Apartheid – ‘n idee vir die 21ste eeu?

Deel op

Die apartheidsteorie voorspel dat mense in ‘n multi-etniese samelewing hulself insgelyks etnies gaan organiseer. In hul eie politieke benadering en veldtogte, verwerp sowel die ANC as die DA, die twee grootste politieke partye in Suid-Afrika, beide die marxisme en die liberalisme – en pas die apartheidsteorie toe!

Wat ek hier skryf, sal seker deur sommige as skandalig ervaar word, maar as Max du Preez kan beweer dat grondhervorming in Zimbabwe vir ons ‘n voorbeeld is, kan ‘n mens seker enigiets skryf en daarmee wegkom. Maar anders as vir Mad Max, gaan dit nie vir my om polemies te wees nie. Ek loop al lankal met die idee rond dat die Afrikanerfilosofie van die twintigste eeu oor veelvolkige samelewings en die naasbestaan van kultureel verskillende mense eintlik revolusionêr en vooruitstrewend was.

‘n Mens sou ‘n hele boek hieroor kon skryf. As beginpunt sou ‘n mens kon vermeld dat die toets vir enige wetenskaplike teorie is of dit “werk”. Met ander woorde, dat die teorie sekere uitkomste voorspel wat wel plaasvind. As ek voorspel dat ‘n mens ‘n bom kan maak deur tandepasta en koeldrank te meng, dan is die toets seker of so ‘n mengsel gaan ontplof of nie. Die eksperiment kan taamlik maklik uitgevoer word en sodoende kan die teorie verkeerd bewys word.

Maatskaplike stelsels is natuurlik meer ingewikkeld en daarom kan sosio-politieke teorieë nie sonder meer in ‘n laboratorium getoets word nie. Oor tyd en deur die geskiedenis, kan ‘n mens egter sien of hulle aan die eise van wetenskaplike waarheid voldoen, aldan nie.

Vandag word kommunisme allerweë as ‘n onwetenskaplike ideologie beskou waarvan die toepassing insgelyks misluk het. Nietemin het kommunistiese intellektuele en filosowe jare lank voorgehou dat die marxisme ‘n hoogs wetenskaplike en selfs die enigste wetenskaplike teorie is waarmee samelewings beskryf kon word. In die VSA, Wes-Europa, maar natuurlik veral Oos-Europa, China en Viëtnam, het duisende sosiaalwetenskaplikes die marxisme as ‘n bewese wetenskap voorgehou.

Die invloed van veral kulturele marxisme aan die universiteite en in die media is nou nog nie uitgewoed nie. Die Amerikaanse universiteite is byna volledig in die greep daarvan. Ná 1994 het selfs die voorheen konserwatiewe Afrikaanse universiteite en die Nasperskoerante ook kulturele marxisme tot hoofideologie verhef. Alle Afrikanerdenke in die sosiologie, politiek, letterkunde en ander geesteswetenskappe – selfs godsdiens en teologie – van voorheen is verwerp en vorme van kulturele marxisme en liberalisme is as enigste waarhede aangeneem.

Soos ons byna daagliks ervaar, is daar een groot probleem met hierdie twee teorieë van menslike gedrag en maatskaplike ontwikkeling: hulle uitkomste verskil hemelsbreed van wat gewoonlik voorspel word.

In ons land het ons dus met drie mededingende sosiale teorieë te make: marxisme, liberalisme en apartheid, waarvan twee hoegenaamd nie die toets van wetenskap slaag nie. Laat my kortliks verduidelik.

Die marxisme, soos dit in die klassieke geskrifte van Karl Marx, Friedrich Engels en Wladimir Lenin verwoord is, voorspel ‘n klasselose maatskappy waarin almal gelyk is, armoede iets van die verlede is en waarin die staat “weggekwyn” het omdat mense in spontane gemeenskapsverband lewe en nie meer die staat nodig het nie. Oral waar kommunisme egter toegepas is, het ongelykheid tussen die regerende elite en die gewone mense ingetree. Die staat het allermins weggekwyn en het inderdaad ‘n oorheersende, totalitêre rol in die lewens van mense gespeel sodat daar van werklike vryheid geen sprake was nie. Selfs intense breinspoeling en beheer oor alle inligting kon nie verhoed dat die Oos-Duitsers in November 1989 die Muur bestorm het en afgebreek het nie. Sodoende het hulle uit die kommunistiese utopie (wat eintlik ‘n distopie was) ontsnap en die betreklike vryheid van liberale demokrasie in Wes-Duitsland betree.

Marxisme of kommunisme het ook voorspel dat kapitalisme “die kiem van sy eie ondergang in hom omdra” en dus “noodwendig” in duie sou stort. Dit het bekendgestaan as “historiese onafwendbaarheid”. Aan Suid-Afrika se Engelse universiteite is hierdie marxistiese teorie op ons geskiedenis en samelewing van toepassing gemaak en daar is voorspel dat kapitalisme in ons land noodwendig aan sy einde sou kom. Ná 1989 het ‘n klomp van die Engelse marxistiese sosioloë en ander geesteswetenskaplikes egter ‘n merkwaardige bekering tot liberalisme en kulturele marxisme ondergaan en skielik van “historiese onafwendbaarheid” vergeet.

Een so ‘n marxistiese sosioloog wat ek uit my dae by Wits onthou, Mark Orkin, is aanvanklik by die RGN en daarna as hoof van die Suid-Afrikaanse Statistiekdiens aangestel.

Miskien sal die taamlik fanatiese Afrikanermarxiste wat ‘n mens deesdae aan die Universiteit van Stellenbosch en in die redaksiekantore van Nasperskoerante aantref met my verskil, maar marxisme het as maatskaplike teorie misluk. Die voorspelde uitkomste soos die klasselose samelewing, verdwyning van die staat, ineenstorting van kapitalisme, e.d.m., is nie in Suid-Afrika verwesenlik nie. Ook nie elders ter wêreld nie.

Wanneer dit by liberalisme kom, is die mislukking van liberalisme nie so klinkklaar soos kommunisme/marxisme nie, maar ons kan insgelyks waarneem hoe die liberale filosofie heel ander uitkomste voorspel as dit wat ons in die werklikheid met ons eie oë en ore waarneem.

In Suid-Afrika, veral onder die akademici, is daar ‘n kontinuum waar harde marxisme agtergelaat is maar waar kulturele marxisme, multikulturalisme en liberalisme met mekaar oorvleuel om ‘n amalgaam te vorm.

Die klassiek liberalisme van die agtiende en die negentiende eeu het eintlik niks te sê gehad oor multikulturele of veelvolkige samelewings nie. Dit is geskryf deur blanke, Europese mans wat ruimte vir verskille in godsdiens, oortuigings en sedelike opvattings binne homogene Europese samelewings wou skep.

Veral in die VSA het liberalisme egter ‘n gedaanteverwisseling ondergaan en word dit vandag, weereens op ‘n kontinuum, geassosieer met kulturele marxisme, die aandrang op rasseintegrasie, teenkanting teen Christelike of tradisionele waardes, regstellende aksie en selfs anti-Westerse en anti-blanke houdings.

Omdat Suid-Afrika toenemend ook ‘n Amerikaanse kolonie geraak het, kan ons al hierdie elemente van liberalisme by ons waarneem. Die Suid-Afrikaanse grondwet van 1996 is in ‘n hoë mate die produk van Amerikaanse liberale denke en daarom is regstellende aksie en anti-blanke diskriminasie wesentlik in die grondwet ingeskryf. Verder waarborg die grondwet bepaalde individuele vryhede, soos geloofsvryheid, spraakvryheid en vryheid van assosiasie.

As sosiaalwetenskaplike teorie het liberalisme egter die volgende uitkomste in Suid-Afrika voorspel: dat alle kiesers as individue volgens bepaalde waardes en oortuigings by die stembus sou gaan stem. Sodra sogenaamde “apartheid” – binne die liberale diskoers is apartheid of etniese differensiasie ‘n skelwoord – afgeskaf is, sou verskillende etniese groepe ook gelyk presteer, of dit nou akademies, ekonomies, sportief of wat ook al is. Enige verskille tussen mense is nie diepliggend nie, maar oppervlakkig en bloot die resultaat van sosialisering, opvoeding en kondisionering.

Bowenal, binne die liberale “paradigma”, soos dit ook genoem word, sou mense vrylik oor kleur- en taalgrense heen assosieer en slegs in hul individuele belang optree. Sowel die Suid-Afrikaanse marxiste as liberaliste beskou etnisiteit as iets kunsmatigs wat deur die vorige “apartheidstaat” geskep is en daarom sou etniese identiteite met tyd verweer en verdwyn. ‘n Mens sien hier byna ‘n parallel met die “wegkwyning van die staat” soos die marxisme dit voorspel het. Vanuit die liberale oogpunt is etnisiteit besig om “weg te kwyn” en sal op die duur verval of op sy minste nie meer ter sake wees nie.

Enigeen by sy volle positiewe kan egter waarneem dat Suid-Afrika ná 20 jaar van “liberale” regering kwalik gedeëtnifiseer is. Inteendeel, in vele opsigte het etniese identiteite verhard en sien ons die herlewing van tradisionele Afrika-etnisiteit en stamverbondenheid. Die verskynsel van ‘n dansende Zoeloe-president wat vir hom ‘n soort kraal op Nkandla gebou het, verskyn dikwels in die massamedia maar gaan heeltemal by die liberale denkers (eerder: ideoloë) verby wat verseg om enige betekenis daarin te lees.

Onderliggend aan die liberale aanname is ook die gedagte dat verwestering, verengelsing, deelname aan die verbruikersmaatskappy en blootstelling aan tegnologie die mense van Afrika noodwendig individualiseer en insgelyks homogeniseer sodat al verskille wat daar oorbly dié van “velkleur” is. Indien die liberalisme enige water gehou het, moes ons nou al lankal die “post-etniese samelewing” betree het.

Kennelik het dit nie gebeur nie en is Suid-Afrika vandag meer etnies verdeel as ooit. Dit gaan oor ras, taal en selfs godsdiens. Selfs geringe verskille in “belydenis”, soos dié oor Belhar in die Afrikaanse kerke, veroorsaak geweldige spanning, onmin, rusie en boonop skeuring. Dan praat ons nie eens van die groter verskille soos dié van ras, taal, godsdiens en wêreldbeskouing nie. In 1998 is ongeveer 80 vreemde burgers uit die res van Afrika deur plaaslike swartmense vermoor tydens die sogenaamde “xenofobiese aanvalle”. Kan daar ‘n duideliker manifestasie van etnisiteit as dít wees?

Afgesien van sulke nasionale en stamgevoelens, is etniese verskille in Suid-Afrika van die grootste ter wêreld. Aan die een kant word mense aangetref wat die voorvaders aanbid en gereeld rituele soos offerandes uitvoer en aan die ander kant hoogs gesofistikeerde wetenskaplikes wat die heelal in wiskundige terme ontleed en in internasionale vaktydskrifte publiseer. Dit wissel van diegene wat die eentonige woewoezêla by sokkerwedstryde blaas tot deelnemers aan internasionale klavierkompetisies na die Westerse model soos byvoorbeeld dié wat jaarliks by Unisa plaasvind.

Die eerlike denker of akademikus – miskien sluit die twee begrippe mekaar inderdaad uit – sal geredelik erken dat die liberalisme as teorie in Suid-Afrika nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Dit is omtrent so van toepassing op ons as dragvoorskrifte in patrisiese Rome waar almal togas gedra het of die Boesmanteorie oor die maan waarvan ek in Jan van der Post se Afrikaanse jeugromans gelees het. Ek kan nie aan ‘n enkele voorspelling van die liberalisme dink wat oor die afgelope twintig jaar in Suid-Afrika bewaarheid is nie. Nietemin klou die sogenaamde politieke kommentators – hoofsaaklik onder buitelandse en Anglo-Amerikaanse invloed – hardnekkig hieraan vas. “Nog nie nou nie, maar dalk volgende jaar. Ons het nog net ‘n bietjie tyd nodig, dan sal julle sien.”

Die party wat hom daarop roem dat hy die draer van die liberale gedagte in Suid-Afrika is, die DA, raak al hoe meer belaglik in sy teenstrydige gedrag en uitsprake. Trouens, die DA is waarskynlik die eerste “etniese liberale party” ter wêreld. Nie net het die Kaapse blanke leidster van die party self Xhosa-danse in blou tekkies begin uitvoer nie, maar deur regstellende aksie binne die party word daar tans ‘n sterk appèl op die swart kieser se rassebewussyn geloods. In die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing, het die party selfs in ‘n hoë mate die regerende party se swart-nasionalistiese simbole en geskiedenis toegeëien, tot die konsternasie van die ANC.

Hiermee erken die DA onomwonde dat liberalisme en ‘n appèl op “waardepolitiek” of “kwessies” soos dienslewering, die bekamping van korrupsie, beter bestuur, ens., byna geen effek op die kiesers met hul sterk etniese en groepsbewussyn het nie. Die DA slag nou liberalisme soos wat ‘n mens ‘n hoender slag om die voorvadergeeste te behaag en neem ten volle deel aan etniese en rassepolitiek.

As sowel marxisme en liberalisme as wetenskaplike teorieë gefaal het, wat bly daar dan oor? Met watter middele moet ons die samelewing – veral óns samelewing – verstaan?

Dit bring my by die derde sosiologiese en antropologiese teorie oor die moderne samelewing waaroor ons in Suid-Afrika beskik: daardie stel idees en ontledings wat ons met die veel verguisde, tot misdaad-teen-die-mensdom-verklaarde term, “apartheid”, assosieer.

Terwyl apartheid of afsonderlike ontwikkeling as ‘n politieke stelsel afgebou is, leef dit egter voort as teorie. As ek dit sê, moet ek terselfdertyd ook erken dat niemand nog, sover ek weet, ‘n soort abstrakte teorie van apartheid geskryf het nie. Dit sou ‘n fassinerende taak wees, want dit betrek eintlik die totaliteit van die Westerse staatsleer sedert die Verligting, veral die polemiek tussen Herder en Kant, maar ook Condillac. Uit die Engelse empirisme van Locke, Berkeley en Hume is die politieke liberalisme gebore, die gedagte dat mense hul waardes, oortuigings en gedrag kan “kies”, amper soos ‘n mens disse op die restaurantspyskaart kan bestel.

Die meeste Afrikaners loop vandag nog met ‘n intuïtiewe idee van die apartheidsteorie rond, naamlik dat dit ‘n hoë belang aan etnisiteit en stamgebondenheid heg, asook dat daar wesentlike kultuurverskille tussen mense bestaan. Deur verwestering word mense nie van hul voorafgaande identiteit ontneem nie, maar word sodanige identiteit bloot versteur, iets wat sowel positief as negatief kan plaasvind.

Die apartheidsteoretici soos Geoff Cronjé en J.P. Bruwer het reeds in die 1940s baie akkuraat voorspel dat indien Suid-Afrika tot ‘n kwasi-Westerse eenheidstaat omvorm sou word, sonder inagname van kultuur- en etniese verskille, sou dit op grootskaalse geweld, sosiale anomie, sedelike verval, misdaad en konflik uitloop.

Die apartheidsteorie voorspel ook dat mense in ‘n multi-etniese samelewing hulself insgelyks etnies gaan organiseer. In hul eie politieke benadering en veldtogte, verwerp sowel die ANC as die DA, die twee grootste politieke partye in Suid-Afrika, beide die marxisme en die liberalisme – en pas die apartheidsteorie toe!

Hoewel Verwoerd, anders as Karl Marx of Gunnar Myrdal, deur die media en die universiteite verguis word, neem dit nie daarvan weg dat apartheid as ‘n maatskaplike teorie die toets van wetenskaplikheid slaag nie.

In die tyd van Galileo het die Pous en waarskynlik die hele “beskaafde wêreld” geweier om te aanvaar dat die aarde om die son draai, wat teen die Bybel en die begrip van die Skepping was. Galileo moes sy wetenskaplike teorie afsweer, op die gevaar af dat hy as ketter op die brandstapel sou beland indien hy dit nie doen nie.

Maar soos Blaise Pascal gesê het: “As die aarde beweeg, gaan ‘n dekreet uit Rome dit nie keer nie.” As apartheid as teorie werk, soos ons reeds kan sien, gaan geen mate van histeriese verwerpings deur die joernaliste en akademici dit verhoed nie.

Ek het tot hierdie slotsom gekom, nie deur Verwoerd of Geoff Cronjé of J.P. Bruwer te lees nie, maar deur met swart Suid-Afrikaners te gesels en te debatteer. Twee aande gelede was ek saam met die swart nasionalis Andile Mngxitama op MetroFM, die grootste swart radiostasie in die land, en die gevoel wat ek deurentyd gekry het, is dat die meeste swartes nie kan begryp waarom ons nie maar “onsself kan wees” nie. Téén die liberale en kultuur-marxistiese taboes in, vind hulle dit natuurlik om met hul stam- of rasgenote te assosieer. Hulle vind dit ewe vanselfsprekend dat Afrikaners met ander Afrikaners sou wou assosieer.

Die apartheidsteorie verklaar nie net die gedrag en die politiek van Suid-Afrikaners nie, maar ook die vele etniese konflikte en sosiale patrone elders ter wêreld, hetsy in die VSA en Wes-Europa, hetsy in Afrika of Asië.

Apartheid is ook gewortel in die idee van nasionale selfbeskikking. Sedert 1989, het ongeveer 50 nuwe state – tuislande! – lede van die Verenigde Nasies geword. In dié sin is apartheid deel van die Universele verklaring van menseregte waarvan artikel 15 bepaal:

Elkeen het die reg tot burgerskap.

Niemand se burgerskap sal arbitrêr afgeneem word nie en niemand sal van die reg ontneem word om afstand te doen van burgerskap nie.

Dieselfde gedagte word selfs meer uitdruklik in die Internasionale konvensie oor burgerlike en politieke regte gestel:

“Alle volkere beskik oor die reg op selfbeskikking. Kragtens daardie reg bepaal hulle hul politieke status en verwesenlik vrylik hul ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling.”

Dis ‘n dokument van die Verenigde Nasies, maar dit klink asof dit deur Verwoerd self geskryf is!

In ons tyd sien ons dat die groot ryke slegs deur oorlog en die uiterste geweld, tesame met sosiogeniëring en dwangmaatreëls, in stand gehou kan word. Die kleiner volkere op aarde, waaronder die Afrikaner, smag na selfbeskikking, maar so ook daardie onderdele van groter volkere wat steeds sterk oor hul eie taal, kultuur en identiteit voel.

Net gister het ‘n briljante Franse skrywer en geskiedkundige, Dominique Venner, homself in die Notre-Dame-katedraal in Parys doodgeskiet, blykbaar uit protes teen die verval van Frankryk en die Franse kultuur weens immigrasie en Amerikanisering.

Kulturele marxisme en liberalisme is, meer nog as die Katolieke dogma van die Middeleeue, besig om verwoesting in vele lande ter wêreld te saai. Bowenal natuurlik in Suid-Afrika.

Ons groot skrywer en digter, N.P. van Wyk Louw, was een van die apartheidsteoretici. Niemand behalwe sommige venynige akademici soos prof. Gerrit Olivier van Wits, trek sy digterskap as gevolg daarvan in twyfel nie.

Ons denkers oor kultuur en etnisiteit in die twintigste eeu was hoogs gekultiveerd, opgevoed en versiende in hul opvattings van selfbeskikking en die behoud en ontwikkeling van nasionale kulture en identiteite. Hulle het dit nie in isolasie gedoen nie, maar as mense wat deurdrenk was van die filosofie van die Verligting en die staatkunde van die twintigste eeu, soos byvoorbeeld Woodrow Wilson se veertien punte wat hy in ‘n toespraak aan die einde van die eerste wêreldoorlog gestel het.

Vandag word al ons Afrikaner- politieke denkers uit die verlede deur die media en populêre geskiedskrywers verdag gemaak en selfs as “agterlik en dom” verguis. “Verwoerdiaans” het in die mond van propagandistiese politici soos mev. Helen Zille ‘n skelwoord en ‘n belediging geword. Terwyl sy Verwoerd belaster, skroom sy egter nie om sy volkekunde toe te pas as sy wil gaan stemme werf nie. Haar eie ideologie, die liberalisme, is intellektueel en sosiaal bankrot.

Om Gunnar Myrdal se begrip van die liberale “smeltkroes” wêreldwyd af te dwing, is die VSA besig om meer oorlog en geweld te pleeg as wat die ou Sowjetunie ooit gedoen het om ‘n ander onwerkbare ideologie, marxistiese kommunisme, te vestig.

Die problematiek van die een-en-twintigste eeu is dié van ras, taal en etnisiteit. Die hele aardbol staan in vlamme weens wydverspreide identiteitskonflikte.

Het dit nie tyd geword dat dat ons Verwoerd en ander Afrikanerdenkers uit die verlede gaan herlees nie?

Die stereotipe en die mite van apartheid mag tot die verlede behoort, maar die idee en die wetenskap van apartheid leef voort. Enige wetenskaplike teorie word met tyd en soos wat nuwe inligting beskikbaar raak, aangepas. Soos Karl Popper gemeen het, is die definisie van wetenskap juis dat dit weerlê kan word.

Daarom sou dit dwaas wees om dít wat ek hier skryf te intepreteer as ‘n terugkeer na segregrasie soos dit in Suid-Afrika en die suidelike VSA bestaan het. Nietemin is die sentrale begrip van apartheid, naamlik dat volkere verkies om apart van ander te woon en te ontwikkel, nie dood nie. Inteendeel, dit is die grondslag vir vreedsame naasbestaan en kan ons van die huidige globalistiese mededinging en oorlog red.

Is die selfbeskikking van groepe en volkere, as lande maar ook binne lande, nie ‘n idee waarvoor die tyd nou ryp is nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.