Geweld in Egipte dreig om te verhewig

Deel op

egyptunrestDie VN Sekretaris-Generaal Ban Ki Moon het ‘n beroep op die Egiptiese weermag gedoen om die afgesette president Mohammed Morsi en ander leiers van die Moslem Broederskap vry te laat.

Ban het die oproep gedoen terwyl teenstanders en ondersteuners van Morsi gereed maak om landwye massa-betogings te hou.

Westerse leiers hou die krisis in Egipte met toenemende kommer dop met ‘n hewige konfrontasie wat tussen die twee strydende groepe dreig, nadat die hoof van die weermag, genl. Sisi belowe het om die ‘terroriste” te vernietig.

Hulle vrees dat die weermag se belofte dat die land binnekort na ‘n demokrasie sal terugkeer, niks minder as ‘n rookskerm is om ‘n langdurige magsoorname te verdoesel nie.

‘n Senior Egiptiese weermag-amptenaar het intussen die Palestynse groep Hamas in Gaza daarvan beskuldig dat hulle wapens aan militante groepe verskaf.

Generaal Osama Aschar sê 19 vuurpyle wat in die Suez-gebied gevind is, is dieselfde soort as wat deur Hamas se militêre vleuel, die Izz al-Din al-Quassam brigades, gebruik word.

Die Egiptiese weermag het reeds tientalle tonnels vernietig wat die Sinai-skiereiland met Gaza verbind.

Die tussentydse leiers het ‘n plan vir ‘n nuwe grondwet in die aanloop tot ‘n verkiesing voorgelê, maar twyfel bestaan of hulle dié onderneming gestand sal doen.

‘n Bom het vroeër buite ‘n polisiestasie in die stad Mansoura in Egipte se Nyldelta ontplof. Regeringsamptenare sê minstens 17 mense is beseer, wat polisiebeamptes en burgerlikes insluit.

Volgens berigte is een persoon in die ontploffing dood.

Botsings het Maandag tussen ondersteuners en teenstanders van die afgesette president uitgebreek. Dertien mense is dood en tientalle beseer.

Morsi se familie het hulle daartoe verbind om die weermag weens die staatsgreep te dagvaar.

President Barack Obama van Amerika die aflewering van vier F16 vegvliegtuie aan Egipte vir eers gekanselleer in die lig van die onrussituasie, nadat vyftien Palestyne dood is in ‘n vuurpylaanval op ‘n vlugtelingkamp in suid-Damaskus in Sirië.

Die slagoffers was meestal vroue en kinders. Die vlugtelingkamp onder rebelle-beheer is deur die Siriese veiligheidsmagte van President Bashar Assad aangeval.

‘n Woordvoerder van die Pentagon, George Little, sê dit sal in die huidige omstandighede in Egipte nie die korrekte ding wees om te doen om wapentuig te lewer nie.

Egipte se openbare staatsaanklaer het vroeër opdrag gegee dat die leier van die Moslem Broederskap, Mohamed Badie, en agt senior lede van dié beweging in hegtenis geneem word weens bewerings van die aanhitsing van geweld.

Badie is sedert President Mohammed Morsi se bewind op 3 Julie omvergewerp is deur die Weermag, minstens een keer vir ondervraging aangekeer en later weer vrygelaat.- RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.