Kultuur en beskawing

Deel op

Alle mense leef op ‘n bepaalde manier. Maar almal leef nie op dieselfde manier nie. Party groepe leef op ‘n manier wat beter resultate as dié van ander groepe lewer. Die manier van lewe, dus van dink en doen, van ‘n groep word sy kultuur genoem. Omdat die leefwyse van verskillende groepe verskil, doen onmiskenbare kulturele (bv taal-) verskille hulle voor. Dit kan nie uitgewis word deur van owerheidsweë almal gelyk en selfs eenders te verklaar nie. Party kulture is meer suksesvol en in hierdie sin dus beter as ander. Hoë of meer ontwikkelde kultuur word beskawing genoem.

Ek onthou hoe ons in 1952 drie eeue van beskawing in Suid-Afrika nie net dankbaar gedenk het nie, maar tereg gevier het. Wat in so ‘n relatief kort tyd op so ‘n ongenaakbare kontinent tot stand gebring is, was merkwaardig. Ons het ons geskiedenis geken en geweet dat Sparta oor Athene geseëvier het. Wat ons nie gedink het nie, was dat Westerse beskawing na 1952 plaaslik binne vier dekades grootliks die onderspit sou delf. Dit kan aan veral twee faktore toegeskryf word. Enersyds aan die immorele, ruggraatlose, algehele politieke oorgawe van diegene aan wie die vaandel van beskawing toevertrou is. Andersyds aan die magte van die bose wat hulle met oorgawe ongebreidelde geweldadige misdadigheid veroorloof het, maar dit deurgaans as hoogs morele en lofwaardige bevrydingsinisiatiewe voorgehou het.

Sedert 1990 het die woord “beskawing” feitlik heeltemal uit die openbare woordeskat verdwyn. Politiek-korrek word daar deur die nuwe bewindhebbers en hulle meelopers graag melding gemaak van die moontlike winste wat ons geskiedenis sedert 1990 opgelewer het. Vrede (dus die afwesigheid van geweldadige misdaad), nie-rassigheid (dus die afwesigheid van rassediskriminasie), nie-kommunisme en doeltreffende regering tel sekerlik nie onder hierdie winste nie. Ontwikkeling, voorspoed (dus toenemende rykdom) en ‘n blink toekoms ook nie. Waarvan daar absoluut geen sprake is nie, is vordering op die pad van beskawing. Oor beskawing word geswyg. Die norm van Europese beskawing is met die onvoorbeeldige ideaal van Afrikanisering vervang.

Drie verskynsels word deesdae graag uitgesonder as die somtotaal van die era van blanke bewind in Suid-Afrika: slawerny, segregasie en apartheid. Eersgenoemde twee word in die woord “kolonialisme” saamgevat. Wat nie genoem word nie, is dat die land tydens kolonialisme en apartheid merkwaardig ontwikkel het; dat ‘n kreatiewe, hardwerkende, toegewyde en aanvanklik uitheemse minderheid tot stand gebring het wat die onbekwame, onontwikkelde inheemses nie eens kon visualiseer nie; om van vermag nie te praat nie. Oorkoepelend was daar die nektar van beskawing.

Kolonialisme en apartheid word deesdae as euwels voorgestel. Maar die goue draad wat deur hulle loop, is beskawing. Beskawing het hier vastrapplek gekry deur dit enersyds aanvanklik van oorsee af in te voer en later al hoe meer plaaslik voort te bring. Andersyds deur onbeskaafdheid (bv geweld en ander misdadigheid) met doeltreffende middele (bv wette en hulle toepassing) aan bande te lê. In die geskiedenis van kolonialisme kry die ontsaglike bate van die oordrag van beskawing uit Europa na die kolonies nooit werklik prominensie nie. Al waarop deesdae gehamer word, is die beweerde uitbuiting van die kolonies deur die koloniale moondhede.

Wanneer die disintegrasie van kolonialisme ter sprake kom, word lofliedere vir vryheid en onafhanklikheid in die eertydse kolonies aangehef. Wat nie graag met die nodige erkentlikheid genoem word nie, is die aalmoese van Europese lande waarop die voormalige kolonies bly aanspraak maak. Hierdie aalmoese bevestig die wesenlike afhanklikheid van sogenaamde onafhanklike Afrikalande. Tydens byeenkomste van bv die Afrika-unie word daar nooit openlik dank betuig vir sodanige geskenke nie. As hierdie bystand ingekort of afgeskaf word, word daar egter luid beswaar gemaak en giftige verwyte geslinger.

Maar daar is ‘n ander kenmerk van na-kolonialisme wat bitter min aandag ontvang, naamlik die invloei van kultuurvreemde elemente uit die destydse kolonies na die lande van die voormalige koloniale moondhede. Oor die algemeen het die kolonies destyds kultureel baie by die invloei van Europese beskawing gebaat. Die skepping van sodanige kulturele diversiteit was vir die kolonies voordelig. In die kolonies het die inheemses bewus van hoër en beter ideale geword. Na die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak die invloei van kultuurvreemde elemente dat beskawing in die lande van die eertydse koloniale moondhede aan bande gelê of verwater word. Vir hierdie lande is kulturele diversiteit ‘n terugwaartse stap.

Die situasie word vererger deurdat daar in die naam van menseregte en welwillendheid (bv ubuntu) van hierdie lande verwag word om alle armlastige vreemdelinge (dus nie net diegene uit hulle eertydse kolonies nie) in hulle midde te aanvaar en selfs te verwelkom en hulle sonder positiewe teenprestasie te onderhou. Dit word geregtigheid genoem. Ter bevoordeling van hierdie armlastiges word die christelike religie deur bevrydings- en ander naïewe teoloë hervertolk en die koloniale geskiedenis verwring. Die doel is om die nasate van die kolonialiste skuldig te laat voel deur hulle verantwoordelik te hou vir die beweerde benadeling van die destydse koloniale onderdane. Daar word nie van die armlastiges verwag om self verantwoordelikheid vir hulle agterlikheid te aanvaar en self iets daaromtrent te doen nie.

Die kulturele en beskawingswisselwerking tussen die koloniale moonthede en hulle kolonies en die nageskiedenis daarvan word in talle opsigte in die nuwe Suid-Afrika weerspieël. Die Universiteit Stellenbosch (US) kan as voorbeeld dien. Hier is tydens die blanke bewind ‘n akademies voortreflike inrigting as ‘n toonbeeld van Westerse beskawing tot stand gebring. Dit was oorwegend Afrikaner-monokultureel en dus wit en eentalig Afrikaans. Akademiese uitnemendheid het uitdrukking in goedontwikkelde vakkundige terminologie gevind. In die praktyk is meesal die akademies beste studente tot leergange toegelaat en die akademies beste dosente en navorsers aangestel. Dít kan tereg beweer word al is die studente en personeel tot blankes en veral Afrikaanssprekendes beperk. Dit is des te meer waar as dit vergelyk word met die anti-akademiese koers wat die US sedertdien ingeslaan het.

In die na-koloniale, na-apartheids- en na-Europese (of na-blanke) era is die US se monokulturaliteit (soos in die lande van die eertydse koloniale moondhede) stelselmatig afgebreek deur dit vir dese en gene uit Suid-Afrika en die res van Afrika oop te stel en Afrikaans, as toonbeeld van wat kultureel eie is, toenemend af te skaal. Die US is nie meer ‘n bastion van Europese beskawing nie. In die plek daarvan het multikulturaliteit gekom wat doelbewus valslik as ‘n bate voorgestel word. Weens die veelgeprese oopstelling van die US lê die kampus en die dorp toenemend braak vir eksponensiële misdadigheid. Soos ‘n mikrokosmos weerspieël die US en die dorp die agteruitgang van beskawing in die land in sy geheel. Inagnemend die toestand waarin hy verval het, is dit seker gepas dat die US deesdae nie bloot as ‘n Suid-Afrikaanse universiteit voorgestel word nie, maar by voorkeur as ‘n rasegte Afrika-universiteit. Deur met oorgawe eerder die politiek van die nuwe bewindhebbers as die akademie te dien, kan die US se universitêre status al hoe meer bevraagteken word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.