Rooibos en Kilimanjaro

Deel op

In Nairobi kan mens rooibostee bestel en onderweg daarheen vlieg ons vriendelike loods laag oor Kilimanjaro. Ek neem ‘n foto, sommer met my selfoon:

 Image

Ek is nie so gaande oor vlieg nie; ek vind dit onnatuurlik om so hoog bokant die aarde te hang al is die uitsig mooi. Iewers in ‘n andersins vergeetlike Britse roman deur Martin Amis, The Information, verskyn daar ‘n beskrywing van ‘n klein vliegtuigie wat slegte weer trotseer. As die vlieënier land, bestel hy ‘n sg. “voidance apron” wat min of meer beteken dat hy homself bevuil het en dus spesiale aandag benodig. Ons vlugte heen en weer Nairobi is darem nie heeltemal so erg, maar tog stamperig, in so ‘n mate dat die bediening van alle warm drank soos rooibostee gekanselleer word.

Die doel van my besoek is ‘n vergadering met verteenwoordigers van PEN-internasionaal, die skrywersorganisasie. Dinsdagaand poog ek om aan hierdie woernaal te begin skryf, maar het nooit daaraan gedink dat die kragkabel van my skootrekenaar nie op die Britse muursokke in Kenia gaan pas nie. Aanvanklik poog ek om my battery te bespaar terwyl ek die broodnodige doen soos epos aflaai en aan my notas vir die gesprek met PEN skaaf.
Deel op

Eers op die dag van my vertrek vind ek die krag (letterlik en figuurlik) om hieraan te begin skryf. Hier sit ek in die sitkamer van die Stanley-hotel in Nairobi.

In die sitkamer van die Stanley
Opvallend omtrent Nairobi is dan juis die behoud van die koloniale inslag, soos dié hotel wat onbeskaamd sy koloniale swier vertoon met swart en wit marmervloere, donker houtpanele en rojale gebruik van donkergroen en -blou. Mens kan te eniger tyd ‘n Britse admiraal in ‘n wit uniform met goue knope verwag soos daardie een wat iewers in die Italiaanse dokumentêr Addio Africa verewig is toe hy ongestoor een of ander land aan die ooskus, waarskynlik Tanzanië, aan die nuwe heersers oorhandig het.

Hoewel Kenia en Nairobbery – dis die stad se bynaam wat terloops deur my taxibestuurder op pad hierheen vermeld word – Brits gebly het, het die Engelse so te sê verdwyn. Of moontlik kruip hulle iewers in ‘n voorstad weg, want hier sien mens hulle nie.

Op pad met die taxi vanaf Jomo Kenyatta-lughawe – omtrent alles in Nairobi is na hom vernoem, ook die hoofstraat waarin die hotel geleë is – geniet ek die mengsel van modernisme en vervallenheid wat Kenia kenmerk. Iewers het ek gelees dat die helfte van Nairobi se inwoners in plakkershutte woon in ‘n gebied wat as Kibera bekend staan. Maar nêrens sien ek enige teken van Kibera nie; anders as in Kaapstad voer die lughawepad mens nie verby slumgebiede nie. Die kontras tussen ryk en arm in Nairobi is egter enige tyd net so groot soos in Kaapstad. En Kenia het nooit apartheid gehad nie… sou elke moedswillige Afrikaner byvoeg. Ook skroom die Keniaanse regering nie om plakkershutte plat te stoot nie, anders as in Suid-Afrika waar grondeienaars gewoonlik aan die korste end trek as dit by enige plakkergeskil kom.

Mens wonder hoeveel Engelse daar presies nog in Nairobi oor is? Tussen 1920 en 1950 het 80 000 Britte hulle in Kenia gevestig en het veral op die vrugbare grond rondom Nairobi geboer. Karen Blixen, hoewel Deens, was deel van hierdie gemeenskap. Ná die Mau-Mau-opstande en Keniaanse onafhanklikheid, het die meeste Britte padgegee, maar hul kultuur het gebly. In die plek van die Engelse wil dit voorkom asof die Indiërs hulself tuisgemaak het as die nuwe heersersklas van Kenia. Die meeste winkels en ondernemings behoort aan Indiërs. Trouens, die Stanleyhotel ook, ná ‘n subtiele vraag wat ek aan een van die werknemers gestel het.

Soos die geluk dit wil hê, bly ek in die swierige Karen Blixen-suite, danksy PEN se geloof dat skrywers met ‘n sekere styl gehuisves behoort te word. Blykbaar het Karen Blixen persoonlik in dié suite tuisgegaan op die stadium toe sy nog haar beroemde “plaas in Afrika” gehad het. Twee skilderye wat persoonlik deur haar geskilder is, hang in die sitkamer. Bokant ‘n skryftafel pryk foto’s van haar en haar bediendes. Anders as in polities korrekte Suid-Afrika, het Kenia – of ten minste die Stanleyhotel – waardering vir daardie besondere verhouding tussen die plaasboer of landheer en sy bediendes wat ook in soveel Afrikaanse romans van weleer geskilder word.

My hele aankoms en verblyf hier geskied sonder enige haakplek. Trouens, ek en die taxibestuurder wat my in ‘n ouerige Toyata na die middestad vervoer, gesels heerlik politiek nadat ek hom uitgevra het of Kibaki ‘n goeie president is. Kennelik nie, want Kibaki word van korrupsie verdink en volgens die taxibestuurder sou hy selfs al lede van die opposisie laat vermoor het. Dikwels dink ek dat ons Afrikaners nie genoeg belangstelling koester in die politiek van ander Afrikalande nie. Op pad hierheen in die vliegtuig het ek heelwat Afrikaans gehoor: sakemanne, rekenmeesters en rekenaardeskundiges wat fooie in Nairobi gaan verdien en sodoende ons kundigheid tot die vasteland se ekonomie beskikbaar stel. Ons neem reeds op so ‘n groot skaal aan Afrika se ekonomie deel, maar sedert 1994 het ons ons politieke rol geabdikeer en is deesdae bloot toeskouers by wat gebeur.

Die eerste aand begewe ek my in die strate van Nairobi op soek na die volgende:

Image 

Ek beleef ‘n effense avontuurtjie toe ek deur ‘n lang, skraal man met min tande in sy mond op straat voorgekeer word en my in een van daardie dilemmas plaas wat die toeris, veral in Afrika, so goed ken: is die man voor my se storie eg, of wil hy my in ‘n hinderlaag lei sodat hy en sy vriende my iewers in ‘n stegie oor die kop kan slaan, my met ‘n mes kan steek en in die proses my van enige waardevolle besittings kan stroop?

Oorkant die Stanley-hotel is ‘n supermark genaamd Nakumatt Downtown. Hulle verkoop ook aansluitproppe, maar niks wat op die Suid-Afrikaanse tipe pas nie. Hulle beveel ene Ebrahim se winkel by my aan, neffens die hotel. Ek moet weereens die straat oorstap terug hotel toe om by Ebrahim uit te kom. Maar die winkel wat elektroniese toebehore en rekenaars verkoop, Is reeds toe.

Dis toe dat my weldoener uit die skemerdonker homself voorstel. “Ek werk by die hotel. Ek het u daar gesien. Waarna soek u?” Ek verduidelik vir hom my penarie en dat ek ‘n aansluitprop of alternatiewelik ‘n ekstra kabel vir die laaier van my skootrekenaar soek.

Blykbaar is daar drie Ebrahim-winkels in die omgewing. My vorige gedagtes oor die Indiëroorheersing van die Keniaanse ekonomie kom weer by my op. Dis skuins voor agt en die meeste maak dan toe; daarom moet ons ons haas na die groot elektriesetoebehorewinkel ‘n blok of twee van die hotel af. Maar ook hulle het nóg kabel nóg aansluitprop wat my probleem gaan oplos.

(foto)

Halfpad terug na die hotel bedank ek my gids dat hy my rondgeneem het. Maar nou is dit sy beurt om my hulp te vra: sy hotelvoertuig het sonder petrol gaan staan en sou ek hom 800 Keniaanse sjielings kon leen wat hy weer by die hotel vir my sal teruggee? Dit vind ek nogal ‘n vreemde versoek, siende dat die hotel omtrent 50 meter van ons af is. Waarom gaan kry hy nie geld by die hotel nie? Nee, maar hy kan nie die vrugte wat hy vir die hotel gaan aankoop het in die voertuig los nie.

Toe dit blyk dat ek nie geneë is om aan hom geld te leen nie, stel hy voor dat ek hom moet kom help om die voertuig tot by die naaste petrolstasie te stoot. Ek vind die gedagte heel amusant: ek wonder wat sal al my vyande in Suid-Afrika sê as hulle my kon sien waar ek as die enigste blanke op straat in Nairobi iemand se bakkie stoot? Gegewe die feit dat hy my probeer help het, is dit seker nie ‘n onredelike versoek nie. Ek het steeds die Suid-Afrikaanse kabel met sy groot, swaar elektriese prop aan die punt by my. Gelukkig het ek die verhaal van Piet Retief op skool geleer en is ek dus nie heeltemal naïef as dit by die vriendelike, behulpsame Afrikane kom nie. As die ergste gebeur, sou ek seker die kabel met sy prop as ‘n soort wapen kon gebruik om my aanvaller teen die kop te slaan. Maar tot dusver was ons gedwaal deur die taamlike donker strate van Nairobi vir my ‘n genoegsame avontuur om nie die geluksgodin verder te beproef nie. Daarom verskoon ek myself teenoor die Barmhartige Samaritaan en meld dat ek reeds laat is vir ‘n afspraak met my mede-skrywers van Kenia, Oeganda, Zambië en Malawi, asook die Londense verteenwoordigers van PEN en sou ek hom ongelukkig nie kon help nie.

Hierna haak hy af: “Ek help u en soek vir ‘n elektriese prop, maar u kan my nie help nie. Miskien sal ek eerder een van ons Afrika-mense om hulp vra.” Ongemaklik maak ek myself uit die voete. Sekerlik was hy vriendelik om my na Ebrahim se winkel te neem, al was dit vir my onverrigter sake. Maar elemente van sy storie klop nie: ons is so naby die hotel; dit sou sekondes neem om daar geld te kry. Ook sy ietwat verslete kleredrag laat hom allermins na ‘n hotelwerknemer lyk; hulle dra immers almal netjiese uniforms.

In die Thorn Café dra ek my verhaal aan Frank en Karen van PEN oor. Albei is baie liberale Britte met hoë lof vir Nadine Gordimer. Trouens, een van die eerste dinge wat Karen my vertel, is dat sy die meeste Franse as rassiste beskou hoewel sy self Frans gestudeer het en dit vlot praat (aan tafel voer ons ‘n gedeelte van die gesprek in Frans). Maar sy vind dat ek heeltemal korrek opgetree het deur my skynbare weldoener nie heeltemal te vertrou nie. Sy vertel verder dat sy die vorige dag iewers in Nairobi gaan loop het op ‘n plek waar die prostitute vergader – sy noem hulle “sekswerkers” – en dat sy “as vrou onveilig gevoel het”. Ek is heel verlig dat sy my agterdog jeens my mede-Afrikaan (al het hy my oënskynlik van daardie kategorie uitgesluit deur na our African people te verwys) begryp het. En as ek dit hier skryf sal Max du Preez of Koos Kombuis my nie by die SA Menseregtekommissie gaan aangee omdat ek nie ‘n Nairobiër se motor of bakkie in ‘n donker straat wou gaan stoot nie.

Gepraat van sekswerkers: die naam van Nairobi leen hom natuurlik tot die soort woordspel waarmee Kleinboer hom besig hou en sy voorliefde vir prostitute uit die hele Afrika het hom ‘n huishoudelike naam in Afrikaans gemaak. Kleinboer was ‘n tyd gelede in Nairobi en het die trein tot in Mombasa geneem. Soos Proust, Paul Theroux en ‘n paar ander skrywers, is ek versot op treine. Een van my drome is om die Transsiberiese sneltrein van Moskou tot in Wladiwostok te neem; binne ses en ‘n half dae lê mens 9259 km af.

Kleinboer vertel egter dat sy treinrit na Mombasa vyf ure laat begin het. Halfpad is die trein ook geneig om stil te hou as die spoor herstelwerk nodig het. Hierdie antieke stoomtrein wat uit Britse koloniale dat dateer, loop deesdae glo net een keer per week. In die tyd van die Britte het dit nie net betyds uit die stasie gestoom nie, maar het ook elke dag die afstand tusse Nairobi en Mombasas afgelê. In die vliegtuig heen en weer lees ek aan Eben Venter se roman, Horrelpoot. Iewers sê iemand in die boek: “Julle witmense het so min tyd en so baie goed. Ons het so baie tyd en so min goed.” Op pad huistoe sou ek by Jomo Kenyatta-lughawe ‘n plakker koop waarop geskryf staan: No hurry in Africa. Selfs Kleinboer, negrofiel in die letterlike sin van die woord wat hy is, sou hiermee saamstem.

Die paradoks van Nairobi is egter dat dit nie heeltemal meer net Afrikastad is nie, al kom die treine laat. In die groot aantal fabrieke, pakhuise en kantore van multinasionale maatskappye wat in en rondom die stad te siene is, is die kultuur, die ritme, die gejaagdheid van die globale samelewing wat deur Europeërs en Suidoos-Asiërs beheer word, te sien. Trouens, Nairobi is die grootste stad tussen Johannesburg en Kaïro en verteenwoordig die handelshoofstad van Oos-Afrika.

Een aanduiding van daardie gejaagdheid is die verkeer van Nairobi wat selfs na agt in die aand heel druk is. Ek moet deur die motors vleg terug hotel toe op hierdie soel aand van Dinsdag 20 Februarie 2007 vir ‘n ete saam met skrywers uit vier Afrikalande, in die Thorn Café, waaroor binnekort meer.

светтопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.