Naspers, universiteite en Afrikaans

Deel op
Die hoof van Naspers, Koos Bekker
Die hoof van Naspers, Koos Bekker

deur Leon Lemmer

Twee berigte oor nuwe universiteite het onlangs in Die Burger verskyn. Op 16 deser is berig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sy akademie in die Paarl met ingang 2014 in ‘n universiteit gaan omskep. Grade van baccalaureus tot doktor sal daar verwerf kan word. In veral die VSA is daar groot sake-ondernemings wat hulle eie akademiesoortige opleiding doen omdat universitêre programme nie aan hulle spesifieke vereistes voldoen nie. Die SAPD is egter een van die onwaarskynlikste instansies plaaslik, eintlik wêreldwyd, wat so ‘n onderneming suksesvol kan bedryf.

Die SAPD se interne afrigting van polisiebeamptes was in die ou Suid-Afrika uitstekend. Daar is toe van kandidate vereis om bv behoorlik geletterd en in redelike mate tweetalig (Afrikaans en Engels) te wees. Die rekrute is geleer om te swem, perd te ry en moes ook ‘n bekwaamheidstoets in voertuigbestuur (bv vir motors en motorfietse) slaag. Omdat die keuring van kandidate vir die polisiediens deesdae ooreenkomstig die ANC se demografies-rassistiese en seksistiese beginsels geskied, is die vereistes wat aan rekrute gestel word, drasties afgewater. Baie polisiebeamptes kan of wil nie Afrikaans praat en skryf nie en ‘n groot persentasie van hulle kan nie wettig ‘n voertuig bestuur nie.

Al is die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) akademies nie meer naasteby wat dit eens was nie, is dit steeds vir enige polisiebeampte wat oor die nodige vermoëns en toewyding beskik moontlik om daar toepaslike grade van baccalaureus tot doktor te verwerf. Daar is myns insiens feitlik geen moontlikheid dat die voorgestelde polisie-universiteit akademies respektabele standaarde kan handhaaf nie. Daar word beweer dat gesprekke met ‘n “beroemde” universiteit [dalk die beruggeworde Universiteit Stellenbosch (US)] gevoer word in ‘n poging om die akademiese aansien van die onderneming in die Paarl ‘n hupstoot te gee.

Die moontlikheid van US-betrokkenheid word nie net deur sy geografiese nabyheid versterk nie, maar ook omdat die Botman-US graag die ANC in alles ter wille is. Dit is waarom die US steeds die akademiese gehalte van die grade van die Militêre Akademie op Saldanha onderskryf. Dít terwyl sowel die gehalte van die onderrig as dié van die studente kommerwekkend is. Dalk word die kloutjie by die oor gebring met die opmerking van die SAPD-woordvoerder, Zweli Mnisi, dat die Militêre Akademie as model vir die voorgestelde polisie-universiteit gaan dien. Dit is om van te ween.

‘n Voor die hand liggende voordeel wat ‘n polisie-universiteit vir politici en linkse aktiviste gaan hê, is dat dit nog ‘n instansie daarstel wat akademies waardelose ere-doktorsgrade aan dese en gene kan uitdeel. Dit sal sorg dat daar in ons jong demokrasie pleitbesorgers vir ons eie polisie-universiteit sal wees, al is hierdie instansie akademies pateties.

Daar is ook ‘n berig oor die nuwe universiteite te Kimberley en Nelspruit, wat met ingang 2014 met onderrig begin (Die Burger, 26 deser). Eersgenoemde gaan die Sol Plaatje-universiteit en die ander een die Universiteit van Mpumalanga heet. Die ANC was so gretig om Plaatje ten koste van die goeie naam van die universiteit te vereer dat nie eens toestemming van Plaatje se familie verkry is nie (Die Burger, 27 deser). Die Plaatje-naam dui daarop dat hierdie inrigtings gestig word om ANC-waardes te vergestalt. Dit blyk ook duidelik uit die name van die raadslede. In die geval van albei universiteitsrade is net een of twee van die benoemdes nie-swart. In die Suid-Afrika van weleer, was dit hoofsaaklik Afrikaners wat hulle in die onderwys, hetsy universiteit of skool, onderskei het. Deesdae word hulle by voorkeur uitgesluit.

In die goeie ou dae was daar vyf Afrikaanse universiteite, naamlik te Bloemfontein, Johannesburg, Potchefstroom, Pretoria en Stellenbosch. Al vyf het sedertdien in groot mate hulle Afrikaanse karakter ingeboet. Die Militêre Akademie is deur die ANC-regering en met die hartlike samewerking van die US tot ‘n Engelse instansie getransformeer. Weens demografie-gebasseerde rassediskriminasie sal die studente aan die polisie-universiteit, soos aan die Militêre Akademie, minstens 80% swart wees. Dit beteken ingevolge ANC-mentaliteit dat die onderrigtaal in die Paarl ook Engels sal wees. Die Burger rep geen woord hieroor nie. Dít terwyl die SAPD in sy doeltreffende era oorwegend Afrikaans was. Daar word sonder meer aanvaar dat Afrikaans weens ANC-ideologie in Saldanha en in die Paarl (die bakermat van die Genootskap van Regte Afrikaners en dus Afrikaans) nie tot sy reg hoef kom nie.

Sedert dit bekend geword het dat ‘n nuwe universiteit in die Noord-Kaap en nog een in Mpumalanga beoog word, het ek talle kere aan Naspers-koerante geskryf en gevra dat hulle ‘n veldtog voer om te verseker dat hierdie twee universiteite Afrikaans sou wees. Nie ‘n enkele van my skrywes is gepubliseer nie. In geen Naspers- of ander publikasie het ek ‘n pleidooi gesien vir onderrig in die medium van Afrikaans aan hierdie universiteite nie. Erger, Afrikaans het, sover ek weet, in hierdie konteks nooit eens ter sprake gekom nie. Blykbaar word sonder meer aanvaar dat hierdie universiteite eentalig Engels gaan wees. Dít terwyl die Noord-Kaap oorwegend Afrikaans is en daar in Mpumalanga ‘n sterk Afrikaanse teenwoordigheid is.

‘n Mens sou dink dat Naspers se Afrikaanse publikasies vir Afrikaans in die bres sou tree, al sou dit dan bloot deur voor die hand liggende eie belang gemotiveer word. Pleks daarvan word die een Afrikaanse boek na die ander met onnodige Engelse woorde in die titel en in die teks gepubliseer. By die koerante maak ‘n mens tevergeefs teen vrot Afrikaans beswaar. Joernaliste hou aan om te skryf van “stappe neem”, “siekfonds”, “soomloos”, “lektor” wanneer “dosent” bedoel word, ens. Afrikaans is nie meer vir Naspers en ander politiek-korrekte meelopers erns nie. Om finansiële gewin word daar in die koerant Son in uitgawe na uitgawe die allerbedenklikste “Afrikaans” gepubliseer. Sodanige mengeltaal, wat ‘n bespotting van Afrikaans maak, word egter deur die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), Michael le Cordeur, gepropageer pleks daarvan dat hy en die ATR die heil van Standaardafrikaans bevorder.

By Naspers loop die kanker veel dieper as bloot die sug na politieke korrektheid. Daar word dikwels agteroor na die ANC gebuig, soos pas tydens die verjaardag van Nelson Mandela, wat sonder skroom as ‘n volmaakte mens voorgehou is. In Die Burger word uitvoerig oor die jaarlikse herdenking van die bomontploffing in 1996 te Worcester berig omdat dit die werk van wittes was. Die groot menseregte-aktivis, Leon Wessels, daag graag by daardie geleenthede op en lees die leviete oor versoening voor. In daardie konteks word die verwyte uiteraard veral aan die wittes gerig.

In die Worcesterse ontploffing is 4 mense dood. Daar was ander terreurdade wat egter min publisiteit kry omdat hulle deur die ANC en PAC gepleeg is, bv Kerkstraat, Pretoria (1983, 19 mense dood), Amanzimtoti-winkelsentrum (1985, 5 dood) en Helderberg Taverne, Observatory (1993, 4 dood). In die St James Kerkslagting, Kenilworth, is 11 mense in 1993 gedood. Na verloop van 20 jaar is hierdie gebeurtenis op 25 deser gedenk. Terwyl dit nodig geag word om die Worcester-ontploffing jaarliks te gedenk, word die ander vier terreurdade hoogstens elke dekade in herinnering geroep en dan kry dit weinig, indien enige, publisiteit.

Die rede hierrvoor is dat wittes vir die gebeure in Worcester verantwoordelik is, terwyl die vier ander terreurdade, twee elk, deur die ANC en PAC gepleeg is. Anders as in die geval van Worcester, is nie ‘n woord in Die Burger oor die herdenking op 25 deser van die St James-slagting gerep nie. Ek wonder steeds of die PAC-lid en burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, die verrigtinge bygewoon het. Nog ‘n opvallende verskil is dat die wittes wat die Worcester-bom geplant het in die tronk sit, terwyl diegene wat die genoemde ander terreurdade gepleeg het deur Desmond Tutu se WVK van alle blaam onthef is.

Naspers se simpatie met die ANC het begin nadat FW de Klerk in 1990 ANC-bedrywighede wettig verklaar het. Daar is blykbaar destyds deur die Naspers-redakteurs ooreengekom om De Klerk se magsdelingsinisiatiewe sonder meer te ondersteun en dit aan hulle lesers op te dring; ook nadat dit geblyk het dat De Klerk se magsdeling in werklikheid algehele oorgawe aan swartmag is. Daar is so baie mense wat daarop aanspraak maak dat hulle gehelp het om die nuwe Suid-Afrika tot stand te bring. Hierdie redakteurs kan deel in daardie roem. Mense soos Ton Vosloo, Tim du Plessis en Hennie van Deventer was seker deel van hierdie sameswering. Waarom klink daar nie stemme uit Melkbos en elders op om ons te vertel van die bedrywighede en toekomsvisie van hierdie uitgelese groepie joernaliste nie? Klop hulle hulleself en mekaar steeds op die skouer, of is hulle ontgogel en wil hulle daarom liewer om verskoning vra en om vergiffenis pleit?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.