Media24: Opgestopte speelgoedhondjies

Deel op

Een aspek van die dooieboommedia is dat hulle ‘n mens se gesonde verstand onophoudelik beproef met hulle teenstrydighede. By Media24 grens dit so aan skisofrenie dat hulle redaksie se permanente geestelike toestand een van ontkenning en verwardheid is, wat steeds nie kan uitwerk wat die globale toestand op enige gegewe dag is nie, laat staan nog die werklikheid wat Afrikaners in die gesig staar.

Beeld sal daagliks sonder skroom oor die verskriklike misdaadsituasie waarmee ons mense te kampe het, berig. Maar wat dié koerant betref, het die misdaad geen oorsaak, daders of motief nie. Moorde en marteling gebeur sommer, en enige iemand wat dit durf waag om te vra waarom alle wittes dit moet ontgeld aan die hand van swart aanvallers, is by voorbaat verdag.

Erger nog, asof niemand sal onthou dat Media24 en Beeld self oorblyfsels uit die ou apartheidsjare is nie, rakel die redaksie die “verregses” en “apartheidsapologete” op om die aandag van hulself af te hou.

Dit het trouens een middelmatige skrywer genoop om ‘n swart aanval op haar bejaarde ouers te bevraagteken, omdat hulle nie “verregse rassiste” is nie. Maw, die “verregse rassiste” verdien blykbaar om gemartel en vermoor te word, en die “getransformeerdes” nie. Die lastigheid is natuurlik dat die daders hulself afvee aan sulke kategoriëe wat Beeld gerieflikheidshalwe geskep het om aanvalle op Afrikaners mis te kyk. En natuurlik wil hulle blind wees, want hulle praat die bestel wat hierdie misdaadmonster gebaar het, daagliks in opiniestukke goed.

Ons leef dus konstant in twee verskillende en teenstrydige wêrelde. In die een is ons almal goeie, patriotiese “Suid-Afrikaners” wat elke blye dag tegemoet gaan en transformasie met groot entoesiasme omhels. In die ander is ons wit misdaadslagoffers van ‘n ongekende haatgolf wat oor ons spoel, waar die daders anoniem en kleurblind bly, maar waarskynlik optree ter bestraffing van apartheid en transformasie-verset. Sieklik!

Media24 maak seker dat hulle dieselfde graad van verwarring oor elke gebeurtenis in die wêreld skep. Neem byvoorbeeld Egipte. In die nasleep van die militêre staatsgreep teen die Egiptiese president, Mohamed Morsi, is daar oor die onrus in Kaïro met min belang in die uitslag berig.

Wat Beeld betref is Egipte nie meer ‘n strategiese speler in die streek nie, en dus is die politieke geweld niks om oor te bekommer nie. Die berigte is omtrent ‘n presiese weergawe van wat Washington uitstraal. Nie een gebeurtenis het ‘n aanloop, ‘n oorsaak of ‘n gevolg nie, amper soos plaasmoorde. Dis sommer nuus wat daar in die lug hang, sonder konteks.

Die Obama-administrasie wonder nog steeds of dit ‘n staatsgreep was wat ontvou het.

President Morsi se laaste ure in die stoel, wagtende op sy lot in die hande van die Egiptiese weermag, is ‘n interessante verhaal. Die Egiptiese weermag is, net ter inligting, al vir die afgelope 40 jaar ‘n Amerikaanse bate.

‘n Arabiese minister van buitelandse sake het deurgebel om te vra of Morsi die aanstelling van ‘n nuwe eerste minister en kabinet sal aanvaar, wat van Morsi ‘n blote pion sal maak in ‘n magtelose, seremoniële posisie. Die Arabiese minister van buitelandse sake het dit duidelik gemaak dat hy as ‘n gesant van Washington skakel.

Morsi het die aanbod verwerp. Sy top- buitelandse beleidsadviseur het dadelik uit die vertrek gestap om die Amerikaanse ambassadeur in Egipte, Anne Patterson, in te lig. Maar toe hy terugkom, het hy aangekondig dat hy pas met met Susan Rice, Obama se nasionale veiligheidsadviseur, in Washington, gesels het wat hom in kennis gestel het dat die staatsgreep gaan begin.

Dus is die VSA baie diep betrokke by die gebeure in Kaïro, maar die supermoondheid probeer “ambivalent” of selfs “afsydig” oor die lot van die Arabiese wêreld se mees bevolkte land lyk. Niks snaaks nie. Dis die stof waarvan buitelandse belange aanmekaar gesit is.

Wat egter ongelooflik is, is die vermoë van die media om twee teenoorgestelde werklikhede binne hul eie blaaie te akkommodeer, en sonder skaamte of selfs sigbare verleentheid, die heersersklas se manipulasies as nuus weer te gee.

Wel, hier’s nuus vir hulle: Dis nie nuus nie, want nuus vereis ‘n mate van afstand en ontleding en konteks wat net hoegenaamd nie teenwoordig is nie. Die media is lankal nie meer waghonde nie, maar skoothondjies. Eintlik is Media24 ‘n versameling opgestopte speelgoedhondjies vir hulle base en hulle korporatiewe kollegas.

Hulle is nie in die besigheid van betroubare inligting nie, maar van die rasionalisering en verontskuldiging diegene in beheer se gedrag. Indien daar teenstrydighede in enige verhaal is, kan dit altyd behang word met gerieflike aanvalle of ‘n swartsmeerdery of leuens of al drie in die volgende uitgawe. Vra maar vir die “verregses”. Vir Media24 is hulle blykbaar meer vreesaanjaend as die kindermolesteerders en Suid-Afrikaners wat oumense se vingers met snoeiskêre afsny.

Die groot nuus aangaande Egipte is terloops dat die VSA – wat afhanklik is van Moslem-fundamentaliste as die voetsoldate vir imperialisme in Sirië en Noord-Afrika – pas hul Moslem-broederskapvriende in die rug gesteek het, by name die voormalige president Morsi.

‘n Mens kan veilig aanneem dat Beeld nie daaroor sal berig nie, net soos hulle geen analise van misdaad in Suid-Afrika sal duld nie. Dit sal nie inpas by hul verwarde en skisofrensiese styl nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.