Beeld dam Egipte met die Hitler-stoflap by

Deel op

Beeld se hoofartikel vandag het weer al die kenmerke van die Naspers-gedienstigheid wat ons so goed ken. Dan het die dagblad ook seker gemaak dat hulle Afrikaanse lesers se intelligensie grondig onderskat.

Weliswaar verklaar hulle president Morsi en sy Moslem-broederskap se bewindseinde op 4 Julie deur ‘n staatsgreep, wat min of meer korrek is. Maar hulle span die onderwerp sommer ook in om Suid-Afrika se veelbeprese Grondwet nog ‘n bietjie te poets… met die ou verfomfaaide Hitler-stoflap.

Is daar nog iemand behalwe die Amerikaanse regering en strydende partye in die streek wat die waarneming oor ‘n staatsgreep ernstig sou bevraagteken?

Dit blyk dat die meeste regerings in die omtrek ook die staatsgreep sien vir wat dit is. Turkye en Tunisië was die uitsonderings wat teen die oorname deur die weermag gekant was. In Ankara het dit tot ‘n gesamentlike verklaring deur al vier partye in die parlement gelei, ‘n seldsame harmonie ná die onlangse opstande in die land. Die Afrika-Unie het egter vinnig gereageer deur Egipte se lidmaatskap op te skort.

Staatsgrepe is sleg vir demokrasie, en internasionale reaksies op staatsgrepe maak saak. Baie lande sal waarskynlik nou nog meer onder die indruk daarvan raak dat sekere politieke keuses sterk van internasionale druk afhang. Sonder daardie druk verkeer die VSA se hegemonie in gevaar.

Turkse finansiële hulp aan mnr Morsi se regering verlede jaar het hom gehelp om pynlike ekonomiese hervormings wat deur die Internasionale Monetêre Fonds aangemoedig is, te omseil. Die Verenigde State was toe van mening dat sekere veranderinge – insluitend ‘n vermindering van voedsel- en elektrisiteitsubsidies – nodig was om te help om Egipte uit sy ekonomiese wanorde te help. Maw, deur energiepolitiek het die VSA Morsi onder kwaai druk geplaas om aan die IMF se raad gehoor te gee.

Intussen het twee van die rykste monargieë in die Golfstate verlede Dinsdag $8miljard in kontant en lenings aan Egipte belowe, ‘n besluit wat ander rolspelers se invloed sal ondermyn.

Dié aansienlike finansiële hulppakket, wat deur Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate aangekondig is, is slegs ‘n dag ná die Egiptiese weermag lede van die Moslem-broederskap doogeskiet het, aangekondig. Die hulppakket beklemtoon ‘n voortdurende stryd om invloed tussen Saoedi-Arabië en Katar, in Egipte, asook die res van die streek.

Katar – wat in alliansie met Turkye verkeer – se finansiële, wapen- en diplomatieke steun aan die Moslem-broederskap, asook aan groepe in Sirië en Libië, is nie ‘n onbenullige kwessie nie. Saoedi-Arabië en die Emirate is doodbang dat Islamitiese bewegings en oproepe om demokrasie hul eie lande kan destabiliseer.

Die belofte van soveel hulp beklemtoon die perke van Amerikaanse invloed: die Verenigde State van Amerika bied aan Egipte slegs $1,5 miljard jaarlikse hulp, ‘n geringe breukdeel van wat die Golfstate belowe het.

Wat duidelik blyk, is die Obama-administrasie se onsekerheid oor hoe om te op die militêre oorname te reageer, asook hoe om invloed oor ‘n toenemend chaotiese en gefragmenteerde Arabiese wêreld uit te oefen. Amerikaanse belange raak al hoe moeiliker om te definieer.

Dié hele verhaal en sy implikasies het heeltemal by die arme Beeld verbygegaan. Vir Beeld was die Arabiese Lente se einddoel ‘n “demokratiese bestel waarin individuele vryhede en leefruimte vir minderhede gewaarborg word en alledaagse werklikheid word”. Dus die uitkoms wat nié in Suid-Afrika verwesenlik is nie, ten spyte van ons Grondwet!

Die spanning tussen Katar en Saoedi-Arabië is ouer en meer kompleks as net die Arabiese opstande wat in 2011 begin het. Saoedi-Arabië verkies om sy tjekboekdiplomasie stil en agter die skerms te voer, en sien homself as die plaaslike leier. Maar Katar se buitelandse beleid, wat met behulp van sy rykdom en Al Jazeera – die TV-netwerk – gevoer word, speel al geruime tyd ‘n deurslaggewende rol in sommige van die streek se belangrikste gebeure.

Katar is gasheer vir die grootste Amerikaanse militêre basis in die Midde-Ooste, dog finansier Moslemgroepe in Tunisië, Libië, Sirië en Egipte, dikwels die kant van die Moslem-broederskap of sy affiliasies, soos Hamas.

Saoedi- en Emirati-hulp kan dieselfde doel dien om die invloed van politieke Islam te bestendig, ongewilde besluite (in Amerikaanse oë) aan te help en Amerikaanse invloed oor Egipte se volgende regering te beperk.

Dit het weinig met enige grondwet en Hitler te make, maar Beeld se lesers sal dit seker nie agterkom nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.