Afrikaner: Ploegbreker en Jannie Martelgat

Retina Zeyheri

Retina ZeyheriOntmoet Retina Zeyheri, veldplant. Nie ‘n asemrowende blom nie – so ‘n dieporanje kloktrossie wat ondertoe hang soos die lelle onder ‘n kaalnekhoenderhen se kinnebak. Die stam is bros en besaai met wit dons. Die blare is groot, tabakplantagtig. Alles inaggenome lyk dit nie na ‘n baie intimiderende plant nie. En tog, hier waar ek in die Oos-Vrystaat bly, benader ‘n saaiboer hierdie stuk flora met die grootste ontsag. Hulle noem hom die ploegbreker.

Onder die grond het hy so ‘n digte weefsel wortels dat ‘n ploeglem maklik daarin vasslaan en afgeruk word. Die protea is Suid-Afrika se nasionale blom, maar laat Retina Zeyheri die embleem van die Afrikaner wees. As ons weens ‘n wringslag van die geskiedenis teruggestort word in ‘n elektrisiteitslose wêreld en ridders maak weer hulle verskyning, laat die Afrikaner-kavalier ‘n ploegbreker op sy skild aanbring.

Gehardheid is ons een enkele onderskeidende volkseienskap. Vandat ‘n spul weerbarstige Hollanders aan die voetenent van die kontinent uitgeplant is, en later kruisbestuif is met die beste Franse bloed en die onuitwisbare, geharde gene van Duitse huursoldate, het hierdie plant die ploeë van wêreldryke, ‘n onstuimige vasteland en ‘n afgunstige horde geweldenaars gebreek. Hulle het ons verwerp, verwilder, verjaag, verdruk, oorval, vasgekeer, verdelg, beledig, verraai, vertrap, verkrag, verlei… en hier is ons steeds, gereed om nog êe en disse van rame af te ruk.

Al hierdie mense het dit vergeet, en dit is ‘n liederlike flater.

Die feit dat die Andere die Afrikaner se ploegbrekerwortelstelsel verontagsaam en hom sien as ‘n eenvoudige veldblom wat met gemak uit die vlak aardkors geskoffel kan word, is erg en dis irriterend, erg irriterend, maar wat baie erger is, en onhoudbaar meer irriterend, is dat hierdie miskenning nou dreig om die hoofstroom-Afrikaner-denke te deurtrek.

Dis ‘n sonbesiekoor in die samelewing van ons tyd: Hulle het ons land gevat, hulle het ons werke gevat, hulle het ons universiteite gevat, hulle vermoor ons in die stede, hulle vermoor ons op die platteland, hulle verander ons dorpsname, hulle vat ons skole…

En sekerlik het ons die volle reg en omvattende redes om te kla, en my oog is nie weggedraai van die ellende en my oor is nie toegestop vir die klagtes nie. Maar om Vadersnaam, hierdie krisisse is Afrikaner-krisisse en moet in die huis van die volk en nie in die straat van die Andere behandel word nie. Daar is niks so stoer soos ‘n stoere Afrikaner nie, en blykbaar niks so pateties soos ‘n patetiese Afrikaner nie.

Ek verstaan nou hoe Basjan gevoel het. Basjan Basson was ‘n skoolvriend, bietjie ouer as ek, en “Bombastiese” sou ‘n nommerpas alliterasie gewees het om saam met die Basjan en die Basson te gaan: Bombastiese Basjan Basson. Maar weet dít van Basjan, hy was ‘n hartstogtelike patriot. Op ‘n dag gaan draf hy – ter voorbereiding van ‘n voetbalseisoen op vaskopstut – deur ‘n vervalle mynnedersetting aan die buitewyke van Brakpan, en kom hier op ‘n afgryslike toneel af: ‘n Alkoholdeurdrenkte, wit ou man, sit in die venster van ‘n huisbouval, maer boude na buite, en ontlas. Wat die jong Basson die diepste gekrenk het, was die kringetjie van swartmense wat in die onmiddellike omgewing gestaan en die oukêrel uitgejou, gekoggel en met die grootste ironie aangemoedig het. In sy walging en verontwaardiging was daar net een ding waaraan Basjan kon dink – hy het klippe opgetel, nie om die kring van die spotters te verjaag nie, maar om die ouman in sy daad van selfvernedering te stuit.

Want wanneer het die Afrikaner so pateties geword dat hy voor die oë van die Andere deur ‘n gebreekte venster skyt?

Die gekwetter in die kanariehok het hierdie week grotendeels oor ‘n BBC-dokumentêr en gepaardgaande internetartikel gegaan. “Het witmense ‘n toekoms in Suid-Afrika?” vra die titel, en die stuk se slotsom is: Errr… nie eintlik nie. Eintlik, lees ‘n mens, is die witmens dubbel-en-dwars in sy ghwar in – net plakkerskampe en witkruise waar jy kyk. Die swartman is die indoena van alles wat hy beskou – en daarby alles ingesluit wat eens die Afrikaner s’n was. Moet net nie te jammer voel vir die witman, nie, maan die artikel, want hy is nog heeltemal te ryk, besit heeltemal te veel effektebeursaandele en beklee heeltemal te veel posisies. Buitendien – en dis ‘n groot buitendien – hoe vrot dit ook al met hom gaan, hy verdien veel erger as gevolg van die drie eeue se sistematiese onreg wat hy teenoor swartes gepleeg het.

So, dit gaan ellendig met hom, maar nie so ellendig as wat dit in die toekoms sal gaan nie en dit is sy verdiende loon. As daar nou een soort artikel is waarin die Andere hulle verlustig, is dit in hierdie styl. Vir hulle is geen idee aantrekliker, tintelender of meer genotverskaffend as dié van ‘n Afrikaner wat so afgetakel is dat hy deur die stukkende venster van ‘n bouvallige huis skyt nie.

Die spotters versamel in ‘n halfmaankring om die petalje te geniet en ‘n spotter is niks indien nie meewarig nie. Voeg een uit Zimbabwe ‘n Sjona-spreuk as kommentaar tot die storie by: “Die byl wat die boom sny vergeet dit maklik, maar die boom wat gesny is, vergeet nooit,” bedoelende natuurlik dat die Afrikaner se huidige ellende toe te skryf is aan die onreg wat hy teen die swartmens gepleeg het.

Dankie daarvoor, maar dit lyk vir my of die makker tog vergeet het wie en wat die byl is en hy het geen idee, géén idee, van hoe diep en seer die byl kan byt as dit nodig sou wees nie. Dis erg genoeg dat die bome nie die byl behoorlik kan onthou nie, maar dit is tragies dat die byl self vergeet het wat hy is.

Ek praat seker dan net namens myself, maar ek is ter dae sat van Afrikaners wat buite die laer neul oor hoe sleg dit met ons gaan. Hier word nie eers van die Max du Preez- Tim du Plessis-soort liberale Afrikaner gepraat nie. Hulle het net geen reg om inhuisig of buitemuurs te kerm oor die huidige regering nie. Dit was die noodwendige gevolg van wat hulle bepleit en waarvoor hulle hulle bewyer het. Hulle moet maar grinnik en kopknik en ja-baas, nee-baas.

Maar daar is nou soveel goeie, volksvaste Afrikaners wat by die bure en die res van die wêreldgemeenskap wil gaan neul. Sowaar? Is dit ons beste oorlewingstrategie? Om in die openbaar te kerm? Van wanneer af het die Afrikaner so pateties geword dat hy deur ‘n oop venster skyt? Van wanneer af het die Afrikaner ‘n Jannie Martelgat geword?

Miskien dink hulle die strategie is ‘n wenner omdat dit vir die swartman gewerk het. Ja, dit is so, as die swartman se onderlip bewe, gaan die Westerling se beursie oop. Maar dan betaal hy wel vir iets wat vir hom waarde het – die selfverheffende gevoel dat hy ‘n ondergeskikte, hulpelose ellendeling gehelp het. Maar in Afrika is dit nét die swarte wat hom so laat voel. Die Westerling weet instinktief dat die Afrikaner skrander, hardwerkend, gedug genoeg is om na homself om te sien. Hy het geen moeite om sy beursie in sy sakke te hou nie al huil die Afrikaner riviere van snot en trane.

Dis tyd dat die ploegbreker onthou wie hy is. Daarom is geskiedenis belangrik. Ek het tans die uitsonderlike voorreg om ‘n boek oor die geskiedenis van die Brandwaterkom te redigeer en uit te lê. Hier darem, sien jy die ploegbreker op sy beste.

Hierdie mense het in ‘n ongerepte vallei opgedaag. Daar was geen tuiste nie. Maar hulle het nie gekla nie. Hulle het plase uitgelê en begin werk. Daar was nie bome in die Oos-Vrystaat nie, so hulle het huise van sooie gebou.

Dit was bergwêreld en die velde was bestrooi met klippe. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het die klippe opgetel en uit die veld gedra.

Die grond was moeilik. Maar hulle het nie gekla nie. Met die mees primitiewe implemente het hulle landerye geploeg en boorde aangeplant.

Daar was baie ongediertes, afgunstige inboorlinge en wilde diere. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het klippe teen oorhangkranse gestapel en veekrale so gemaak.

Dit het dekades geduur vir die eerste tekens van voorspoed om te verskyn, toe verdryf die Engelse boere tydens die Oorlog en brand die huise en plase af. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het voortgeveg.

Die mans het bittereinders geword of is gevang en gedeporteer. Hulle het nie gekla nie. Op kommando het hulle die Kakies op hulle herrie gegee. In Ceylon het hulle die gevange seuns leer skryf, hulle het viole uit hout gekerf, skaakstelle gemaak, kerk gehou.

Die Engelse het die vrouens gejag. Maar die ma’s het nie gekla nie. Hulle het in die snerpende koue wegkruipertjie met die Engelse in die berge gespeel en deur die winter met hulle kindertjies in grotte geslaap.

Na die oorlog was daar niks om na terug te keer nie. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het voor begin. Die eerste dae het hulle balke skuins teen afgebrande huise se mure gepak en dit met sooie bedek vir skuiling teen die nagkoue.

Dit het bloed en sweet en trane gekos, maar ‘n anderhalfdekade later het hulle weer begin voorkom. Toe breek die rebellie uit en hulle aspirasies word verpletter en hulle leiers gevang. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het die Helpmekaarfonds begin en Generaal de Wet en die ander se boetes betaal en hulle bevry.

Die depressie het hulle inkomste uitgewis. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het deurgedruk.

Die Engelse wou nie vir die Afrikaner hulle eie skole, universiteite en koerante gun nie. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het hulle pennies opeengehoop en hulle eie skole, universiteite en koerante begin.

Die Afrikaner is as tweedeklasburger behandel. Maar hulle het nie gekla nie. Hulle het net harder gewerk, kanse aangegryp, maatskappye gestig en ander oorgeneem, geleer, nog harder gewerk en uiteindelik die regering oorgeneem.

Vandag se Afrikaner is onmeetbaar ryker as die pioniers van die Brandwaterkom. Hulle het kennis, geleenthede, vaardighede, opvoeding. En die mense kla.

Hou dan tog net op neul. As dit net sou werk – maar dit gaan nie. Jy is nie swart nie. En ons as volk het geen rede om te kla nie, want daar is nie een probleem wat ons nie kan oplos nie.

Hou op om in die wêreld se ore te neul. Wit plakkerskampe is nie die Britte se probleem nie – dit is die Afrikaner s’n. Die aanslag op Afrikaans is nie die Hollanders se krisis nie – dis die Afrikaner s’n. Die Suid-Afrikaanse moordvlaag is nie Swede se ellende nie – dis die Afrikaner s’n.

Moenie met ‘n witbrood onder die arm kla nie, het die oumense gemaan. Eweneens, as jy oor jou I-Phone 5 vanuit die plaaslike BMW-vertoonlokaal, terwyl jy wag vir die koopdokumente van jou nuwe 7-reeks om gefinaliseer te word, by my probeer kla oor, sê maar die armblankeprobleem, luister, ek wil niks van jou hoor nie.

As jy te lui is om jou patrolliebeurt by die buurtwag te doen, stel ek nie belang as diewe jou huis stroop nie.

As jy te verhewe is om ‘n pistool saam met jou te dra, wil ek nie hoor hoe jy kla oor ons bokshelde wat by ‘n partytjie doodgeskiet is nie.

As jy nie by jou skoolbeheerraad inval nie, wil ek nie hoor hoe jy sanik oor die verengelsing van ons skole nie.

As jy te bliksems lui is om behoorlike Afrikaans te praat en die taal besmeer met goedkoop Engelse woorde en frases, het jy geen rede om te snik oor die taalbeleid by Maties nie.

Wanneer het die Ploegbreker ‘n Jannie Martelgat geword?

Wat my betref, ek wil aan geen ander volk op enige ander plek in enige ander tyd wees as nou nie. Dié wat dink hulle is die landbouers versamel weer teen ons. Laat hulle kom. Ons sal húlle ploeë ook breek.

Ek ken die Afrikaner. Ek ken die Ploegbreker.

Maar jy, Jannie Martelgat, gaan van my af weg. Ek ken jou nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.