Anton van Niekerk dweep met Belhar-belydenis

Deel op

Belydenis-van-Belhar-Boekomslag-6Anton van Niekerk is die direkteur van die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Toegepaste Etiek en voorsitter van die US-senaat se navorsingsetiekkomitee. Etiek het te make met wat goed of sleg en reg of verkeerd in die konteks van mense se gedrag is. As dik etiekspyker hou Van Niekerk daarvan om denke op die kampus en in die samelewing ooreenkomstig sy besondere insigte te probeer rig.

As oorverligte wil Van Niekerk bv hê dat die NG-Kerk sonder meer die VGK se Belhar-belydenis aanvaar. In 1859 het die NG Sendingkerk blykbaar sonder ‘n tweederdemeerderheid ontstaan. Gevolglik meen Van Niekerk dat Belhar-aanvaarding en kerkvereniging ook daarsonder bewerkstellig kan word. Anders volg hierdie onaptytlike gevolgtrekking: “Vir mense is dit veel makliker om die kerk te skeur as vir die Heilige Gees om die Kerk te verenig soos God dit bedoel het” (Die Burger, 22.06.2013, p 10). Dit is plaaslik ‘n ou laai van oorverligte teoloë om eenheid met verkeurdheid pleks van verskeidenheid te kontrasteer.

Van Niekerk se teologiese agtergrond maak dit blykbaar vir hom moontlik om te weet hoe God wil hê dat dinge moet wees. Hy kontrasteer God se bedoeling met ‘n “mensgemaakte en -bedinkte Kerkorde … Hierdie storie van talle gemeentes wat eers moet ‘instem’ om te doen wat die Bybel ondubbelsinnig van ons verwag, is ongeloofwaardige selfbedrog. Dit is tyd dat die kerkleiers werklike leierskap toon in diens van die Waarheid.” Min filosowe sou so irrasioneel wees om waarheid te verabsoluteer deur dit met ‘n hoofletter te skryf.

As pleitsbesorger vir die nuwe demokratiese opset in Suid-Afrika sal ‘n meerderheid van een ten gunste van Belhar blykbaar goed genoeg vir Van Niekerk wees. Dan beërf ons die magiese kerkeenheid. Maar het ons dan voldoen aan die goddelike voorskrif, of sal daar dan maar net een minder kerkgenootskap wees? Daar sal steeds die drie tradisioneel Afrikaanse Kerke wees, maar met dié verskil dat die VGK-element sal sorg dat die Afrikaanse aard van die NG-Kerk so spoedig moontlik soveel moontlik ondergrawe word. Daar sal steeds protestante en Rooms-Katolieke en baie ander soorte christene wees. Kerkeenheid is ‘n hersenskim.

As kampusgewete en ideologiese woelgees hou Van Niekerk hom nie net met een saak besig nie. Soos te wagte, het hy nou ook van hom laat hoor oor die kwessie van rassisme in die US se destydse departement volkekunde. Hierdie sage het begin toe Elsabé Brits ‘n berig oor die vonds van ‘n stel glasoë en ‘n haarkleurkaart gepubliseer het (Die Burger, 25.04.2013). Russel Botman, die US-rektor, het dit dadelik aangegryp om in Rapport (28 April) die wit, Afrikaanse US van weleer as ‘n Nazi- en apartheidsbondgenoot te verdoem (Praag, 29 April).

Politiek-korrek het die Afrikaanse koerante nie kritiek op Botman se uitlatings gepubliseer nie. Toe Johan Hattingh, die US se dekaan vir lettere, egter op sy rektor se mening voortborduur (Die Burger, 15 Mei), is ‘n stroom van kritiek in daardie koerant gepubliseer, onder andere van Leopold Scholtz (12 Junie) en Hermann Giliomee (14 Junie). Voor dit het Kees van der Waal, tans ‘n sosiale antropologie-dosent aan US, egter sy dekaan en rektor gesteun (8 Junie).

Dit is die aanloop tot Van Niekerk se artikel: “Ras as faktor in mediese navorsing” (Die Burger, 16 deser). Hy gebruik die geykte argument dat ras ‘n problematiese begrip is. Hy meng dit met oordrewe menseregte: “Hoe klassifiseer jy mense as behorende tot ‘n bepaalde ‘ras’ as hulle self weier om daardie klassifikasie te aanvaar of toe te staan? Werp jy hulle in ‘n ‘rassegroep’ sonder hul toestemming?” Die antwoord is: Ja. Dit is wat die ANC-regering daagliks, sonder toestemming van die blankes, met oorgawe doen wanneer nie-wittes bemagtig, reggestel, gedemarginaliseer, dus groepgewys bevoordeel, word. Dit is wat die US doen wanneer hy poste vul deur voorkeur aan kandidate uit “die aangewese groepe” te gee. Het Van Niekerk al op etiese en akademiese gronde beswaar teen hierdie soort blatante rassediskriminasie geopper?

Wat klaarblyklik nodig is, is om die omstrede begrip “ras” met “groep” te vervang. In die konteks van mense kan groepe op grond van talle kenmerke onderskei word: velkleur, lewenswyse, godsdiens, taal, ens. Nadat groepe op grond van sulke kenmerke gedefinieer is, kan sodanige lede sonder geldige beswaar op etiese wyse aan wetenskaplike ondersoek onderwerp word. Soos ek dit voorheen gestel het: “Wat wetenskaplik ondersoek word, behoort nie deur ideologiese voorskrifte beperk te word nie. Enige empiriese verskynsel kan en behoort vir wetenskaplike ondersoek toeganklik te wees. Dit is bv akademies heeltemal onaanvaarbaar dat indiwidue se intelligensie nie wetenskaplik (dus objektief en so foutvry moontlik) gemeet en daar dan oor groepe se intelligensie veralgemenende gevolgtrekkings gemaak mag word nie” (Praag, 29 April).

William Shockley (1910-1989) is die mede-uitvinder van die transistor en die ontvanger van die Nobel-prys vir fisika in 1956. Hy het onder andere wetenskaplike navorsing oor groepe se intelligensie gedoen. In 1975 was ek op ‘n Amerikaanse universiteitskampus waartoe swartmag-aktiviste soos Andrew Young en Jesse Jackson vrye toegang gehad het. Hierdie universiteit se verbintenis tot vrye spraak en ideologiese neutraliteit het dit vir aktiviste moontlik gemaak om na hartelus propaganda teen wittes te maak. Toe Shockley genooi word om oor sy navorsing te praat, het swartes verhoed dat hy dit doen.

James Watson (gebore in 1928), die mede-ontdekker van die DNS-struktuur, het die Nobel-prys vir fisiologie in 1962 ontvang. Soos Shockley het hy tot bepaalde wetenskaplik gefundeerde gevolgtrekkings oor intelligensie by mensgroepe gekom. Op soortgelyke wyse is hy van universiteitskampusse geweer.

Die Botman-US is ‘n ideologies eensydige kampus. Die Botman-US is eerder ideologie- (spesifiek ANC-gedienstig-) as akademies gedrewe. In hierdie atmosfeer word akademiese vryheid en universitêre outonomie nie gekoester nie. Van ideologiese neutraliteit, in die sin dat studente blootgestel word aan ‘n verskeidenheid (bv ideologiese) standpunte, bv in die fakulteit teologie, is daar weinig sprake. ‘n Sprekende voorbeeld van Botman se fanatieke verknogtheid aan die ANC is sy jongste loflied vir Nelson Mandela (Die Burger, 18 deser). Botman beveel Mandela aan as “‘n rolmodel vir alle dosente en studente.” Weens sy mikroregister van idees, sing Botman weer sy deuntjie van menseregte, menswaardigheid, bemagtiging en geregtigheid, asook diversiteit en inklusiwiteit.

Botman is uiteraard vry om persoonlike oortuigings te hê, maar ampshalwe behoort hy verplig te word om hom ter wille van die akademiese integriteit en aansien van die US ideologies-neutraal te gedra. As rektor is Botman veronderstel om ‘n voorbeeld te stel deur ideologiese neutraliteit te verpersoonlik, maar hy simboliseer met oorgawe presies die teenoorgestelde. Dit is die ou storie van een stel gedragsreëls vir wittes en ‘n ander vir nie-wittes. Weens die sug na politieke korrektheid, kom Botman daarmee weg.

Pas is berig dat die US ‘n koshuisplek vir ‘n student verseker as sy (wit) ouers R120 000 skenk vir ‘n minderbevoorregte (in die praktyk dus nie-wit) student (Praag, 18 deser). Enkele jare gelede is berig dat ‘n student wat in haar aansoek aangedui het dat sy bruin is, tot mediese studie aan die US toegelaat sou word. Toe dit blyk dat sy in werklikheid wit is, is sy toelating geweier. Die skandaligste aspek van hierdie blatante rassediskriminasie is dat die US toe beweer het dat sy nie toelating geweier is omdat sy wit is nie, maar omdat sy foutiewe inligting in haar aansoek verstrek het.

Wat ek met hierdie voorbeelde probeer aantoon, is dat daar op die US-kampus ‘n ruim sendingveld vir Van Niekerk braak lê as hy bereid sou wees om sake eties, wetenskaplik en akademies te benader. Dit kan onmoontlik eties in orde wees as ‘n indiwidu op grond van sy toevallige groepverwantskap, pleks van sy indiwiduele akademiese verdienste, bevoordeel en ander, ten spyte van akademiese verdienste, groepgewys benadeel word. Maar dit is presies wat aan die US by studentetoelating, beurstoekenning, koshuisplasing en by die aanstelling en bevordering van personeel gebeur. Ideologie in die vorm van bv rassediskriminasie pleks van akademiese uitnemendheid speel aan die US ‘n deurslaggewende rol.

Dat groepverwantskap wetenskaplik isoleer- en kenbaar is, word deur Van Niekerk deur middel van voorbeelde toegegee. Atlete van Wes-Afrikaanse herkoms is goeie naellopers en Ethiopiërs en Keniane is goeie middelafstand atlete. My aanvoeling is dat daar geen beswaar aan die US sou wees as iemand navorsing wou doen oor hoekom swartes in hierdie of ander opsigte uitblink nie. Maar die Botman-US sou hoogs beswaard wees as iemand wetenskaplik wou vasstel waarom swartes plaaslik en elders in sekere opsigte swak en wittes goed presteer. Dit gaan hier om die euwel van politieke korrektheid. Wittes mag maar sleggesê word. Van nie-wittes mag net goed gepraat word.

Onderliggend aan hierdie teenkanting teen regverdigbare navorsing is die onbewese standpunt dat alle mense gelyk en wesenlik eenders is. Dit is waarom ons ‘n stelsel van een mens, een stem, het. Niks mag gedoen word om hierdie ideologiese uitgangspunt te ontsetel nie. Van Niekerk stel dit soos volg: “Ons weet … dat wetenskaplike navorsing geen beduidende, algemeen voorkomende genetiese verskille tussen mense van oënskynlik verskillende rasse kon opspoor nie.”

Francis Collins (The Language of God, London: Pocket Books, 2007) skryf: “At the DNA level, we are all 99.9 percent identical” (p 125). “0.1 percent of the human DNA … differs from person to person” (p 240). “Humans and chimps are 96 percent identical at the DNA level” (p 137). As DNS-kenner het Watson egter getoon dat die ooglopende indiwiduele en groepverskille by mense nie deur die groot mate van DNS-eendersheid verduidelik word nie.

Uit die DNS- en ideologiese eendersverklaring van mense het die volgende tradisie ontwikkel. In die praktyk vind ons dat mense indiwidueel en groepgewys nie in dieselfde mate, dus eenders, presteer nie. Die beter prestasie van wittes word dan gerieflikheidshalwe aan bevoordeling, die uitbuiting van nie-wittes, ongeregtigheid, ens, toegeskryf.

Dat Van Niekerk vatbaar vir hierdie soort ideologiese druk is, blyk uit sy artikel. Sulke dinge is vir hom “‘n ongemaklike feit” en “‘n netelige kwessie”. Dit kan lei tot “diskriminasie en verontregting.” Maar dit kan maklik ingesien word dat wetenskaplike resultate oor bv groepe se intelligensie uiters waardevol kan wees. Dit kan aantoon, selfs bewys, dat alle nie-wittes (of sommige groepe) meer intelligent as wittes is en dat die US en die ANC-regering dus reg het deur voorkeur aan alle of sommige nie-wit groepe te gee, dus nie-wittes ten koste van wittes te bevoordeel.

Andersins kan navorsing egter aantoon, selfs bewys, dat dit in die openbare belang is dat die US en die ANC-regering tot besinning kom. Egte wetenskaplike resultate is nie vooraf bepaalbaar nie. ‘n Mens moet dit nie vooruit loop nie. Maar dalk is dit wat hier gebeur, gevolglik word sodanige navorsing as ongewens beskou.

Soos Van Niekerk tereg noem, is “‘n oop gemoed” deur “persoonlike vooroordele te laat vaar,” by gesonde navorsingsetiek nodig. Op hierdie pad is daar nog baie ruimte vir vordering by Van Niekerk (soos bv blyk uit sy Belhar-fundamentalisme), Botman en die US.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.