Hennie van Deventer oor Nelson Mandela

Deel op

Hennie van Deventer, ‘n oud-redakteur van Volksblad, woon deesdae op Melkbosstrand. Hy skryf soms briewe aan koerante. Hy mymer graag oor die verlede en gebruik sy LitNet-blog vir hierdie doel. Op 7 deser het hy ter ongekwalifiseerde verering van Nelson Mandela, “Madiba” genoem, ‘n brief in Rapport gepubliseer. Sy brief is nie in sy geheel in die koerant weergegee nie. Van Deventer voel sterk daaroor dat sy lesers volledig in sy besondere insigte moet kan deel. Hy het dus dadelik sy volledige brief op sy blog gepubliseer. Die maklikste om toegang tot hierdie stukkie dinkwerk te kry, is waarskynlik via die LitNet-nuusbrief van 10 deser. Ek haal aan uit sy onverwelkte, outentieke, volledige teks.

Van Deventer vra hom af: “Wat sou ‘n gepaste gedenkteken vir Madiba wees?” Hy noem Mandela “dié internasionale ikoon” en “die vader van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie” [nasie?]. Mandela kwalifiseer “seker vir ‘n groter eer as net sy gesig [wat nog?] op ons geldnote, en ‘n munisipaliteit hier, ‘n universiteit daar of ‘n klompie strate wat sy naam dra. Die tyd om verbeeldingryk en kreatief te dink, durf nie uitgestel word nie. Op die lange duur sal die waardige verewiging [!] van die Mandelanaam immers veel meer gewig dra as al die nagwake, straat-demonstrasies, vragte ruikers, perorasies, briefies, boodskappe en ander verganklikhede van die laaste weke.”

Van Deventer noem dat hy al in 2002 voorgestel het dat die Nasionale Kruger-wildtuin tot die Nelson Mandela-Vryheidspark herdoop word. Let op die voorgestelde vervanging van die ekologiese term “wildtuin” met die politieke term “vryheidspark”. Hou ook in die gedagte dat ons groot moet dink. ‘n Park klink groter as ‘n tuin. “Natuurlik sou die prysgawe van die geliefde Krugernaam ‘n reuse-opoffering behels. Dink egter net watter plusfaktor dit vir samebinding kan wees as ‘n raakvat-idee vir die Groot Verering van Nelson Mandela in Afrikaner-geledere gebore word … Wat kan treffender simbole van wedersydse vergewensgesindheid wees … en boonop waarborg dat die park as trots vir Suid-Afrika, en vreugde vir besoekers, in ‘n spogtoestand gehou word?” ‘n Mens vra jou af: Is die talle Mandela-strate in ‘n spogtoestand?

Hoe konkretiseer Van Deventer sy poging tot grootse denke in uitdruklike voorstelle? Om die Mandela-naam aan die grootste plaaslike lughawe te gee, is volgens Van Deventer om te klein te dink. “Vir ‘n waardige verering van Nelson Mandela sal groter gedink moet word.” ‘n Stad is groter as ‘n lughawe. Van Deventer se voorstel is “om Pretoria liewer Mandela te noem as Tshwane (‘n skadufiguur).” Wat is (moontlik) groter as Pretoria? ‘n Berg. Waaraan Van Deventer gedink het, is nie ‘n stukkie berg soos Cathkin Peak nie, maar “die hele Drakensberg-reeks.” Waarom nie dit na “Madiba” noem nie? – die berg sal immers nie beswaar opper nie. Wat is seker groter as die hele Drakensberg-reeks? Die Kruger-wildtuin. Vandaar Van Deventer se voorgestelde naamsverandering.

Op hierdie punt hou Van Deventer op om al hoe groter te dink. Maar hy het deur voorbeeldstelling aan ons ‘n metodiek verskaf waarvolgens ons op ons eie kan voortgaan om te dink. Wat is groter as die Kruger-wildtuin? Seker agt van die nege provinsies. Wat is groter as ‘n provinsie? Die hele land. Suid-Afrika kan daarvolgens Madibië genoem word. As Mandela egter “dié internasionale ikoon” is, sou ‘n landsnaam steeds nie reg aan hom laat geskied nie. Ons hoor daagliks dat die wêreld se oë op die siek Mandela is. Deur al hoe groter te dink, kan die aardbol, die son, die Melkweg en die heelal na Mandela genoem word. Dit toon waartoe ‘n “raakvat-idee” van ‘n oud-joernalis kan lei; dus hoe Van Deventer se denke al hoe meer ‘n “plusfaktor” word.

Voordat ons soos Van Deventer “verbeeldingryk en kreatief” verder oor die moontlikheid van Mandela-verering dink, moet ons liefs eers oor Mandela se geskiedenis lees, bv David James Smith se boek, Young Mandela (London: Weidenfeld & Nicolson, 2010, 340p). Daarna kan rasioneel besluit word of Mandela vereer behoort te word en, indien wel, in hoeverre dit wenslik is..

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.