Die Afrikaner: laaste volk op sy voete

As jy ‘n magsmakelaar in Beijing of Moskou was, by watter volk in Suid-Afrika sou jy toenadering soek en hoekom? Gustav Venter reken ‘n ontleding van die feite dui op net een en hy gee vir Menere Soeng en Iwanof ‘n bietjie advies. 

'n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl
‘n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl

Ná Japan se gewaagde en skokkende verplettering van die Amerikaanse Stille Oseaan-vloot op 7 Desember 1941 by Pearl Harbor was die een Japanese kryger wat nie deur die euforie van die oomblik weggevoer is nie, paradoksaal genoeg, die argitek en bevelvoerder van die aanval: Admiraal Isoroku Jamamôto self.

“Ek is bevrees,” het hy aan ‘n ondergeskikte offisier wat hom gelukgewens het, gesê, “dat al wat ons bereik het, is om die Reus wakker te maak.”

In plaas van om weggevoer te word deur militêr-nasionalistiese ywer – wat soveel Japannese krygers se denke bedwelm het – het Jamamôto, wat ‘n fyn en deeglike beplanner was, die beskikbare data georden en ‘n waarskynlike toekomsscenario daaruit gedistilleer. Daaruit kon hy vasstel dat die VSA se ontsaglike nywerheidsvermoë en ekonomiese massa onvermydelik enige Japannese weerstand sou verswelg.

Omdat Amerika op dié tydstip nie as ‘n nasie gerat was vir ‘n militêre konflik nie, sou die enigste Japannese hoop op ‘n inval van die VSA berus het, maar Jamamôto het geweet dat dit nooit sou kon slaag nie, al sou die Amerikaanse weermag nie ‘n faktor wees nie: “Agter elke grashalmpie,” het hy gesê, “sal iemand met ‘n geweer ons lê en inwag”. (Dink daaraan as die liberale media jou weer probeer oorreed om van jou vuurwapens ontslae te raak.)

Sy pessimisme was in die kol. Die Amerikaanse nywerheidsmag het in beweging gekom en ‘n oormag skepe, voertuie en wapens is in die arsenaal gestort. Miljoene Amerikaanse jongmans het by die leër, vloot en mariniers aangesluit. Die gety van die oorlog het betreklik gou omgeswaai toe die Amerikaners op hulle beurt die Japannese vliegdekvloot noodlottig in die Slag van Midway gekwes het. Ja, daar was ‘n mate van geluk in dié seeslag betrokke, maar al het hulle daar verloor – en in nog tien sulke botsings tweede gekom – sou die Amerikaners se krygsmateriële oorvloed uiteindelik die deurslag gegee het.

Was Jamamôto heldersiende; een of ander Sjintoïstiese sjamaan wat met die helm gebore is? Geensins nie. Hy was ‘n ontleder eerder as ‘n profeet. Om die toekoms te voorspel, is die ydele droom van baie mense deur baie eeue. In die Bybel het sekere begunstigdes se insae in die toekoms dikwels die wending van geskiedenis verander. Josef die Dromer kon byvoorbeeld, omdat hy die Farao se drome kon uitlê, sy gesin nie net van ‘n hongerdood red nie, maar ook in ‘n posisie plaas om uit te loop in ‘n magtige volk. Jesus se eie lewe as babatjie is gered omdat sy ouers die voortyding van Herodus se aanslag op hom ontvang het. Jamamôto het nie ‘n goddelike inspraak nodig gehad om die uitslag van die oorlog reg te voorspel nie. Feite en logika was genoeg.

Vandag aanvaar net sekere kultusse dat vooruitsiende profete tussen ons wandel. By die gebrek aan sodanige gesalfdes, is die voorspellings van ontleders al hoe belangriker. Fortuine is gemaak en verloor in navolging van toekomsvisies. Bill Gates het só ingesien dat die persoonlike rekenaar net so integraal tot elke huis sou word as die telefoon of televisiestel en daarop het hy Microsoft se toekomsstrategie geskoei. Ontleders, daarenteen, het die eenvoudige wiskunde en basiese reëls van ekonomie verontagsaam en daarom het min mense die induiestorting van die sub-primauitleenbedryf in die VSA voorsien, ‘n gebeurtenis wat die wêreld se politieke en ekonomiese landskap omgeploeg het en vir die eerste keer Amerika se voortouposisie in die gedrang gebring het.

Om die toekoms deur analise te voorspel, behels ‘n ontleding van gegewens, van onveranderlikes en die potensiële uitwerking van veranderlikes daarop en hoe dit wederkerend deur tendense beïnvloed word. Ons lewe in ‘n wêreld wat op die breuklyn van globale verskuiwings verkeer. Die vraag wat ‘n buitelandse, nasionale ontleder oor Suid-Afrika moet vra is watter plaaslike volk die beste geposisioneer is om ‘n waardevolle vennoot in die toekoms te wees. Wel, watter een sal dit wees? Watter volk – of ras – sal die toonaangewende een binne die volgende paar dekades wees?

Die swart ras, as geheel, kan dit nie wees nie. Tans is hulle ferm in beheer van alle staatstelsels en die politieke masjinerie van die land, maar hulle mag is afgeleide mag; dit is algeheel afhanklik van wêreldwye blanke verdraagsaamheid. Ons leef in die hooggety van humanistiese liberalisme, en as ons iets uit die geskiedenis – en blote logika – geleer het, is dit dat die hoogtepunt van ‘n stelsel onvermydelik deur verval gevolg word. Liberalisme is die selfbehaaglikheid van ‘n vooruitstrewende kultuur, en noudat die Westerse beskawing onder druk van selfaftakeling kom, sal liberalisme weldra te veel van ‘n duur weelde-artikel wees om enigsins langer te akkommodeer. Wanneer dit gebeur, sal swart Afrika noodwendig sy internasionale borg verloor. Swart kultuur is een van onaanpasbaarheid en in die nuwe herrangskikking van die wêreldorde, sal hulle nie gou genoeg of ooit effektief genoeg kan hervorm om enige mag te behou nie.

Dit is onmoontlik om met sekerheid te sê watse vorm die magsblokke in Suid-Afrika ná radikale politieke herplooiing sal aanneem. Die swartman se mag was ‘n tydelike afwyking wat moontlik gemaak is deur die samevloeiing van omstandighede. Ná die ontbinding van internasionale kommunisme het partypolitieke demokrasie die allesoorheersende politieke meganisme van ons tyd geword. In ‘n land soos Suid-Afrika het dit die swart volke se enigste superioriteit – getalleoormag – tot absolute magshefboom verhef. Dat demografie alles is, het ‘n soort politieke termodinamiese wet geword. Maar getalle is nie alles nie. As dit was, sou Indië en Sjina tussen hulle amper ‘n kwart van die aarde – grondgebied en rykdom ingesluit – besit het, en dit is geensins die geval nie. Terwyl bevolkingsgetalle deurslaggewend geword het om mag in ‘n land oor te neem, kan dit ook ‘n enorme en noodlottige las word. Die tyd sal kom wat mag deur iets anders gedefinieer sal word, en dan sal die swartmense se getalle hulle ondergang wees.

Partypolitieke mag het ontstaan uit die geleidelike kollektivisering van belange. Die Middeleeuse kleinboer het nie ‘n nasionale regering nodig gehad nie. Hy het sy eie kos verbou en plaaslik handel gedryf vir lewensmiddele. Industrialisering het egter nasionale regerings nodig gemaak om na ‘n land se gesamentlike belange om te sien. Kragopwekking, byvoorbeeld, was net iets wat ekonomies op wye gemeenskaplike skaal kon plaasvind. Die kolossale kragstasies wat nodig was om goedkoop elektrisiteit te verskaf, kon net gebou word as ‘n groot getal inwoners deur belasting bygedra het om daarvoor te betaal.

Aangeleenthede wat eers óf tuis, óf ten uiterste plaaslik hanteer was, het nasionale besigheid geword. Kinders het nie meer tuis geleer lees en somme maak nie, want die staat het skole gebou en onderwysers aangestel. Ad-hoc-kommando’s het nie meer landsgrense bewaak nie omdat die staat ‘n weermag tot stand gebring en vir die doel aangewend het.

Tye is egter besig om te verander. Tegnologie is besig om die staat op sekere gebiede funksieloos te laat. Die tyd is op hande dat ontwerpers miniatuurkragstasies sal ontwikkel wat elektrisiteit deur gratis beskikbare natuurkragte soos die son, wind of water sal opwek. In Suid-Afrika word tuis- of privaatskoling in elk geval ‘n noodsaaklikheid omdat die staat se skolestelsel vervalle raak. Nog ‘n plig en funksie van die staat verdwyn.

Die regering is inderdaad besig om sy funksies aan die land se bevolking self af te staan. Inwoners neem toenemend die instandhouding van hulle dorpe oor en buurtwagte verseker die mense se veiligheid. Dit word toenemend ingewikkeld om ‘n funksie vir die regering in Suid-Afrika in te sien. Die regering word, om presies te wees, irrelevant. Wanneer die staat sy funksies prysgegee het, verdwyn sy mag en dan is partypolitiek uitgedien. Sodra die politieke party – en in Suid-Afrikaanse konteks behels dit die ANC – se invloed vervaag, is gemeenskappe op hulleself vir oorlewing en vooruitgang aangewese. Siende dat partypolitieke oorheersing die swart volke se enigste ware mag is, sal die verdwyning van die politieke party se invloed die Suid-Afrikaanse inboorling magteloos laat.

Weens hulle gebrekkige moderne beplannings- en bestuursvermoëns sal die swart gemeenskappe nie in hulle eie mees basiese oorlewingsbehoeftes kan voorsien nie. Die onnatuurlik vooruitstrewende swart middelklas sal soos spookasem in ‘n orkaan verdwyn. Stede sal nie veel meer as massiewe vlugtelingsghetto’s wees waar verhongerde mense bakhand sit en wag vir hulle krieseltjie buitelandse hulp nie – en wanneer dít verdwyn… die Hemel alleen weet waarvan hulle sal leef.

Natuurlik sal hulle moontlik uit desperaatheid probeer om die laaste bietjie welvaart van die blankes weg te stroop deur massa-aanvalle, maar dié keer sal dit sonder die steun van die land se veiligheidsmagte wees en gaan hulle skerp teenstand op die lyf loop.

‘n Heersersvakuum sal ontstaan – en wie sal dít vul? Dit sal aanpasbaarheid, gehardheid, vindingrykheid en kultuurgedrewe samehorigheid verg. Die Kleurlinge is te identiteitsku en hulle oorlewingstrategie is om by die heersende groep in te val. Sonder ‘n oorheerser is hulle verwese. Daar was nog nooit ‘n gekoördineerde poging deur hulle om hulleself in ‘n volkseenheid te smee nie. Boonop is hulle gemeenskappe verbrokkel en het hulle geen noemenswaardige gemeenskaplike ekonomiese spierkrag nie.

Die Indiër is wel aanpasbaar en ekonomies bedrewe, maar in Suid-Afrika is hulle (tans) te min om ‘n indruk te maak en het hulle ook nie ‘n fisieke oorlewingstradisie nie. In ‘n anargistiese bestel is hulle ‘n maklike prooi.

Dit laat die blanke, die enigste ras wat aan al die oorlewings- en oorheersingsvereistes voldoen. Maar nie alle blankes kwalifiseer nie. Blanke oorlewing sal gesetel wees in die bastion van groepsidentiteit. Die Engelssprekende Suid-Afrikaner is geen volk nie. Hulle het nie ‘n eiesoortige kultuur nie en kan net hulle kollektiewe invloed in partypolitieke verband saamsnoer. In ‘n bestel waar politieke partye waardeloos is, sal hulle gemeenskaplik gekniehalter wees. Hulle enigste heil sal emigrasie wees of om te verafrikaans.

Daar kan dus net een volk oorbly om te versamel, te konsolideer, veiligheidsmaatreëls in werking te stel en hulleself te handhaaf: die Afrikaner. Ons is slim, gehard, hardwerkend, opportunisties en aanpasbaar genoeg om hier te bly en te gedy.

Natuurlik sal die Afrikaner nooit weer die nasionale partypolitieke toneel oorheers nie, maar hy wil dit ook nie doen nie en dit is ook nie noodsaaklik vir sy oorlewing nie. Die Afrikaner is wel wonderlik geposisioneer om te floreer in die ontluikende nuwe wêreldekonomie. Ons het in die verlede en tot in die hede skole opgerig, universiteite gebou en doktore, ontwerpers, ingenieurs, opvoeders, denkers en medici voortgebring. Ons sal dit weer doen. Ons boere sal in die nuwe maatskaplike omgewing die sleutel tot die hele land se spens in hulle sak dra, en hy wat die voedseltoevoer beheer, beheer alles.

Stel jou voor dat die verskillende volke en rasse van Suid-Afrika ‘n ekspo oor die toekoms van die land aanbied. Menere Soeng en Iwanof sal wys wees om by die Afrikaner se stalletjie in te loer en daar vas te haak. As hulle al die gegewens ontleed en daaruit ‘n toekomsscenario trek, sal hulle besef dat daar net een ras, net een volk is wat oor die meganismes beskik om hierdie darwinistiese uitdunningsproses te oorleef en dit is die Afrikaner.

Dit is nou net tyd dat die Volk dit self begin glo.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.