Die ding met bloed

Fransi Phillips

Fransi PhillipsVoorgedra tydens ‘n vergadering te Villeria, Pretoria, op 13 Julie 2013

 My ouma aan moederskant het eenkeer vir my gevra: “Kind, hekel jy dan nooit?”

Toe vra ek vir haar: “Ouma, skryf Ouma dan nooit boeke nie?”

En ‘n ander keer: “Waaraan sit jy heeltyd en dink?”

“Ek dink nie, Ouma, ek luister.”

“Waarna luister jy, ek hoor dan niks?”

“Na die bloed wat in my are vloei.”

Ek sou ook kon sê: “Dis dieselfde bloed wat in die Vryheidsoorloë en in konsentrasiekampe gevloei het, en in die are van my groot-ouma aan vaderskant se suster, wat die vrou was van genl. De la Rey.”

En verder sou ek kon sê: “Die ding met bloed is dat dit nie praat of fluister of waarsku nie. Die ding met bloed is dat dit droom, en dat ‘n mens as jy goed luister, die bloed die drome in ‘n snaakse blikkerige dreunstem kan hoor sing. Wat die rede is hoekom mens daarna luister.”

In die sewentiger- en tagtigerjare, wat die tyd was toe ons besig was om grootmense te word, het daar die bloed gevloei van swart skoolkinders wat veg vir hulle vryheid, en van necklace-slagoffers, en van martelare vir ‘n struggle, en van ons broers op die grens, en van stedelinge in bom-aanvalle.

Soms was dit moeilik om tussen polisie en ambulanssirenes en politieke propaganda deur te hoor wat dit is wat die bloed vir ons sing.

Die swart kinders in die skole het die vryheid verwerf waarvoor hulle bloed vergiet het en waarvoor hulle bloed vergiet is. Dis nie asof hulle heeltemal begryp wat om met die vryheid te doen nie, maar dis hulle s’n, en ek kan daarmee leef, solank as wat ek hoegenaamd toegelaat word om te leef.

Ek kan leef met die feit dat ek, terwyl ek ‘n Afrikaanse skrywer is, in Rusland moet Engels gee omdat ek nie in my eie land mag werk nie.

Ek kan leef met minus 23 grade, wanneer mens jou oë moet knip om te keer dat dit vasvries, en jou asem in ys verander waarin jy verstik. En met kraaie en stukke ys wat deur die wind uit Siberië teen jou kop vasgewaai word terwyl jy probeer balanseer op die ys, en met wilde honde wat soos wolwe deur die strate en woude agter kraaie aan blaf in die sneeu .

Waarmee ek nie kan leef nie, is met die bloed wat twintig jaar ná die bevryding nog steeds in ons land vloei, om redes wat ek nie vanuit my eie kultuur kan verduidelik nie en wat ek nie bereid is om vanuit ‘n ander kultuur te verduidelik nie.

Waarmee ek nie kan leef nie, is met hoe Afrikaanse skrywers hulleself laat verbied het om te luister na die bloed wat ten hemele skreeu.

Die ding met bloed is, wanneer ek nie meer die drome wat die bloed met sy snaakse blikkerige helder dreunstem vir my sing kan oorvertel nie omdat die taal waarin ek praat opgehou het om te bestaan, ek die bloed sal gebruik om te skilder. En die droom wat ek in bloed sal skilder, sal ‘n droom wees van ‘n land langs ‘n rivier, met mense wat in inheemse landskappe bedreigde diere en minderheidsgroepe beskerm, wat virtuele skole in bote op eilande bedryf waarvandaan hulle geletterdheid verkoop aan ‘n donker kontinent, met boomhuise waarin hulle hulle regte opeis van verwonderde diplomate.

Waar ek die kleur mag wees wat ek is, waar ek mag hou van wie ek hou,

waar ek mag gee omdat ek wil, waar ek openlik trots mag wees op my voorouers,

waar ek my kultuur mag beoefen in ooreenstemming met my Europese herkoms.

Waar ek die taal mag praat waarin ek my bloed hoor droom.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.