Zim-verkiesing deur duisende waarnemers toegesak

Deel op

zimsadcMinstens 20 000 plaaslike en buitelandse verkiesingswaarnemers sal vandag in verskeie gebiede in Zimbabwe ontplooi word in aanloop tot Woensdag se verkiesing.

Die land het meer as ses-komma-vier-miljoen geregistreerde kiesers, wat na verwagting hul kruisies sal trek om die beleërde koalisieregering te beëndig.

Die akkreditasieproses in Harare het deurgeloop onder logistieke probleme met duisende plaaslike waarnemers wat die naweek by akkreditasiesentrums opgedaag het.

Dit laat kommer ontstaan dat sommige nie betyds vir die verkiesing ontplooi sal kan word nie.

Die Zimbabwiese Verkiesingsondersteuningsnetwerk het die grootste groep waarnemers van meer as seweduisend. Die nasionale direkteur van die organisasie, Rindai Chipfunde Vava, het die Zimbabwiese verkiesingskommissie die skuld gegee vir die chaos.

Hy sê die organisasie moet nou bykomende dae meer betaal vir vervoer en akkommodasie vir hul waarnemers.

Die hoof van die Afrika Ontwikkelingsbank, Donald Kaberuka het sy hoop uitgespreek dat die komende verkiesing deur die kiesers en buurlande as geloofwaardig beskou sal word.

Die voormalige Rwandese Minister van Finansies sê Zimbabwe kan dit nie bekostig om nog ‘n tydperk van chaos en onsekerheid deur te maak nie. Kaberuka sê ‘n geloofwaardige verkiesing sal sakevertroue en beleggings aanhelp.

Dit sal Zimbabwe ook in aanmerking laat kom vir skuldverligting deur internasionale finansiële instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank.

Die voorsitter van die Afrika-unie kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma sê hulle is tevrede met Zimbabwe se voorbereidings vir die verkiesing op 31 Julie. Dlamini-Zuma het met Zimbabwe se kieskommissie en politieke partye vergader.

Die AU het ‘n span van 60 mense na Zimbabwe ontplooi om die verkiesing waar te neem. Die polisie in Zimbabwe het egter vroeër bevestig dat die MDC se verkiesings-organiseerder in hegtenis geneem is.

Dit volg nadat hy aangemeld het dat hy gemerkte stembriewe in ‘n asblik gekry het na vroeë stemmery.

Dlamini-Zuma sê die enigste kwessies wat by haar geopper is, is operasionale en logistieke bekommernisse.

Die organisasie Human Rights Watch betwyfel egter of die verkiesing geloofwaardig gaan wees. Die groep se Suid-Afrikaans direkteur, Tiseke Kasambala sê hulle is bekommerd oor die hoogs partydige aard van veiligheidsmagte in Zimbabwe en hulle vermoë om kiesers te intimideer.

Kasambala sê daar is al ‘n aantal voorbeelde van opruiende uitsprake deur die hoofde van veiligheidsmagte in die aanloop tot die verkiesing.

President Zuma is as bemiddellaar in die verkiesing aangewys.

Adjunkpresident Kgalema Motlanthe sê Suid-Afrika is vasbeslote dat aanstaande week se verkiesing in Zimbabwe ‘n regverdige weerspieëling van die wense van dié land se mense sal wees.

Duisende vlugtelinge het na Suid-Afrika gevlug na die geweld in die 2008-verkiesing wat ‘n duur humanitêre krisis vir die land geskep het. Sedert die eenheidsregering op die been gebring is, het die ekonomie begin herstel.

Voorbereidings vir die verkiesing het tot dusver nie glad verloop nie, terwyl die MDC beweer dat Zanu PF probeer om dit vir kiesers moeilik maak om te registreer.

Motlanthe het in ‘n onderhoud met Reuters gesê politieke bestendigheid is ‘n voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling en Suid-Afrika het ‘n gevestigde belang om te verseker dat daar vrede en bestendigheid in Zimbabwe is. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.