Selfbeskikking in terme van Artikel 235 van die Grondwet

Die beginsel van selfbeskikking is reeds gedokumenteer in die VN Handves en ʼn rits ander deklarasies. Onder andere het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in terme van die regte van minderheidsgroepe op 18 Desember 1992 bepaal dat minderheidsgroepe se etniese, godsdienstige en taalregte beskerm moet word. Die primêre funksie vir die beskerming is geleë in die betrokke staatsowerheid soos vervat in Artikel 1 van die resolusie “States shall protect the existence and the national or ethnic, cultural, religious and linguistic identity of minorities within their respective territories and shall encourage conditions for the promotion of that identity”.

Dit is vreemd dat artikel 235 (van die grondwet) as basis gebruik word om selfbeskikking te eis. Artikel 235 van die Grondwet van Suid Afrika behandel selfbeskikking en lui soos volg “Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal” (Suid Afrika (Republiek) Republiek van Suid Afrika Grondwet 1996).

Artikel 235 van die Grondwet is al deur menige politieke en regskenners verduidelik en dat dit nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. 235 Bied hoogstens interne selfbeskikking wat deesdae deur menige Afrikaner organisasies as die doelwit vir Afrikaner selfbeskikking voorgehou word. Sou voortgegaan word om interne selfbeskikking te eis en sou so eis aanvaar word (hoe onwaarskynlik ook al) sal dit enige verdere strewes vir eksterne selfbeskikking negeer.

Volgens dr Sydney Gregan stel die betrokke artikel dit baie duidelik dat die selfbeskikkingstrewe van ‘n “gemeenskap”,al sou dit wees binne ‘n bepaalde gebied, slegs erken kan word binne die raamwerk van die reg (op selfbeskikking van die geheel), d.w.s die totale prentjie – die selfbeskikking van die totale “nasie” (“people”). Hier is dus hoogstens sprake van “interne selfbeskikking”, wat boonop afhang van “nasionale wetgewing” (dus of die meerderheid in die Parlement dit sal goedkeur!). Interne selfbeskikking, in teenstelling met eksterne selfbeskikking, is alles behalwe volledige “soewereine” vryheid in ‘n eie “onafhanklike” republiek. Interne selfbeskikking kan hoogstens dui op eie besluitneming oor sekere sake wat die ANC-regime bereid is om aan die “gemeenskap” toe te vertrou. Indien eksterne selfbeskikking bedoel was, sou dit dienooreenkomstig bewoord gewees het en sou daar trouens van ‘n reg op afskeiding (sesessie) gepraat gewees het. Om nou te wil voorgee dat die ANC aan onder andere die Afrikanervolk die reg tot afskeiding gegee het (of sal gee) met die bewoording van artikel 235, is goedkoop politieke praatjies om mense te mislei (Gregan:2009).

Selfbeskikking word oor die algemeen beskryf as ʼn beginsel en nie ʼn reg nie met die voorwaarde dat die groep wat eis vir selfbeskikking oorwegend ʼn spesifieke territoriale gebied moet bewoon. Die uti possidetis doktrine (beginsel van territoriale integriteit) word onderhou deur die internasionale gemeenskap in terme dat die territoriale integriteit van soewereine state nie bedreig of ontwrig moet word nie. Alhoewel Afrikaners kwalifiseer in terme van kulturele aspekte om as ʼn homogene groep te eis vir selfbeskikking, beset die Afrikaners nie ʼn territoriale gebied nie en sal moeilik op grond van uti possidetis kan aanspraak maak op selfbeskikking.

Buchanan stel dit dat alle teorieë oor die reg tot sesessie verstaan word as of ʼn Remediërende Reg of ʼn Primêre Reg. Remediërende Reg bepaal dat ʼn groep ʼn reg tot sesessie het as die groep onderworpe is aan ongeregtighede waarvan sesessie die enigste en laaste uitweg is. Primêre Reg teorieë bepaal dat sekere groepe ʼn algemene reg tot sesessie het in die afwesigheid van ongeregtighede. Remediërende Reg teorieë verwys na ooreenstemmende reg tot revolusie. Dit behels dat ʼn deel van die burgery aanspraak maak op sesessie en om ʼn deel van die staat af te skei. Primêre Reg teorieë verwys na die reg om ʼn regering tot ʼn val te bring waar die fundamentele regte van ʼn groep geskend word (Buchanan 1997: 35 ) Afrikaners kwalifiseer vir selfbeskikking in beide die Remediërende sowel as die Primêre Reg teorie.

Ongeag die demografiese realiteite van Suid Afrika is daar opsies om eksterne selfbeskikking te eis. Geografiese besetting van ʼn gebied is nie die alfa en omega vir eksterne selfbeskikking nie. Sesessie hoef nie die onmiddellike modus operandi te wees nie. Dit is egter noodsaaklik dat ʼn geografiese gebied vir Afrikaner selfregering identifiseer moet word. Die primêre funksie van die tientalle Afrikaner organisasies behoort konsolidering van Afrikaners te wees in ʼn enkele beweging. Let wel, nie ʼn enkele organisasie of party nie, maar ʼn beweging wat Afrikaners mobiliseer tot verset teen die status quo en om ʼn gemeenskaplike vryheidswil te vestig. Om gesprekke te voer met die MRK of RSA regering sonder voorgestelde grense is noodwendig ʼn fiasko.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.