Stakende werkers is Sasolburg se nagmerrie

Deel op

metsimaholo“Die stert is besig om die hond te swaai, alhoewel die hond reeds dood is,” sê die Vryheidsfront Plus se raadslid in die plaaslike munisipaliteit, Theo du Toit.

Dit is bekend dat die werknemers van Metsimaholo-munisipaliteit herhaaldelik gestaak het en die dorpe verwoes deur geboue te beskadig en brand te stig.  Die betalingskantoor in Sasolburg is in so ‘n brand verwoes.  Die omvang van die skade aan munisipale bates beloop tans meer as R3 miljoen.  Die bedrag sluit nie die bedrag in van nie-invordering van skulde tydens die staking nie.

Tydens ‘n spesiale raadsvergadering wat belê was vir Vrydag 19 Julie 2013 het die Speaker ‘n 27-blad regsdokumente uitgedeel vir bespreking.  In die staande reëls en orders vir plaaslike regering is dit duidelik dat dokumente minstens 48 uur voor die aanvang van ‘n vergadering beskikbaar moet wees, wat reeds te min is om weldeurdagte besluite te neem.

Na drie koukus-sessies tydens die vergadering en baie verduidelikings van verskillende individue van die regerende party het dit duidelik geword dat die ANC-geleide munisipale bestuur ‘n ooreenkoms met die stakers en SAMWU (Suid-Afrikaanse Munisipale Werkers Unie) aangegaan het om teen Dinsdag, 23 Julie 2013, hulle salarisse te betaal vir die tydperk wat hulle gestaak het.  Al die regsdokumente wat verskaf is, het dit duidelik gemaak dat dit teen die bepalings van die wet sou wees om die stakers te betaal.  Indien die uitstaande gelde as gevolg van die staking aan die stakers betaal word, sal dit vrugtelose en verkwiste uitgawes wees.

Die Speaker het na ‘n koukus gesê dat die stadsraad oor die aangeleentheid moet stem.

Du Toit het na ‘n bepaalde koukus tydens sy spreekbeurt dit duidelik gemaak dat elke werknemer van Metsimaholo-munisipaliteit ‘n dienskontrak onderteken het wat “Geen werk – Geen betaling” uitspel.  Verder het hy gesê dit is duidelik vanuit die gesprekke dat die ANC ‘n ooreenkoms met die werkers het om hulle te betaal voor Dinsdag 23 Julie 2013.  Aanbevelings van die munisipale bestuurder is deur die Sweep van die ANC verander om voorsiening te maak vir oortydbetaling, verlof en dies meer.  Du Toit het dit duidelik aan die Speaker gemaak dat hy homself nie met die besluite van die dag, wat teen die wet is, kan vereenselwig nie en uit die vergadering gestap.  Die Speaker het Du Toit beveel om te sit, maar hy het hom geïgnoreer en uitgestap.  Du Toit sê daar is geen manier hoe hy dit kan regverdig dat stakers, wat geen respek vir ander se eiendom het, vergoed word wanneer hulle onwettig staak nie.  Hy sê ook voorts dat die ANC nou byna twee dekades aan bewind is en dat die agteruitgang van dorpe en die land skokkend is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.