SA politiek verskuif van links na vêrlinks, met ‘n kappie!

Deel op

Die Suid-Afrikaanse politiek verskuif al hoe verder na links: van links na vêrlinks, met ‘n kappie! In vandag se Rapport verklaar Zille in wese dat haar party, die DA, vir die ANC se rassewetgewing stem waarmee blankes benadeel en swartes bevoordeel word. Watter “nuanse” is hier ter sprake? Dat die mense wat die groot bedrae geld ontvang van die ANC is en nie van die DA nie? Op Midvaal het ons gesien hoe DA-raadslede te werk gaan om hul sakke te vul en hoe die sogenaamde fluitjieblaser, Kobus Hoffman, deur Zille vervolg is!

Zille en die DA sit op twee stoele: aan die een kant beroep die party hom op die “ou Liberale Party” se beginsels en aan die ander kant steun hy swart bevoordeling. Ook staan hy staatsinmenging in die ekonomie voor.

Terloops, dié Liberale Party “uit die vroeë 1960s” waarvoor Zille soveel bewondering koester, was die einste wat ‘n Olimpiese boikot teen Suid-Afrika bepleit het en ook vir die stasiebom verantwoordelik was. Op sahistory.org.za gestel word daar oor die stasiebomterroris en lid van die Liberale Party, John Haris, gesê: “Cut off by his banning order from normal political activity, he became convinced that the only way left to fight for human dignity and freedom in his country was by more drastic means. He joined the African Resistance Movement (ARM), mostly members of the Liberal Party whose frustration with the lack of success of traditional politics had driven them, like those in the ANC who joined Umkonto we Sizwe, to engage in acts of sabotage.”

Wyle ZB du Toit, wat eens in Rapport geskryf het, het altyd gewaarsku dat indien daar twee groot swart partye in Suid-Afrika ontstaan wat mekaar probeer oorbie of aanhits om blanke bates af te vat of swart ekonomiese bevoordeling toe te pas, sou dit ‘n kwade dag wees.

Met die radikale “liberale” Zille aan die stuur, is dit besig om sienderoé te gebeur: die DA en die ANC wedywer nou om blankes te benadeel. Natuurlik steun die DA insgelyks “grondhervorming”: die etniese suiwering van Afrikanerboere vanaf hul familieplase.

Sedert die ineenstorting van die Berlynse Muur in 1989, het die aard en definisie van linkse politiek verander van ekonomiese marxisme na wat “kulturele marxisme” genoem word. Kulturele marxiste is gewoonlik anti-Westers, wat ook anti-blank beteken en wil die tradisionele gesin afbreek. Die blanke, heteroseksuele man, is vyand nommer een, omdat sommiges dalk nog aan die hoof van sulke gesinne met ‘n vader, moeder en kinders staan.

Ons het gesien hoe die DA, nes die ANC, die gedagte van homoseksuele huwelike en selfs aanneming van kinders deur homoseksuele paartjies ondersteun. Anders as in Frankryk, waar die Sosialistiese Party in die aangesig van hewige konserwatiewe teenkanting homoseksuele huwelike gewettig het, was daar feitlik geen openbare debat daaroor in Suid-Afrika nie. Wat nog te sê teenkanting.

Feit is dat die linkse konsensus in Suid-Afrika so sterk is dat vrae van konserwaties, “regses” en selfs klassieke, nie-marxistiese liberale, nie geduld word nie. Die hoofstroommedia het nog lank voor die politieke partye ‘n hele paar treê na links geneem – sewemyllaarsetreë om presies te wees. Marxistiese feministe soos Christi van der Westhuizen, wat eens die politieke redaktrise van Beeld was, het die vêrlinkse beleidshandboek vir die hoofstroommedia geskryf.

Daarvolgens moet blankes en heteroseksuele mans die skuld gegee word vir alles wat in die land verkeerd loop. Dis nie hoofsaaklik swart of bruin mans wat roof, moor en vroue verkrag nie. Dis “die patriargie” (lees: blanke mans met gesinne).

‘n Mens sou ‘n hele artikel oor die simboliek van die DA se verkiesingsplakkate wat Zille, De Lille en Mazibuko vertoon, kon skryf. Die afwesigheid van die blanke man op die DA se plakkate dra stilswyend die boodskap van kulturele marxisme oor: dat die wêreld gered moet word deur bruin en swart vroue en daardie blanke vroue wat hulle met die anti-blanke, anti-Westerse beweging vereenselwig.

Waarskynlik steun die DA ook SAL of SAA, soos dit deesdae eentalig Engels bekendstaan, se beleid dat geen blanke mans meer as kadetvlieëniers in diens geneem mag word nie. In ‘n rojale toegewing aan politieke korrektheid, word blanke vroue steeds by SAL as vlieëniers geduld.

Vandeesweek is daar deur sowel die ANC as die DA groot gewag van die 1913-Wet op naturellegrond gemaak wat kastig “87% van die land se grond in blanke besit gelaat het”. Dit het geskied as deel van die “honderdjarige herdenking” van die 1913-maatreëls. In werklikheid was daardie wet, wat deur die ou Sap-regering van Louis Botha ingestel is, bedoel om swart stamgrond teen blanke mededinging te beskerm. In 1936 is swart grondbesit verder uitgebrei. Tuislandkonsolidasie het bykomende grond van blanke boere vervreem en aan swartes oorgedra.

Soos dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront vandeesweek in sy parlementêre toespraak duidelik gemaak het, behoort die drie onafhanklike protektorate, Botswana, Lesotho en Swaziland, by die persentasie grond wat swartes in Suid-Afrika besit of beheer, ingereken te word. In 1913 is die Unie van Suid-Afrika as deel van “British South Africa” beskou en daarom is grond in die BLS-lande as swart grond gesien wat die verdeling in Brits-Suid-Afrika billik maak, iets naby aan 50-50.

Dit is nou afgesien van die Karoo. Daardie dorre woestyngebied maak 70% van Suid-Afrika se grondgebied uit. Indien die Karoo buite rekening gelaat word, beheer swartes reeds 50% van Suid-Afrika se landbougrond, selfs afgesien van die LBS-lande.

Vir Suid-Afrika se horde kulturele marxiste aan die universiteite en in die hoofstroommedia, gaan dit egter kwalik om historiese of ekonomiese argumente. Die ANC-regering is reeds besig om eiendomsreg van plaasgrond wesentlik aan te tas, iets wat die land op die sosialistiese, kollektiwistiese weg plaas.

Alle aanduidings is daar dat niks die ANC-bewind gaan stuit om “grondhervorming” na die Zimbabwiese model ook in Suid-Afrika in te voer nie. Op enkele “nuanseverskille” (soos mev. Zille dit noem) na, sal die DA hom hierin steun. Net soos die DA vandeesweek vir die ANC se SEB-wet gestem het.

Die gevolge van Suid-Afrika se verlinksing is rampspoedig. Opgeleide blankes, veral in die vrugbare ouderdomsgroep 20 tot 40, is besig om die land te verlaat. Nie net verloor die land só sy kundigheid nie, maar dit laat die blanke bevolkingsyfer nog verder daal omdat ‘n aansienlike persentasie van ons kinders deesdae in die buiteland gebore word.

SEB, oftewel, swart ekonomiese bemagtiging, was nog altyd ‘n uitnodiging vir korrupsie. Direkteure en uitvoerende beamptes van SEB-maatskappye sorg dat hulle altyd eerste bevoordeel word. Dit is nou nog behalwe die banke en ander finansiële instellings wat aardige fooie inoes om sogenaamde SEB-transaksies te “struktureer”.

Werkloosheid is besig om skerp toe te neem ondat entrepreneurs, waaronder ‘n groot aantal van die verguisde blanke mans, deur al die rassewetgewing aan bande gelê word en selfs deur die banke kapitaal ontsê word.

Die ergste gevolge van sosialisme en kollektiwisme het Suid-Afrika egter nog nie getref nie en sal eers voelbaar raak wanneer radikale grondhervorming binnekort plaasvind. Voedselpryse gaan die hoogte inskiet en omdat ‘n groot deel van ons kos ingevoer sal moet word, gaan die betalingsbalans nog meer onder druk kom as wat hy reeds is. Die rand sal na alle waarskynlikheid tuimel, met ‘n inflasionêre skok soos wat voedsel, maar ook brandstof, vir die gemiddelde inwoner van die land onbetaalbaar raak.

Die ANC se enigste opsie gaan wees om Sasol ook te nasionaliseer om sodoende gesubsidieerde petrol aan swart taxi’s beskikbaar te maak. Trevor Manuel het reeds geluide gemaak dat Sasol “te veel wins maak”. Een van die argumente wat linkses tans oor grond gebruik, is dat boere “tydens apartheid subsidies van die staat ontvang het”. Daarom behoort hul grond “in elk geval aan die staat” en kan maar “gevat” word.

As voedsel en brandstof begin klim, voorspel ek dat dié linkse argument oor plase ook op Sasol van toepassing gemaak gaan word. Omdat ‘n groot aantal Afrikaners steeds Sasol-aandele besit, ná dié staatsonderneming se destydse privatisering, sal hulle deur beide die ANC en die DA as ‘n ‘sagte teiken” gesien word wie se bates sonder vergoeding gekonfiskeer mag word.

Dis waarna u in ‘n toenemend vêrlinkse Sud-Afrika kan uitsien: grondgryp, ‘n randnoot waarop Mandela se gesig meer werd gaan wees as die monetêre waarde daarvan, asook uiteindelike nasionalisering van sekere sleutelsektore van die ekonomie soos Sasol.

Onthou net: u het dit eerste hier gelees.

Zimbabwe is vir ons ‘n voorbeeld. Juis vandeesweek het Mugabe aangekondig dat hy voortaan goedkoper petrol beskikbaar gaan stel. Ook die MPLA in Angola subsidieer petrol met behulp van sy olierykdom.

Groter armoede en selfs meer geweld as tans lê net om die draai.

Die wolk van kulturele marxisme en breinspoeling deur die hoofstroommedia verhoed egter die man op straat om dit raak te sien. Maar selfs al weet mense wat kom, is daar ‘n eienaardige fatalisme onder Afrikaners werksaam wat veroorsaak dat hulle maar gedweë hul lot aanvaar.

Soos kalkoene wat vir Kersfees stem, staan hulle ook tou by die DA-tent van die liberale marxis, Helen Zille.

Volg Dan Roodt op Twitter en “hou van” sy Facebook-blad.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.