
Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het het toegegee dat pres. Robert Mugabese stelling dat Zimbabwiese burgers Suid-Afrika se ekonomie oorgeneem het, waar is.
Hy gesê Suid-Afrika kan by Mugabe gaan kers opsteek wat betref beleggings in onderwys en opleiding.
Hoewel “dit erg is om by Mugabe te hoor”, is dit nie onwaar nie, het Mantashe by ‘n inligtingsessie erken.
“In die landbou en gasvryheidsbedryf is daar orals Zimbabwiërs omdat ons jongmense blykbaar dink sulke tipe werk is benede hulle.”
Hy het ook Zanu-PF daarvan beskuldig dat hy die ANC wil destabiliseer met Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), maar nie meer besonderhede gegee oor dié poging nie.
Mantashe het verklaar dat Malema se nuwe politieke beweging deur Zanu-PF gedryf word en daarom afwyk van die Vryheidshandves “en baie meer met Mugabe en Zanu-PF” te make het.
“Nêrens in die Vryheidshandves sê dit grond moet sonder vergoeding gevat word nie. Malema gaan te kere oor die besitreg van minerale onder die grond. Besit die staat dit nie reeds danksy wetgewing nie?”
Die ANC bekommer nie dat Malema die jeugstem gaan afrokkel nie. “Die jeug identifiseer met die EFF, akademici met (dr.) Mamphele (Ramphela) se Agang . . . die ANC is vir almal.”