Kaapse stadsraad vereer slawehandelaar ten koste van eerbare Afrikaner

Deel op
Die sirkel wat die Kaapse stadsraad na Coen Steytler wil vernoem
Die sirkel wat die Kaapse stadsraad na Coen Steytler wil vernoem

Verdien Coen Steytler, Vader van die Poort van Afrika, om met Bartolomeu Dias, Vader van die transatlantiese Slawebedryf, geassosieer te word? Marthinus van Bart skryf soos volg.

Die Kaapse stadsraad het met sy onlangse naamsverandering van Coen Steytler-rylaan in Roggebaai na Walter Sisulu Boulevard, ter ere van dié ANC-struggleheld, in sy onsensitiwiteit en onkunde vir homself ’n gat gegrawe waaruit hy nou met ’n kitsoplossing kortpad wil ontsnap. En gegee die totale apatie van die meeste Afrikaanse Kapenaars gaan hy dit waarskynlik nog regkry ook.

Die stadsraad het onlangs erken die naamsverandering ’n fout was, want hy het skielik uitgevind dat Coen Steytler die Vader van die Poort Van Afrika, die Roggebaaise Strandgebied, was.

Die nuutste foefie van die DA-alliansie onder leiding van die oud-PAC Struggle-cadre, burgemeester Patricia de Lille, om aan hierdie dilemma te ontkom, is om die Dias-sirkel aan die noordekant van die Heerengracht nou te wil verander na Coen Steytler-sirkel. Dit is per slot van rekening tog maar net nog ‘n Afrikaner wat sonder enige gevolge rondgeskuif kan word.

Soos met die straatnaamsverandering het die stadsraad se raadgewers weer eens nie hul huiswerk gedoen nie: Die Bartolomeu Dias-standbeeld, in 1952 deur die Portugese regering aan Suid-Afrika geskenk ter ere van die Europese seevaarder wat in 1487-’88 die seeroete om die suidpunt van Afrika na die Verre-Ooste ontdek het, is nie in isolasie op die sirkel geplaas nie. Die geplaveide sirkel-omgewing, beddings, plantegroei en vlagpale vorm alles deel van een behoorlik beplande Dias-monument. En in die amptelike dokumente van die Stad Kaapstad word dan ook geel tereg verwys na Dias-sirkel.

Wat die stadsraad se raadgewers ook nie weet nie, is dat Bartolomeus Dias (1450-1500) mede-oprigter was van die eerste slawe-depot of faktory aan die weskus van Afrika. Hy en Diogo de Azambuja is in 1481 deur prins Hendrik van Portugal afgevaardig om die Feitoria São Jorge da Mina by El Mina (Arabies vir “Die Hawe”) aan die Goudkus (nou Ghana) te bou.

Die doel van hierdie stewige vesting, waarvoor al die boumateriaal van Portugal in tien karvele en twee vragskepe aangebring is, was om slawe wat van die binneland verkry is, gevange te hou totdat daar genoeg siele versamel was om hulle as kostedoeltreffende vragte in spesiaal ingerigte slaweskepe na slawemarkte elders weg te voer.

Die Afrikane wat gevang en in slawerny ingedwing is, is Swart Ivoor genoem. Meer as 12,5 miljoen Afrikane is oor die 400 jaar dat die slawebedryf geduur het, in slawerny weggevoer en as kommoditeite teen enorme winste verkoop. So groot was die bedryf, dat dit die stukrag en kapitaal verleen het om die ganse nywerheidsomwenteling van Brittanje, Europa en die Amerikas aan die gang te kry en oor vier eeue te laat vlot. Dias was een van die pioniers van hierdie skandalige slawebedryf.

Nou wil die Stad Kaapstad die naam van ’n eerbare Afrikaner en vader van die Poort van Afrika, Coen Steytler, wesenlik koppel aan dié van die Vader van die transatlantiese Slawehandel – as erkenning vir Steytler se bydrae tot die ontwikkeling van Kaapstad.

Bartolomeu Dias was nie net oprigter van die Feitoria São Jorge da Mina (Faktory St. Joris van Mina) nie, maar inderdaad van 1497 af drie jaar lank die kommandeur daarvan. Voorheen was hy vanaf 1486 doeane-hoof van die koninklike pakhuise in Lassabon.

Dias en Azambuja het die terrein vir die oprigting van die faktory goed gekies. Dit was by die monding van die Ankobrarivier, waar skepe van tot 300 ton voor anker kon lê om maklik ruilmiddels, soos tekstielware, ysterware, wapens en ammunisie en sterk drank, aan land te bring, en om die slawe in die skeepsruime in te dwing. Ook het hulle ’n groot opgaartenk vir vars water van bakstene gebou, ’n pypleiding daarvoor tot by die strand aangelê en ’n pad na die goudmyn in die Akan-woud gebou waar goudstof ontgin is. Waar die goud aanvanklik ’n groot attraksie vir die Portugese was, het die groter beskikbaarheid van Swart Ivoor dit gou oorskadu.

Die argitektoniese boustyl van die fort was in ooreenstemming met die indertydse Italiaanse vestingboukuns. Die hoektorings en bastionne was van soliede klip om kanonaanvalle deur vyandige skepe te weerstaan. Die barakke kon ’n garnisoen van 50 soldate huisves. Ook is kwartiere vir die kommandeur en die opperkoopman (faktor) geskep en ’n kombuis, smidswinkel en skrynwerkerswinkel gebou. En dan was daar die groot tronk vir die slawe. Die vesting bestaan nog, en El Mina is vandag ’n Unesco-verklaarde wêrelderfenisterrein.

In 1500 is Dias deur Hendrik se opvolger Joao II gelas om saam met sy broer, Diogis Dias, en Pedro Alvares Cabral ’n vloot van 11 skepe na Indië te lei. Op 24 Mei het ’n sikloon die vloot noord van die eiland Tristan da Cunha getref en vier skepe, waaronder Dias s’n, het onder die woeste golwe verdwyn.

  •  Lesers wat meer oor die transatlantiese slawebedryf te wete wil kom, kan my boek, Kaap van Slawe: Die Britse slawebedryf van 1562 tot 1910, raadpleeg. Rig navrae oor die boek aan erfenis@dieburger.com of 021 406 2823.
  • Lesers wat beswaar wil maak teen die naamsverandering het nog net tot Woensdag 31 Julie tyd. Rig besware aan die Kaapse Stadsraad per e-pos: naming@capetown.gov.za of Frederick.venter@capetown.gov.za of  tel 021 400 1768 of tel 021 400 1652.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.