Simpatie vir Spaanse treinslagoffers maar nie vir vermoorde boere

Deel op

roodt_fbfotodeur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Roodt se Facebook-blad

Vandeesweek het daar ‘n treinramp in Spanje plaasgevind waarin 80 mense omgekom het, een en almal blanke Spanjaarde. Nietemin het “president Jacob Zuma sy meegevoel… met Spanje se eerste minister Mariano Rajoy betuig”.

Sekerlik voel ons almal spyt oor die Spaanse treinramp wat wêreldwyd met skok en afgryse begroet is. Die volgende vraag ontstaan egter: Waarom spreek die Suid-Afrikaanse regering sy meegevoel oor tientalle Spaanse vreemdelinge uit, maar reageer nie wanneer honderde en selfs duisende Afrikanerboere gruwelik vermoor word nie? Immers word daar jaarliks meer boere op plase in Suid-Afrika vermoor as wat daar so pas mense in die treinongeluk naby Santiago de Compostelo die lewe gelaat het.

Ons is geneig om aan die ANC-bewind as gewetenlose terroriste te dink wat nie huiwer om onskuldige burgerlikes dood te maak om hul politieke doelwitte te bereik nie. Dog die verklaring oor die Spaanse treinongeluk toon dat hulle nie heeltemal so gevoelloos teenoor menslike lyding staan nie.

Die ANC-bewind is nie die enigste wat afsydig teenoor plaasmoordslagoffers optree nie. Ook die Suid-Afrikaanse media steur hulle nie daaraan nie. Koos Bekker van Naspers voel ‘n veer vir boere wat vermoor word en sy spul joernalistieke sikofante wat elke dag hul Madiba aanbid, nog minder.

Omdat die Suid-Afrikaanse media plaasmoorde as onbelangrik beskou, redeneer die buitelandse media insgelyks dat Afrikaners wat sterf geen emosie gaande maak nie. ‘n Plaasmoord is nie nuus nie. Soos vele mense al opgemerk het, is die media en ons sogenaamde “regering” meer begaan oor die lot van die renoster as oor dié van die Afrikanerboer. Daar word krokodiltrane gehuil oor elke nuwe renoster wat gestroop word, terwyl slagoffers van plaasmoorde wat doodgemartel word byna geen reaksie ontlok nie. Daar is eerder empatie met die daders, die moordenaars.

Hoe moet ons dié teenstrydigheid verklaar? Is ‘n Afrikanerlewe dan minder werd as dié van ‘n Spaanse treinpassasier of selfs van dié van ‘n renoster? Ek het nog nie gehoor dat die HSM (hoofstroommedia) ‘n onderskeid tussen die wit en die swart renoster tref nie, maas beslis heg hulle minder waarde aan die lewe van ‘n wit as ‘n swart mens.

Toegegee, die handel in bedreigde spesies verteenwoordig miljarde rande en daarom is renosters ook kommoditeite.

Politici is almal mediaslawe want hulle is begaan oor hul openbare aansien, gewildheid, beeld en sogenaamde “handelsmerk”. Terwyl die internasionale media oor Santiago de Compostelo berig, klink dit goed om ‘n verklaring daaroor uit te reik. Of ander buitelandse regerings reik verklarings daaroor uit en daarom voel Jacob Zuma genoop om dieselfde te doen. Waarskynlik het hy nie self die verklaring opgestel nie, maar is dit deur een of ander amptenaar van buitelandse sake gedoen.

Ongelukkig gaan dit dus alles oor die skyn van simpatie met ander. Die ANC, maar ook Naspers, RSG en die ander gedienstige speelgoedhondjies wat hulself koerante en radiostasies noem, trap oor die lyke van ons boere en gee net voor om oor die Spanjaarde begaan te wees.

Suid-Afrika het ‘n amorele land geword waar alles, selfs moord en verkragting, eintlik aanvaarbaar is. Die Romeins-Hollandse reg wat dit verbied, is net nog ‘n oorblyfsel van apartheid wat seker lankal afgeskaf sou gewees het as die regslui – regters, advokate en prokureurs – nie so lekker geld in die howe kon maak nie. Senior advokate verdien blykbaar R40 000 per dag en tot R750 000 per maand. Suiwer om daardie rede word die skyn van ‘n “regstaat” steeds gehandhaaf.

‘n Mens sou hierdie stelsel seker ‘n vorm van uitgebreide prostitusie kon noem, maar daardeur mag die prostitute beledig voel. Want die prostituut lewer nog ‘n diens aan haar of sy kliënt, terwyl die staat feitlik geen diens aan ons lewer nie. Hy vat net jou geld en in ruil daarvoor laat hy sy misdadigers soos ‘n trop wildehonde op jou los.

Alle kommunistiese stelsels in die twintigste eeu het hul bevolkings verontmenslik. Die keersy van marxistiese idealisme oor gelykheid is volksmoord. In die naam van gelykheid is al meer mense doodgemaak as wat daar onder die vaandel van die Katolisisme, die Protestantisme of selfs Islam uitgewis is. En amorele Suid-Afrika beskik oor slegs twee beginsels wat, afgesien van die persoonlikheidskultus rondom Mandela, nog enige gewig dra: gelykheid en “rassisme”. Dis nie om dowe neute dat Tutu se nuwe veldtog “free and equal” heet nie. Volgens die radikale geestelike aanbid hy geen “homofobiese God” nie, maar blykbaar aanbid hy ‘n rassistiese god want oor moorde op blanke boere is hy ook tjoepstil.

Nou die dag het ek in Beeld ‘n artikel oor radikale grondhervorming deur die Britse marxis, prof. Ruth Hall van die Universiteit van Wes-Kaapland, teëgekom wat my nogal geskok het. Ek is nie deur die artikel self geskok nie, want ek verstaan die marxistiese denke en hoe mense soos diere tot gelykheid gekondisioneer moet word. Maar ek het nie besef dat Naspers al so ver heen is dat ‘n koerant soos Beeld as spreekbuis vir onverdunde kommunisme wil optree nie.

Dis die propaganda van Ruth Hall en ander radikales wat ten dele die massaslagting op boere aanhits. Sy is die wit gesig van Malema se jongste oproep om grondgryp.

Die gevaar is dat Afrikaners hul eie verontmensliking gaan aanvaar. Dat ons naderhand net soos die ANC of Naspers of die linksliberale buitelandse korrespondente in Johannesburg gaan raak. Dat elke hoesie of hospitaalbesoek aan Mandela as belangriker as menselewens, veral Afrikanerlewens, geag sal word.

Dis altyd makliker om saam met die stroom te swem as daarteen. ‘n Mens kan jou oorgee aan die amptelike gevoelloosheid, die ingeburgerde psigopatie van die nuwe Suid-Afrika, en maak asof jy niks raaksien nie. Pleks van ‘n snaakse spul letters in ‘n uitgestorwe Boesmantaal, behoort die leuse van dié land te gewees het: “Dit traak my nie.” Dis ‘n baie maklike en selfs verleidelike filosofie om na te volg. Jy plaas eenvoudig jouself in die sentrum van jou bestaan en miskien tweede jou gesin. Verder maak niks anders saak nie. Daar bestaan mos so ‘n liedjie van die ewe polities korrekte sangeres, Karen Zoid, wat lui:

My geld is klaar
En die rand is laag
En AIDS is ‘n virus
AIDS is ‘n plaag

En dit maak nie, dit maak nie regtig saak nie
Jy’s lief vir die party
En lief vir die jol
Maar die kerk is leeg
En die tronke vol

En dit maak nie, maak nie regtig saak nie
Dit maak nie regtig saak nie

Die katte miaau
En die honde blaf
En die kinders
Brand hulle skole af

Dit maak nie, maak nie regtig saak nie

Ek sou hiervan wou verskil, al weet ek dit bring my in konflik met die heersende ideologie van apatie en traak-my-nie-agtigheid. Elke ding maak vir my saak: van korrekte Afrikaanse spelling tot gister se plaasmoord.

Aanvalle op boere en stedelinge moet ophou! Ons mag nie maar eenvoudig deur die volksmoordpropaganda – dat ons eintlik verdien om doodgemaak te word – meegesleur word nie. Ons moet niks meer aanvaar nie, nie die slaggat in die pad nie, maar ook nie die moord op Willemientjie Potgieter nie! Ek onthou hoe ek en my vrou al die pad Lindley toe in die Vrystaat gery het om daar voor die hof in die reën onder ‘n sambreel te gaan betoog. Dit was die tweede hofverskyning van die Potgietergesin se moordenaars en teen daardie tyd het die belangstelling afgeneem. Daarom was daar net ses of sewe mense buite die plattelandse hofgeboutjie. Maar daardie klein betoginkie, daardie spore van weerstand, het saak gemaak.

Elke gebaar, elke woord in hierdie stryd teen traak-my-nie-agtigheid tel!

Solank óns besluit dat plaasmoorde vir ons onvaarbaar is, al sê die ANC en NBC en die BBC en die SABC en alle ander C’s nou ook wat, is daar hoop. Eens op ‘n stadium het die Berlynse muur, daardie “antifascistiese skandmuur” soos die kommuniste trots daarna verwys het, ook sterk gelyk. Gewone mense wat eenvoudig keelvol geraak het, het dit egter in 1989 afgebreek.

Ons kan die muur wat ons in die gesig staar, ook afbreek. Ons moet net wíl.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Roodt se Facebook-blad

 

 

 

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.