Die Trayvon-Martin-geval: meer as net ras

Deel op

secreve2deur Joseph Secrève

Die afgelope week hou die uitspraak oor die Trayvon Martin-geval die Verenigde State besig. Oor die wêreldmedia word voortdurend benadruk hoe die “wit” half-Peruviaanse sekuriteitswag ‘n ongewapende swart tiener doodgeskiet het, en die media speel nou gevaarlik op hierdie sentimente. Aanvanklik het president Obama homself ten gunste van die vryspraak uitgelaat omdat dit sy werk is om die Grondwet van die Verenigde State te verdedig. Hy is immers nie bo die wet nie en moet homself ondergeskik stel aan die uitspraak van sy regters.

Die media weef egter ‘n hele ander prentjie en het ondertussen ‘n hele spektakel aan die gang gesit met bekende popsterre en ander figure wat die uitspraak ernstig betwis. Soos gewoonlik word daar gehamer oor armoede en diskriminasie.

In ‘n snaakse wending het Obama enkele dae later ewe skielik van narratief verander deur te meen dat “dit kon ek gewees het ses en dertig jaar gelede”. Obama, met ander woorde, maak die kwessie persoonlik. Hy kies kant, dié van die media en speel verder op die sentimente van die publiek, waarmee hy die geregtelike gesag in ‘n hoek dryf. Hy doen wat linkse bewegings altyd doen, naamlik om emosie op te jaag wat die politieke klimaat sal verander. Selfs al bevind ‘n regter en jurie iemand onskuldig, word die werklike skuldvraag buite die howe besleg: As almal jou desondanks soos ‘n skurk gaan behandel, is die sielkundige impak ewe skadelik, of moontlik selfs skadeliker as ‘n geregtelike skuldigbevinding.

Ofskoon ras die belangrikste rede is vir die misnoë van die protesteerders, is daar stilletjies ‘n ander motivering agter hierdie proteste, naamlik ‘n persepsie van aanspraak op sekere regte, of “entitlement” soos die Engelsman sou sê.

Die belangrikste verskil tussen Republikeine en Demokrate is dat Republikeine glo dat jy jou eie potjie moet krap en jouself hoër op moet werk in die samelewing. Die Demokrate glo dat dit die plig is van die regering om geskenke uit te deel aan die armes, verkieslik sonder teenprestasie. Dit het ook ‘n politieke opvangsentrum geword vir almal wat nie aan die tradisionele WASP-ideaal voldoen nie.

Hierdie genoemde aanspraak is waarskynlik die werklike rede agter die protes. Die dader Zimmerman was immers nie heeltemaal wit nie en dit lyk asof die bakens verskuif het van wie nou werklik wit is of nie. Die antwoord vermoed ek kan gevind word omdat die Amerikaanse onderklas ontevrede is dat hulle nie genoeg deur die staat gepamperlang word nie. Egter, hoe meer die staat hulle gaan pamperlang, hoe meer gaan hulle aggressiewe protes as ‘n regverdige middel beskou. ‘n Mens hoef dus geen Churchill te wees om te besef dat hierdie benadering die gesonde funksionering van die staat ernstig kan knou nie.

Wie onthou nog die vorige president George Bush? Twee van sy belangrikste raadgewers, Colin Powell en Condoleeza Rice was ook nie wit nie. Hulle was egter te “wit” vir die protesteerders, en ras was op daardie stadium nie naastenby so omstrede soos tans onder Obama nie, wat weereens bewys dat hierdie proteste nie ‘n suiwer rassekwessie is nie. Dit is mutasie tussen swart-wees wat gepaard gaan met die onderklas-mentaliteit.

Die ironie is natuurlik dat een dag voor Obama se “dit kon ek gewees het” – toespraak het die stad Detroit bankrotskapbeskerming aangevra. Hierdie stad wat eens op ‘n stadium die motor (letterlik en figuurlik) agter die Amerikaanse ekonomie was, is tans een groot ghetto, volledig verarm deur dieselfde klas wat voortdurend op hul “regte” aanspraak maak.

Ek is nuuskierig om te sien waar al hierdie verrigtinge heen gaan lei in die afsienbare toekoms, maar ek vermoed dit kan dieselfde gedrag toon as wat ons tydens die Rodney King-opstande gesien het, naamlik ‘n paar dae van intense protes en grootskaalse plundery en vandalisme, maar volgende week as die welsyntjeks uitgedeel word, is die vrede terug. Die amoksaaiers het eerste in die ry gestaan om hul uitkerings te gaan opeis, die protes lankal vergete.

Vermoedelik sal ons ook niks verneem van Antonio West nie, die dertien maande-oue wit baba wat vanjaar op 21 Maart deur twee swart tieners doodgeskiet is omdat sy ma geen geld gehad het nie. Maar natuurlik was sy ma geen aanspraakmaker nie, synde wit, dus word hierdie saak gerieflik uit die media geweer. Van Obama sal ons waarskynlik ook niks hieroor hoor nie, selfs nie sy “dit kon ek gewees het” toespraak nie.

Immers, ‘n afgedankte prokureur met ‘n twyfelagtige verlede pas eerder in die prentjie van ‘n Trayvon Martin as ‘n Antonio West.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.