Kobus Kok, Jesus en Mandela

Deel op

Nelson Mandela het tereg al meerdere kere opgemerk dat hy nie ‘n heilige is nie en sy eerste vrou het ook hierdie feit beklemtoon. Politici en feitlik al die openbare media, bv koerante, tydskrifte, radio- en televisie-uitsendings, benader Mandela kritiekloos en wek die indruk dat hy ‘n heilige is. Sy minder vleiende verlede word nie opgehaal nie. Daar is deesdae nie ‘n gesonde balans in die uitlatings nie; iets waarop ware historici hopelik mettertyd die aandag sal vestig.

Die era waarin ons leef, dra die stempel van sogenaamde politieke korrektheid. In die praktyk beteken dit enersyds dat wit mense deur enigeen sleggesê mag word. Andersyds – en bowenal – beteken politieke korrektheid dat mense wat nie-wit is nie, nie gekritiseer mag word nie. Hoe verder van wit die pigmentasie, dus hoe donkerder die velkleur, des te meer gebiedend is dit dat net goed van diesulkes gepraat word.

Dit is in hierdie milieu dat Kobus Kok, ‘n dosent in teologie aan die Universiteit Pretoria, dit pas wys geag het om Mandela in dieselfde asem as Jesus te noem. ‘n Mens sou dink dat Kok as ‘n teoloog bewus daarvan sou wees dat gelowige mense emosioneel baie sensitief kan wees vir watter sterfling ook al met hulle godsbegrip geassosieer word. Voorspelbaar was daar dadelik kritiek. Politieke korrektheid eerder as wysheid was ongetwyfeld die dryfveer agter Kok se uitlatings en hy het verkies om daarby te hou.

In sekere kringe op die kampus, in die politiek en in die sosiale lewe – in ag genome die toestand waarin hierdie geledere is – sal Kok verhoogde aansien geniet. Daardie mense sal dink Kok se (politieke) hart is reg. Sy gesindheid is soortgelyk aan dié van die Springbok-rugbyspan en die -sewesspan wat onlangs by monde van hulle kaptein verklaar het dat hulle vir “Madiba” speel; dus nie rugby ter wille van rugby en gewoon rugby speel om te wen nie. Hierdie jongmense weet blykbaar nie dat nie-wittes in die vorige eeu herhaaldelik daarop aangedring het dat sport en politiek geskei moet word nie. Insgelyks behoort politiek uit godsdiens gehou te word, maar Kok dink anders; of beskou hy Mandela as bo die partypolitiek verhewe? – soos die DA doen.

Ek reageer na aanleiding van twee berigte, geskryf deur Neels Jackson, wat pas in Die Burger gepubliseer is. Eers die 27ste (p 4) se berig. “Daar is aspekte van … Mandela se lewe wat hom herinner aan Jesus, het … Kok … gesê. Kok het gesê hy wil nie daarmee Mandela gelykstel aan Jesus nie … Maar Jesus was ook volledig mens en ‘n visioenêre leier. In hierdie opsig toon Mandela se lewe ooreenkomste met Jesus s’n.” Dan hierdie lysie: “Leiers soos Moses, Jesus, Gandhi, Martin Luther King en Mandela het almal ‘n lang lydingspad geloop ter wille van ander.” Kok vertel hoe swaar al vyf gehad het om “hoop op ‘n beter toekoms” te wek. Deur te vergewe, “kon hulle die spiraal van geweld breek.” Hierdie bewoording wek die indruk dat die geweld net van bv die nie-Mandela-kant af gekom het en/of daar begin het. Kok meld nie of die hoop op ‘n beter toekoms werklikheid geword het nie.

Kok moes nooit met hierdie storie begin het nie. In die 29ste (p 5) se opvolgberig hou Kok egter by sy standpunt. Daar is darem ‘n ligpunt teen die einde wanneer hy tussen die jonger (en minder heilige) en die ouer (en meer heilige) Mandela onderskei: “Kok het gesê Mandela was ‘n politikus en vryheidsvegter in ‘n stadium in sy lewe. Dit was [liewer: is] nie ‘n mooi verhaal nie. Hy glo egter dat Madiba se mooi hart later in sy lewe vir hom iets beliggaam het van wat Jesus kom leer het.”

Kyk weer na Kok se lysie van vyf wonderlike indiwidue: Moses, Jesus, Gandhi, King en Mandela. Die eerste twee is tradisioneel as wit beskou, hoewel dit deesdae al hoe meer teengespreek word. Die ander drie is ongetwyfeld nie-wit. Naas die gebruik om van “liewe Jesus” te praat, is daar die gewoonte om ‘n troetelnaam vir Gandhi en Mandela te gebruik. Mahondas Gandhi word meesal Mahatma (vader van die nasie) genoem. Pleks van Nelson Mandela by sy voornaam en van te noem, gebruik sy ondersteuners graag sy stambenaming, Madiba of Tata. Terseldertyd word hy, soos Gandhi, as die vader van die nasie beskou; enersyds asof daar nie ‘n kontradiksie tussen die stam- en nasie-assosiasie is nie en andersyds asof daar regtig ‘n Suid-Afrikaanse nasie is. Suid-Afrika het klaarblyklik inwoners, maar daar is plaaslik nie ‘n inklusiewe nasie nie; daarvoor is die kulturele verskille te groot.

Daar is veral een vraag wat ek in die midde wil laat. Is daar in hierdie era van politieke korrektheid enige moontlikheid dat ‘n wit mens in dieselfde mate as Gandhi, King en Mandela verheerlik en geheilig en met ‘n troetelnaam toebedeel sal word? Ek dink nie so nie; maar daar kan baie mense wees wat moreel en andersins baie beter as daardie drie is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.