Vrou moet erge padwoede trotseer

Deel op

padwoede’n Vrou was onlangs die slagoffer van erge padwoede toe ’n onbekende man haar aangerand en onwelvoeglike woorde op haar motor geskryf het.

Die 48-jarige Zetha Jungbluth van Rietfontein is deur ’n man in ’n parkeerterrein van ’n winkelsentrum in Gezina aangeval nadat sy glo eenkeer vir hom toeter gedruk het om vorentoe te ry.

“Ek het in die parkeerterrein van die winkelsentrum ingery, maar het ’n opeenhoping veroorsaak toe die agterkant van my motor half in die aankomende baan gestaan het.

Daar was ’n motor wat wou uitry en ek het om hom probeer ry. Ek het agter ’n wit Volkswagen Polo gaan staan, maar my motor was nog steeds half in die pad gewees,” het Jungbluth gesê.

Sy het gesê motoriste het van voor af gekom, maar kon haar nie verbysteek nie omdat sy in die pad gestaan het. Dit het voorgekom asof die man in die wit Polo vir iemand gewag het en nie vir parkering gesoek het nie.

“Ek kon nie agtertoe ry nie omdat daar twee motors agter my gestaan het. Die vrou in die aankomende baan het haar venster afgerol en vir die man beduie dat hy net ’n bietjie vorentoe moet ry sodat ek my motor ten volle in die baan kan kry. Die man het iets vir haar gesê, haar oë het groot gerek en sy het haar venster toegemaak.”

Jungbluth het toe ook vir hom toeter gedruk waarna die man in ’n parkeerspasie ingetrek het. Sy het parkering naby die man gekry en uit haar motor geklim om die winkel binne te gaan.

Toe sy verby sy motor loop het hy die deur teen haar lyf oopgegooi wat veroorsaak het dat sy gestruikel en geval het. Die onbekende man het uit sy motor gespring, haar aan die arm opgepluk en onwelvoeglike woorde gebruik toe hy op haar geskree het.

“Ek het my arm losgeruk, vir hom gesê hy is ’n vark en gemaak dat ek wegkom. Ek was histeries. Terwyl ek weggeloop het, het hy net aanhou skree. Ek was seker die man gaan my met ’n vuis slaan, maar ek het nie geloop voordat ek ’n foto van hom met my selfoon geneem het nie.”

Toe sy na haar motor terugkeer, het sy gemerk die onbekende man het onwelvoeglike woorde met ’n permanente merker op haar voertuig geskryf. Die motorwag het bevestig dat dieselfde man is wat op haar geskree het. “Ek het daarna my motor laat skoon was.”

Dr Pixie du Toit van die Sinoville-krissisentrum het gesê dat die meeste Suid-Afrikaners aan onderliggende woede ly en dat enigiets woede kan aanhits.

Sy het gesê padwoede is ’n algemene probleem onder motoriste en dit is besig om toe te neem. Sy maan motoriste om nie by konfrontasies betrokke te raak nie en eerder net van dit af moet wegstap.

“Indien nodig vat die persoon se registrasienommer en gaan meld die persoon by die polisie aan. Moet onder geen omstandighede uit jou voertuig klim om die persoon te konfronteer nie omdat jy nie weet of die persoon ’n wapen in sy voertuig het nie.”

Sy het gesê indien ’n motoris aan padwoede ly kan dit onder beheer gebring word. Sy het gesê berading kan ’n persoon hanteringsmeganismes leer wat waardevol op die pad kan wees.

“Enigiets kan padwoede opwek, so wees voorbereid. Luister na rustige musiek en ry ’n paar minute vroeër om betyds te wees. Dit sal help om padwoede te help ontlont,” het Du Toit gesê. – looklocal.co.za

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.