Mandela is nie bewusteloos nie, medici weier om masjiene af te skakel

Deel op

Oudpres. Nelson Mandela se medici het die gedagte om die lewensondersteuningsmasjiene af te skakel, verwerp. Hulle sou dit net oorweeg in die geval van massiewe orgaanversaking.

Denis Goldberg, ‘n anti-apartheidsaktivis wat Mandela al langer as 50 jaar ken, het gesê die kwessie om die lewensondersteuningsmasjiene af te skakel is bespreek, maar uiteindelik verwerp.

“Die dokters het aangedui dat hulle eers dié opsie sal oorweeg indien sy organe begin ingee,” het Goldberg Vrydag aan AFP gesê. “Aangesien dit nog nie gebeur het nie, gaan hulle hom stabiel hou totdat hy herstel.”

Die 80-jarige Goldberg is in 1964 saam met Mandela gevonnis vir hul stryd teen apartheid. Hy het Mandela Maandag in die hospitaal besoek.

‘n Hofdokument wat nege dae gelede namens Mandela se familie ingedien is, het aangedui dat die 94-jarige voormalige staatshoof “in sy asemhaling bygestaan word deur lewensondersteuningsmasjiene”.

“Mediese praktisyns het die Mandela-familie aangeraai om die lewensondersteuningsmasjiene af te skakel,” het die hofdokument gelui. “Die familie oorweeg hierdie opsie baie sterk om seker te maak dat sy lyding nie uitgerek word nie.”

Die dokument, wat opgestel is om ‘n hof te noodsaak om ‘n dringende uitspraak in ‘n familietwis oor die oorskot van Mandela se kinders te lewer, het ook aangedui dat Mandela “in ‘n permanente vegetatiewe toestand” is.

Die presidensie het intussen aangedui dat dit nie die geval is nie, maar weier om verdere besonderhede oor sy toestand te verskaf, omdat dit Mandela se privaatheid sal skaad.

President Jacob Zuma en familielede van Mandela het intussen aangedui dat sy toestand verbeter het.

“Hy is duidelik baie siek, maar hy is by sy volle positiewe en hy het probeer om sy mond en oë te beweeg toe ek met hom gepraat het,” het Goldberg vroeër verduidelik. “Hy is definitief nie bewusteloos nie, hy het geweet wie ek is.”

Mandela is op 8 Junie in die hospitaal opgeneem met ‘n herhalende longinfeksie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.