Kulturele selfbeskikking eerste doelwit

Deel op

Flip Buys (Beeld, 4 Junie) bied ‘n onbevredigende siening van Afrikanerselfbeskikking as ” ‘n soort strategiese risikobestuursplan” aan. Die Afrikaner-geskiedenis word egter deur ‘n vryheidstrewe gekenmerk: godsdiens-, handels- en kulturele vryheid.

Daar heers konsensus oor ons “foute van die verlede”: Linkse Afrikaners glo dat apartheid nooit moes bestaan het nie en regse Afrikaners meen dat 1994 ‘n fout was, asook dat oudpres. FW de Klerk nooit Afrikaner-soewereiniteit moes prysgegee het nie.

In ‘n beroemde Londense uitspraak in 1997 het De Klerk dié besluit beskryf as “sekerlik een van die pynlikste wat enige leier of sy mense ooit gevra kon word om te doen”.

Die vraag oor selfbeskikking gaan dus oor hoe ons daardie “foute van die verlede” kan regstel en weer vryheid kan verwerf.

Die grootste teenkanting teen selfbeskikking kom nie van die ANC nie, maar van Afrikaners self of ten minste daardie Afrikaners wat slegs na hul eie individuele belang kyk.

Noem hulle die neokoloniale soewereine individue. In die huidige Suid-Afrika met sy korrupsie en wetteloosheid sien hulle ‘n geleentheid om vinnig ryk te word.

Sedert die Kosovo-mening van die Internasionale Geregshof in Den Haag op 22 Julie 2010 kan enige volk ter wêreld te eniger tyd sy soewereiniteit opeis omdat, soos die hof dit gestel het, “die volkereg geen verbod op onafhanklikheidsverklarings erken nie”.

Dit is ook nie waar dat Afrikaners, soos Buys beweer, oor “geen natuurlike, betekenisvolle meerderheid” in die land beskik nie.

Ongeveer 50% van Afrikaners woon in die PWV-gebied en in baie voorstede verteenwoordig hulle óf die meerderheid óf die grootste enkele etniese groep.

Indien 0,06% van daardie PWV-Afrikaners wat in Kleinfontein saamgetrek het reeds ‘n hoë mate van eie bestuur en selfbeskikking geniet, hoeveel te meer kan die anderhalf miljoen dit nie verwerf indien hulle soos die Kleinfonteiners die wil daartoe ontwikkel nie?

Kulturele selfbeskikking moet ons eerste doelwit wees.

Pleks van “risikobestuur” toe te pas, behoort ons oor te gaan tot omgewingsbestuur. Gebiede moet beveilig word en Afrikaans moet weer as openbare taal daar gevestig word. In Europa, soos in Suid-Afrika, neig mense natuurlikerwys om in gebiede te woon waarin hul eie taal oorheers.

Die meeste mense in ons land verkies ‘n Engelse omgewing en sal dus neig om Afrikaanse omgewings te verlaat, net soos hulle ook nie hul kinders na Afrikaanse skole stuur nie.

Hierdie kommentaar verskyn ook vandag as ‘n brief in Beeld.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.