Heli’s, Gripens nuttelose, duur hardeware

Deel op
Duur skroot?
Duur skroot?

Nie een van die lugmag se 18 Agusta A109-helikopters vlieg nie meer nie, want daar is nie geld om hulle operasioneel te gebruik nie, het Beeld Woensdag berig.

Daar is net genoeg geld sodat hulle af en toe aangeskakel kan word, maar hulle styg nooit op nie.

Die gevolg is dat vlieëniers en die helikopters hul bevoegdheid sowel as nut gaan prysgee.

Tesame met die lugmag se 26 Gripen-vegvliegtuie, wat byna ongebruik staan, beteken dit dat ’n tweede groep vliegtuie wat aangekoop is ingevolge die multimiljardrand-wapentransaksies ’n paar jaar gelede, nou in onbruik verval het.

Die situasie lyk beroerd, soos dit uit onlangse vertroulike inligting oor die stand van helikopteroperasies in die lugmag blyk.

Dit geld ook nie net die A109’s nie, maar ál die helikopteroperasies wat weens ’n begroting-snit van 60% veroorsaak dat daar landwyd gedeeltes van die lugmag “geamputeer” moet word, het een senior offisier aan Beeld gesê.

Helmoed-Römer Heitman, militêre kenner, het in reaksie gesê die lugmag – soos die hele weermag – ly onder die regering se besluiteloosheid oor wat van die weermag verwag word.

“’n Lugmag sonder vegvliegtuie is ’n dead duck in Afrika se militêre konteks. ’n Weermag sonder helikopters en transportvliegtuie is ’n dinosourus in ’n moeras. ’n Leër sonder aanvalshelikopters en taktiese transporthelikopters is ’n lame duck. ’n Vloot sonder skeepshelikopters en maritieme patrollievliegtuie is blind,” het Heitman ontstoke gesê.

Volgens die koerant het die weermag nie op versoeke vir kommentaar gereageer nie.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) weier om kommentaar te lewer oor bewerings dat sy 18 Agusta A109-helikopters weens ‘n geldtekort nie vlieg nie.

“My kommentaar is baie duidelik: ons bespreek nie operasionele aangeleenthede nie en [die verdedigingsmag se] toestand van gereedheid nie,” het die woordvoerder Siphiwe Dlamini gesê. – Sapa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.