Carlton-juweeldiefstal beloop nou miljarde

Deel op
Die Carlton, Grant en Kelly
Die Carlton, Grant en Kelly

Die organiseerder van ‘n diamantuitstalling en -verkope het die geraamde waarde van juwele wat tydens ‘n rooftog gesteel is, meer as verdubbel, het ‘n staatsaanklaer gesê.

Volgens die organiseerder is die juwele helderoordag in die Carlton-hotel, een van die deftigste hotelle in Cannes, gegryp. Die juwele is sowat R1,3 miljard werd.

Die polisie het vroeër gesê die rower het sowat R520 miljoen se juwele gebuit – wat dit selfs op dié vlak een van die grootste rooftogte in onlangse jare maak.

Philippe Vique, assistent-staatsaanklaer, het gesê die Doebai-gebaseerde organiseerder van die tentoonstelling het ná ‘n volle inventaris gesê die waarde van die gesteelde juwele is meer.

Vique het gesê owerhede is op soek na een verdagte wat te voet gevlug het.

Die tentoonstelling van die juwele was veronderstel om vir die publiek oop te wees tot aan die einde van Augustus.

Hotelle in Cannes lyk na ‘n gunstelingteiken hierdie jaar, met twee gewaagde juweelrooftogte wat reeds in Mei tydens die Cannes Filmfees gebeur het. Diewe het ‘n kluis uit die muur van ‘n hotelkamer gehaal met R11 miljoen se juwele.

In ‘n latere voorval, het diewe 80 hotelsekuriteitswagte uitoorlê en ‘n De Grisogonohalssnoer gegryp ter waarde van R30 miljoen sê die ontwerpers.

Die luukse Carltonhotel verskyn in die 1955 Alfred Hitchcockfilm, met hartebreker Cary Grant as ‘n gereformeerde inbreker wat ‘n juweeldief met die hulp van mede-ster Grace Kelly jaag in To Catch a Thief.

Die hotel is geleë op die Promenade de la Croisette, wat 2,4 kilometer langs die see loop en ‘n vinnige wegkomkans vir diewe bied. – AP

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.