‘n onvermydelike newe-effek van “demokrasie” aanvaar. So pas het die Naspersdagblaaie ‘n resensie oor die e-boek, Plaasmoord: behind the violence on South African farms gepubliseer. Die resensie is geskryf deur dieselfde linkse aktivis, Nechama Brodie, van Africa Check wat Steve Hofmeyr in die openbaar oor sy moordstatistiek aangeval en probeer diskrediteer het. In haar resensie, soos in haar sogenaamde “verslag” oor plaasmoordstatistiek, kom sy tot die gevolgtrekking dat “slegs 17 boere tussen 2003 en 2010 vermoor is!

Die Burger, Beeld en Volksblad laat geen debat oor hierdie of enige ander kwessie toe nie. Hulle leuse is mos:

“Ons redeneer nie, ons stigmatiseer.”

Daarom is Naspers se boodskap helder en duidelik:

“Ons sal enige standpunt, enige gerug, enige belediging publiseer solank dit vir die Afrikaner nadelig is en solank dit ons materiële belang dien.”

Hoe lank kan ons nog met die Naspersmonster saamleef? Óf ons sal hom moet vernietig, óf hy gaan ons vernietig.

Naspers delenda est.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt’s se Facebookblad

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.