NUM, Solidariteit waarsku dat goudstaking dreig

Deel op
Du Plessis en Baleni
Du Plessis en Baleni

‘n Verlammende staking dreig in die goudmynbedryf nadat salarissamesprekings tussen die vakbonde Solidariteit, die NUM en UASA in Johannesburg misluk het.

Goudprodusente het ‘n salarisverhoging van vyf persent aangebied, na ‘n aanvanklike aanbod van vier persent. Dit het daartoe gelei dat die drie vakbonde hulle aan die onderhandelings onttrek het.

Die hoofsekretaris van die NUM, Frans Baleni, sê die gaping tussen die salarisaanbod en wat vakbonde vra is baie groot en indien ‘n oplossing nie gevind kan word nie, sal die alternatief ‘n staking wees

Die hoofsekretaris van Solidariteit, Gideon du Plessis, het vroeër gesê daar word nie ernstig onderhandel nie. Hy sê hulle kry die indruk dat hoewel die Kamer van Mynwese se onderhandelaars in goeder trou optree, hulle aan bande gelê word deur sommige van die mynhuise se bestuurshoofde.

Du Plessis sê die enigste uitweg is om ‘n dispuut te verklaar. Die proses sal nou deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) oor die volgende 30 dae hanteer word.

Terwyl die KVBA se betrokkenheid nie ongewoon is in die goudsektor se loongesprekke nie, is die tydsberekening ongewoon, het die myne se hoofonderhandelaar Elize Strydom gesê.

Die betrokkenheid van die KVBA is geen waarborg daar sal nie ‘n staking sal wees nie. Gesprekke in 2011 onder beskerming van die KVBA het ‘n dooie punt bereik, wat tot ‘n vier-dag-staking gelei het, die eerste in twee dekades.

Die NUM en Solidariteit het besluit om ‘n dispuut te verklaar om die saak te dwing sê Solidariteit se hoofsekretaris Gideon du Plessis.

Die NUM wil ‘n 60%-verhoging vir intreevlakwerkers se lone en 15% vir ander werknemers hê.

Die Vereniging van Mynwerkers en Konstruksie Unie (Amcu) het gevra vir ‘n 150%-verhoging vir intreevlak-werkers ondergronds. UASA en Solidariteit wil 18% en 10% onderskeidelik hê.

Nie een van die vakbonde wou hul eise Woensdag aanpas nie.

Werkers by die Transhex diamantmyn op Alexanderbaai in die Noord-Kaap staak nou reeds bykans ‘n week lank.

Die werkers eis ‘n 13 persent loonverhoging, terwyl die mynbestuur agt-persent aanbied. ‘n Woordvoerder van die NUM, Abubakah Frederick, sê hulle het hulle eise afgeskaal. – RSG

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.