Motors: Is kleiner beter en groter?

Die Peugeot 208 se neus
Deel op

Die neiging van die motorvervaardigers om hulle klein motortjies groter te maak, is iets wat die afgelope 20 jaar gebeur. Dink maar aan die eerste BMW 5-reeks; vandag se 3-reeks is groter as die destydse 5-reeks en die huidige 5 weer groter as die eerste 7-reeks. Dit is ook waar van ander vervaardigers soos VW met hul Golf/Jetta. Vandag se Golfs en Jettas is groter as tien jaar gelede se Passats; Audi se A4 is groter as die Audi 500 van die tagtigerjare, ens. Feit is dat moderne motors al hoe groter word en die vervaardigers het besef dat hoe groter die motors word, hoe groter en sterker moet die enjins word om die motors aan te dryf. Enjintegnologie het egter ‘n beduidende rol begin speel en enjins het met behulp van meer gevorderde tegnologie wel sterker geword maar dieselfde grootte gebly. In 2010 het die enjintegnologie egter so ver gevorder dat enjins selfs kleiner begin raak het en dit is nou waar ons vandag staan. Groter motors met kleiner enjins met groter pryskaartjies met kleiner brandstofverbruik en syfers met groter aanhang!

Ons kon drie van die onlangse tegnologiese wondermotors onder hande neem en die vraag ondersoek: “Is kleiner beter?”

Ons toetsmotors is die Peugeot 208 1,2 VTi Active, Renault se Clio 4 0.8 Turbo Dynamique en Ford se Fiesta 1.0 EcoBoost Trend.

Die Peugeot 208 se neus

Peugeot 208 1,2 VTi Active

Die 208 vervang die 207 in Peugeot se reeks en is basies ‘n segment-B-motor wat ‘n trappie hoër as die intreevlak 107 diens doen. Dit is ‘n stadsmotortjie met kompakte afmetings vir maklike hoëdrukverkeersituasies. Dit is groter, langer en breër as die 207. Rygerief is heelwat beter en veral die ratskakelings is baie meer direk. Die binneruim van die 208 lyk en voel baie modern, amper asof jy in ‘n konsepmotor iewers by ‘n motorskou is. Dit is strate beter as enige iets wat voorheen uit die Peugeot-stal gekom het. My eerste indruk was dat hierdie motor ‘n hele nuwe tydvak vir klein motortjies gaan inlei.

Die Peugeot 208 van agterDie Peugeot 208-reeks is beskikbaar in twee enjinopsies, die 1,2 VTi-enjin wat deur slegs 3 silinders aangedryf word en die 1,6 VTi wat ‘n konvensionele 4-silinderenjin is. Ons toetsmotor se 3-silinderenjin ontwikkel 60 Kw en 118 Nm se wringkrag; selfs teen die bulte van Waterkloof kon ek nie agterkom dat die meuletjie swaar trek nie want die ratverhoudings en die manier waarop die krag gelewer word, is eenvoudig verstommend. Ratskakelings is seepglad en baie akkuraat, anders as in vorigegenerasie-Peugeots. Bougehalte is uitstekend en die binneruim voel ruim en gerieflik. Swart sitplekbekleedsel en duursame stowwe regdeur die binneruim gee ‘n gevoel van volwassenheid wat ook in vorige klein Peugeots ontbreek het.

Die Peugeot 208 se instrumentepaneel

Daar is meer as genoeg toerusting in die motor. Met ons toetsmotor, die Active-model, een trappie hoër op as die Access wat die 208 se intreemodel is, kry jy 15-duimallooisierwiele, bakkleurdeurhandvatsels en spieëls wat elektries wegvou, voorste misligte, kantlugsakke en ‘n digitale raakskermmiddelkonsole wat juis die futuristiese effek van die binneruim verder beklemtoon. Kantspieëls en elektriese agterruite, asook ‘n togbeheerstelsel met spoedbeperker is ook standaardtoerusting. Die agterste sitbank kan in ‘n 60/40-konfigurasie afslaan om die bagasieruim van 285 liter na 1076 liter te vergroot. Daar is ook ‘n 5 jaar/ 60 000km-onderhoudsplan standaard by alle Peugeots. Ons toetsmotor se brandstofverbruik was 4,6 liter/100km in die gekombineerde siklus wat stads en ooppadverkeer insluit. Ongelooflik, en die driesilinderenjin klink ook net so ongelooflik as die toere bietjie opgejaag word. Teen R177 200 is die 208 VTi Active ‘n baie goeie kopie veral as jy in ag neem wat jy vir jou geld kry. Ons gee die leeutjie ‘n 5 uit 5.

Die Renault Clio 4

Renault Clio 4 0.8 Turbo Dynamique

In die nuwe Clio se geval is die motor weereens heelwat groter as die vorige model. Ons het die topmodel in die Clio 4-reeks onder hande geneem. Van buite is die nuwe Clio se lyne baie meer sportief en doelgerig dog sagter as dié van die Peugeot. Die motor se gevoel is ook anders as die Peugeot s’n. Waar die Peugeot meer ‘n manlike gevoel het, is dit asof daar ‘n vroulikheid in die motor se DNS ingebou is. Binnelangs is die Clio net soos die Peugeot baie ruimer as die vorigegeslag-Clio en sowel die bougehalte as die toerusting spreek van gehalte. Die ratelrige, los, goedkoop gevoel van vorige Renaults is glad nie hier te bespeur nie. Ons wil amper sê die bougehalte hier is selfs beter as in die huidige Megane. In Dynamique-gewaad het die Clio ekstra toerusting soos outomatiese eendruk-op-en-af vir die bestuurder se kantruit, elektries beheerde agterste kantruite, reën- en ligsensors wat die hoofligte en reënveërs outomaties aanskakel in die geval van reën of donkerte, 17-duimaluminiumwiele en 205/45 17-bande. Rygerief en veral deur kort draaitjies is twee keer beter as in die vorige Clio. Die langer asafstand gee die motor ook baie meer stabiliteit teen hoër snelhede.

Die Renault Clio 4 se agterligteNet soos in die Peugeot word die Renaultjie deur ‘n 3-silinderenjin van net 800cc aangedryf. Ja, jy het reg gelees: 800cc. Die enjin is egter ‘n juweel en lewer 66 Kw en 135 Nm se wringkrag. Weereens kon geen bult of opdraande my egter laat agterkom dat die motor sukkel nie. Ek kan nie dink hoekom dié tipe tegnologie nie al lankal in stadsmotors gebruik is nie. Ons kon ‘n gemaklike topspoed van 180 km/h haal en brandstofverbruik is net so ongelooflik soos die klein leeutjie s’n: slegs 4,7 l/100km in die gekombineerde siklus.

Die Renault Clio 4 se dagryligteStandaardtoerusting sluit dan ook togbeheer met ‘n spoedbeperker en sleutellose toegang slegs met die kaartsleutel in jou sak, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel en ratkierie, asook ‘n 3 jaar/45 000km-diensplan, in. Dagryligte is insgelyks standaardtoerusting. Teen R184 900 is die Clio 4 amper R10 000 duurder as die Peugeot 208 en daarvoor gee ons hom ‘n 4 uit 5.

Die nuwe Ford Fiesta 1.0

Ford Fiesta 1.0 EcoBoost Trend

Ford het seker een van die beste enjins in die geskiedenis gebou toe hulle hierdie een ontwerp het. Dit is ‘n 1000cc- 3-silinderenjin met ‘n dubbele bonokas en 16 kleppe met direkte brandstofinspuiting en ‘n turbotjie wat 74Kw en 170 Nm se wringkrag lewer. Die enjin is ‘n absolute juweel; seepglad en superekonomies met genoeg krag om jou te laat dink dit is ‘n 1,4 liter dié. Ons toetsmotor is die Trend-weergawe, maar in Titanium-gewaad lewer dieselfde enjin 92 Kw en 200 Nm se wringkrag. Die enjin was die internasionale enjin van die jaar in 2012. Neem ‘n mens spesifieke krag-per-enjinkapasiteit in ag, dan produseer hierdie enjin (90Kw/liter) meer krag vir sy grootte as dié van ‘n Lamborghini Aventador (79Kw/liter). Omdat die enjin so klein is, gebruik hy nog baie min brandstof ook en ons kon ‘n syfer van 4,5 liter/100km aanteken.

Die Ford Fiesta se instrumentepaneelDie res van die nuwe Fiesta is puik. Bougehalte is, soos ons van Ford verwag, baie goed. Die deure se soliede gevoel gee ‘n volwasse, gesofistikeerde gevoel aan die motor. Wanneer jy hom bestuur, besef jy nie dat hierdie eintlik ‘n klein stadsmotortjie is nie. Die hele gevoel binne die motor op die pad en in jou gesigsveld skep die illusie van ‘n heelwat groter ryding. Sou jy slegs op gevoel as passasier in die motor ry, sal jy vir seker dink dit is ‘n V6-segment-C- of selfs D-motor dié. Ford het ook nie met die toediening van standaardtoerusting enigsins spaarsamig te werk gegaan nie.

Die Ford Fiesta 1.0 Ecoboost TrendOns toetsmotor in Trend-gewaad is met swart doekstof toegerus. Daar is elektriese ruite en kantspieëls, asook lugversorging en ‘n radio met 6 luidsprekers. ABS-remme met lugsakke en elektroniese remdrukverspreiding is ook staandard soos in die Peugeot en die Renault. Ford sluit ‘n 4 jaar/60 000-diensplan by die prys in. En teen R219 000 is die Fiesta wel R35 000 duurder as die Clio en R42 000 duurder as die Peugeot 208 maar ons dink dat die effense hoër prys meer as geregverdig word en gee dus die Fiesta ‘n 5 uit 5.

So, terug na ons vraag. Is kleiner nou groter? Wel, bekyk ‘n mens die drie rygoed dan kan ek nie anders as om onomwonde “Ja” te antwoord nie. Al drie hierdie motors is 200% beter as enige iets uit die drie vervaardigers se verlede en die goeie nuus is dat al drie die motors nou ook blitsbuksweergawes het waaroor ons in die nabye toekoms sal berig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.