Mandela-familie gee eksklusiewe begrafnisregte aan CNN

Deel op

Die Mandela-familie twis nou nog verder, dié keer oor die uitsaairegte vir Nelson se begrafnis wat aan CNN verkoop is. Die SAUK is droëbek en gebelg daaroor.

Mandla Mandela beskuldig die res van die familie daarvan dat hulle ook gelieg het oor Nelson Mandela se gesondheid terwyl hulle besig was om met die Amerikaanse uitsaaier CNN te onderhandel.

Volgens ‘n berig in vandag se Sunday Independent is ‘n “sensitiewe vergadering” aan die einde van verlede maand met die SAUK gehou. Tydens daardie vergadering het die Mandelas geëis dat CCN “voorkeurbehandeling” moet kry tydens ‘n eventuale begrafnis vir Nelson Mandela.

Die SAUK het gevoel dié eise was “onvanpas”. ‘n Amptenaar van die SAUK het gesê:

“Ons voel in die gesig gevat. Maar dit lyk asof daar min is wat ons hieraan kan doen aangesien die familie blykbaar hul eie planne het.”

‘n Tweede amptenaar van die SAUK het hom soos volg uitgelaat: “Dit was geen versoek nie. Hulle het dit geëis. Die CNN-ooreenkoms is klaar aangegaan.”

Dis egter nie duidelik wie van die Mandela-familie voordeel uit die CNN-ooreenkoms gaan trek en of enige betalings gemaak is nie.

Van hulle kant af wou CNN ook geen besonderhede bekendmaak nie en hul Johannesburgse verteenwoordiger, Kim Noorgaard, beweer dat sy nie op hoogte is nie. Bestuurders van CNN in Atlanta,VSA, kon nie deur die Sunday-Independent-verslaggewer bereik word nie.

Makaziwe Mandela was ontsteld om te verneem dat die nuus uitgelek het. Sy wou nie verder praat as die naam van die SAUK-amptenaar nie bekendgemaak word nie.

“Sê my dadelik wie dit was,” het sy geëis. “Dit was ‘n vetroulike vergadering en daar behoort nie daaroor gepraat te word nie.”

Indien Mandela te sterwe sou kom, sou die SAUK in elk geval die enigste uitsaaier wees wat ‘n intydse uitsaaidiens gaan aanbied. Daardie toevoer sal dan kosteloos aan die res van die wêreld beskikbaar gestel word, waaronder CNN.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.