‘Volksvergadering’ in Villeria mobiliseer Afrikaner-aktiviste

volksvergadering
Deel op

volksvergadering‘n Nuwe kultuur van tegnologiese aktivisme, tesame met ‘n herlewing van patriotisme is onder Afrikaners vaardig, te oordeel aan die groot opkoms gister by ‘n sogenaamde “volksvergadering” wat in Pretoria gehou is. Ná die vergadering het mense tou gestaan om hul name te laat opskryf om deel van die huidige Afrikanerbeweging te word.

Sprekers wat aanvanklik die nagenoeg 300 mense in die saal van die Laerskool Pierneef in Villeria toegespreek het, was: Willie en Francois Cloete van die Federale Volksparty, Sunette Bridges van die Boerevroueliga, Hannes Engelbrecht van Boerekrisisaksie, die skryfster Fransi Phillips en dr. Dan Roodt van PRAAG.

Ook in die saal teenwoordig was me. Miemie Fick, wat twee weke gelede die “Boikot Naspers”-veldtog op Facebook geloods het en waarvan die ledetal intussen tot net onder die 20 000 toegeneem het.

Volgens die Cloetes, vader en seun, moet aanstaande jaar se verkiesing in Suid-Afrika deur Afrikaners as ‘n referendum gebruik word om die steun vir selfbeskikking te toets. Mnr. Hannes Engelbrecht meen ook dat politieke posisies vir Afrikaneraktiviste nuttig kan wees omdat hulle dan deur die staat vergoed sou word om te doen wat hulle tans doen.

Die gesamentlike ledetal op sosiale media soos Facebook en Twitter wat in die saal verteenwoordig was, was meer as 100 000. Agterna het aktiviste wat mekaar reeds onder skuilname op sosiale media ken maar nog nooit werklik kennis gemaak het nie, blad geskud en strategieë bespreek.

Me. Sunette Bridges het aan die begin van die vergadering op die verhoog met Die Stem weggeval en die hele saal genooi om uit volle bors saam te sing. Vele mense het ná die vergadering die sing van Die Stem as ‘n emosionele ervaring beskryf, gegewe die gevoel van “ons is ‘n minderheid van ‘n minderheid” wat ook sterk deur die predikant in sy openingsboodskap, die verhaal van Gideon uit Rigters, beklemtoon is.

Verskeie oproepe tot Afrikaanse organisasies en leiers om beter saam te werk, is geloods. Verskeie sprekers vanaf die vloer het gevra waarom daar soveel groeperinge en partye is wat Afrikanerselfbeskikking voorstaan, terwyl almal behoort saam te werk om dié ideaal te verwesenlik.

Volgens me. Sunette Bridges, “stig ons telkens ‘n komitee. Agterna hou ons nie van wat die komitee doen nie en stig dan nog een. Pleks dat sake uitgepraat word en daar daadwerklik tot aksie oorgegaan word.”

In sy toespraak het dr. Dan Roodt verwys na die Kosovo-opinie van die Internasionale Geregshof in Den Haag van 22 Julie 2010 wat dit vir elke volk of etniese groep moontlik maak om eensydig onafhanklikheid ter verkleer. “Selfbeskikking is ‘n inherente mensereg waarvoor ‘n mens geen toestemming van ‘n staat of die internasionale gemeenskap nodig het nie,” het hy gesê. “Afrikaners se groot probleem is dat hulle nie kan besluit watter deel van die land hulle wil opeis nie.”

Volgens Roodt gaan kulturele selfbeskikking soos dit in Westerse state soos België of Kanada beoefen word, nie in Suid-Afrika werk nie, omdat die staat en sy masjinerie nie die grondwet eerbiedig nie. Wetteloosheid en korrupsie maak kulturele selfbeskikking onmoontlik, daarom moet daar na sterker vorme van selfbeskikking met selfregering gekyk word.

Daar moet taalgrense in Suid-Afrika getrek word soos dit in België gedoen word. Oral in gebiede waar Afrikaners in die meerderheid verkeer, behoort Afrikaans die openbare taal te wees sodat dit vir almal helder sal wees dat hulle daardie gebied vir hulself toeëien.

Die skryfster Fransi Phillips het ‘n ontroerende voordrag rondom die tema van “bloed” gelewer. Dit gaan om die bloed van slagoffers wat veral sedert 1994 vergiet word en om na die boodskap daarvan te luister. In haar kinderdae het sy ook terwyl sy nadeink en mymer “na die suising van haar eie bloed geluister”. Die nuwe Suid-Afrika en diskriminasie teen blankes – mense van haar bloed – veroorsaak dat sy as Afrikaanse skryfster deesdae in die koue Rusland Engels moet gee waar jy jou oë gereeld moet knip sodat hulle nie vries nie.

Verskeie lede van die gehoor het verklaar dat hulle daarby betrokke wil raak om gesinne en gemeenskappe teen geweldsmisdaad te beskerm. Dr. Roodt het daarop gewys dat daar reeds ‘n groot aantal geslaagde buurtwagaksies in Pretoria en elders is en dat sulke verenigings nouer behoort saam te werk. Die beskikbaarheid van goedkoop tweerigtingradio’s deesdae vergemaklik kommunikasie oor veiligheidsake in gemeenskappe.

Me. Sunette Bridges het Afriforum skerp gekritiseer omdat hulle nie self verteenwoordigers na die vergadering gestuur het nie, maar slegs twee jong meisies in T-hempies afgevaardig het om lede te kom werf. “Lyk my Afriforum stel net in inkomste belang,” het sy gesê. Nietemin het sy die meisies welkom geheet en beklemtoon dat “hulle net hul werk doen” en dus nie vir Afriforum se bestuursbesluite geblameer behoort te word nie.

‘n Informele voortsettingskomitee is saamgestel en daar word beoog om met sowel die Vryheidsfront Plus as die bestaande Afrikaner- Strategiese Komitee in gesprek te tree om die soort aktivistiese, patriotiese kultuur wat tans op sosiale media en die internet woed, ook in daardie geledere in te dra. Die vergadering voel dat daar nie vinnig genoeg gehandel word om Afrikanerselfbeskikking te verwesenlik nie.

“Ses-en-vyftig persent van ons jongmense verlaat die land,” meen me. Sunette Bridges. “Hulle kinders word almal in die buiteland gebore. Ongeag al die moorde op ons, is ons besig om as volk uit te sterf. Ons het regtig nie meer tyd nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.