Pangas, byle en handbyle ‘uitverkoop’ in Marikana

Deel op

‘n Winkeleienaar by Marikana se voorraad pangas en byle het tydens die onluste in die gebied van Marikana weens die verhoogde aanvraag daarna opgeraak.

“Daar was ‘n skielike en geweldige aanvraag na pangas, byle en handbyle vanaf 11 Augustus,” het die algemene handelaar, Mohammed Cassim, in ‘n verklaring vermeld.

Adv. Vuyani Ngalwana, namens die polisie, het gister voor die Farlam-kommissie uit die winkeleienaar se verklaring voorgelees.

“Ek het gewoonlik minstens 30 pangas op ‘n gegewe tyd in die winkel aagenhou, maar hulle is baie gou uitverkoop en ek moes nuwe voorraad gaan aankoop.”

Die kommissie, met as voorsittende beampte die afgetrede regter Ian Farlam, ondersoek die omstandighede wat tot die dood van 44 mense verlede Augustus gedurende ‘n onbeskermde staking by die Lonmin-platinamyn te Marikana gelei het.

Cassim se verklaring, tesame met dié van ‘n “mnr. Y”, is Dinsdag aan die kommissie voorgelê. Volgens Cassim was dit die eerste keer dat hy soveel wapens verkoop het.

“In al die tyd wat ek dié onderneming bedryf, was dit die eerste keer dat ek soveel pangas, byle en handbyle binne ‘n week verkoop het.”

Hy het gesê klante het gewoonlik pangas in koerantpapier toegedraai voordat hulle by die winkel verlaat het. Daardie week het hulle die wapens eerder in hul broeke en baadjies versteek.

Volgens “mnr. Y” se verklaring is hy op 13 Augustus op pad werk toe aangeval. Hy is verskeie kere gesteek en vir dood agtergelaat. Hy het oorleef en kon twee van sy aanvallers identifiseer.

Ngalwana het gesê dat dié verklarings bedoel is om dié van generaal William Mpembe, die adjunkpolisiehoof van Noordwes, aan die kommissie te ondersteun oor hoe mense in die gebied gedurende die onluste aanhoudend aangeval en beroof is.

Farlam het gesê dat die kommissie sou besluit of Cassim gevra sal word om te getuig.

Die ondersoek duur voort.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.