Die Afrikaner: ‘n nuwe optimisme

In 2005 het ek met ‘n mate van intensiteit begin om aan die politieke prosesse van die land deel te neem deur die Afrikaner se krisis te ondersoek en te beskryf. Dit was moontlik die donkerste tyd in die volk se geskiedenis. Ons val was hard en ons het gesamentlik winduit rondgestaan in die oorblyfsels van wat ons voorgangers in die geil jare van Afrikaner-heerskappy opgebou het. Niemand het blykbaar ‘n werkbare oorlewingstrategie vir die volk gehad nie en die enigste Afrikaner-stemme wat enigsins volume gehad het, was dié van oorlopers soos Max du Preez en Christi van der Westhuizen wat darem té skril en heeltemal voortydig oor die snelnaderende algehele verdwyning van die Afrikaner gejodel het.

Nie net was ons aansienlike mag deur die verraad van ons leiers van ons gestroop nie, dit is aan ons mees verbete vyande oorhandig om teen ons te gebruik. As dit nie was dat ons soldate die kruipende pes van wêreldwye marxisme vir dertig jaar vertraag en buite ons landsgrense gehou het nie, en as ons nie vir die nuwe heersende elite ‘n sekere monetêre waarde gehad het nie, en as dit nie was dat die ANC se vernaamste internasionale borg sy imperiale wensdenkery moes laat vaar het nie, het dit die nuwe swart regering vrygestaan om ons finaal te verpletter.

Erger nog, ons was die slagoffers van ons eie mismoedigheid en het versteen gestaan en toekyk hoe ons kultuursimbole vernietig word, ons universiteite en skole ingeneem word, ons taal geminag en ons dorpsname verander word. Die Afrikaner het werklik oor die afgrond geleun en in die dieptes van sy eie laaste sonsondergang getuur, of dit nou was weens die aggressie van ons vyande of ons eie ongeërgdheid.

Nou, egter, agt jaar later, as jy my vra watter volk is die beste toegerus en in posisie om die toekoms in Suid-Afrika te oorleef, sal ek sonder huiwering die Afrikaner kies, en dit juis weens ‘n uitsonderlike verloop van wêreldwye omstandighede en die merkwaardige oorgang tussen epogge.

Ons vyande het ons verslaan met die masjinerie van ‘n verdwynende wêreld: Ekonomiese mag onder hulle ystere beheer, internasionale isolasie en propaganda. Soms het ons eenvoudig nie die implemente vir weerstand gehad nie; ander kere het ons bloot versuim om vas te skop. Die feit wat Orwell se ou Grootboet in die tande moet kyk, is dat sy mag geheel en al ingemessel is in ‘n wêreld wat binnekort waarskynlik nie meer sal bestaan nie.

O, kyk, ons teenstanders is ontsaglik groot en magtig, maar hoe groter en magtiger iets of iemand word, hoe moeiliker vind hy om iets wat nie groot of magtig is nie, raak te slaan. Salomo het duisende jare gelede hom reeds verwonder aan hierdie beginsel. ‘n Akkedis, beduie hy, is ‘n diertjie wat met die hand gevang kan word en tog is hulle in koningspaleise te vinde.

As daar een hedendaagse nasie is wat allergies vir dié beginsel behoort te wees, is dit die V.S.A. Hulle is militêr gesproke die onbetwiste swaargewigkampioen. Hulle krygsmag is tegnologies en toerustinggewys waarskynlik nou nog magtiger as al die ander lande s’n saam. In 1991 het hulle die vierde grootste weermag in die wêreld veelgeroemd binne 100 ure vergruis. Hulle beskik nou nog oor ‘n arsenaal kernwapens wat die vermoë het om hopies uitgebrande koolstofkorrels van die hele mensdom te maak. En tog kon hulle nie keer dat ‘n anderhalfdosyn doelgerigte fanatici duisende burgers in New York en Washington met Amerika se eie vliegtuie afmaai nie.

Hulle het ook, byvoorbeeld, nie ‘n antwoord gehad vir een ontgogelde jongman wat met ‘n trokkie vol diesel en kunsmis ‘n regeringsgebou in Oklahoma opgeblaas en meer as 160 mense om die lewe gebring het nie.

Geen nasie probeer meer verbete om hulle akkedisse te vang nie, maar dit word vir hulle al hoe moeiliker. Om ‘n akkedis te vang moet jy sy gedrag, vermoëns en habitat ken, maar die probleem ontstaan wanneer die reptiel van gedaante en gewoontes verander. Niemand kon die verskyning, groei en mag van die internet voorspel nie. Dit het ‘n hele nuwe gebroedsel akkedisse vrygestel.

Met al hulle mag kon twee regerings, dié van Amerika en Swede, en die hele magtige Hollywood met falankse prokureurs aan die voortou, nie ‘n roofstroomwebwerf, Pirate Bay, wat deur drie bleek jong Skandinawiërs bedryf word, vir een enkele dag van lyn af haal nie.

‘n Hele nuwe geldstelsel, geheel en al efemeer, Bitcoin, verhandel vir miljoene dollar. Dit word nie deur goud of nywerheidsuitset ondersteun nie; net deur ‘n algoritme. Al die ontwikkelde lande saam kan niks doen om dit te stuit nie.

Grootboet sidder by die gedagte, maar die internet is besig om ‘n alternatiewe ekonomie te skep en dit is een waaruit die wêreldmagte nie hulle kilogramme vleis kan sny nie.

Hierdie pasafgelope week het ‘n Amerikaanse student, Cody Wilson, suksesvol ‘n pistool met ‘n 3D-drukker uitgedruk en afgevuur. Grootboet sluk swaar. Dink net aan die implikasies: Binnekort sal enige pokkel met ‘n rekenaar, ‘n internetverbinding en ‘n 3D-drukker (tans kos ‘n bruikbare een sowat R10 000) ‘n ontwerp van die web kan aflaai en vir homself ‘n vuurwapen druk, ‘n wapen sonder reeksnommer en, omdat dit van plastiek is, amper onopspoorbaar. Grootboet kan homself net handhaaf as hy in volkome beheer is. Wanneer mense begin om hulle eie geld op die internet uit te gee en die vermoë ontwikkel om hulle eie wapens te druk van alle dinge, is Grootboet se mag besig om te kwyn.

En watter volk in Suid-Afrika is die beste in posisie om hierdie hoogtegnologiese golf te ry?

Die regstreekse gevolg is dat die regering toenemend irrelevant raak. Mense begin tegnologie te gebruik om hulleself te beveilig en om sonder belemmering oor landsgrense heen te werk en handel te dryf. Die Afrikaner met sy ingebore skranderheid, wilskrag en ondernemingsgees is uiters gemaklik in hierdie nuwe wêreld.

Ons moet drie tegnologiese vraagstukke oplos om onafhanklik te wees waar ons ook al leef: Ons moet kos kan verbou, onsself beskerm en elektrisiteit opwek. Tans is ons nog afhanklik van die nasionale kragnetwerk, maar teen die koers wat Eskom pryse verhoog, sal alternatiewe, privaat opgewekte energie een van die dae goedkoper wees. Vir die ander vraagstukke sal daar oplossings wees en jy kan maar weet die Afrikaner sal dit uitwerk.

Albert Einstein was van mening dat die Derde Wêreldoorlog nie, soos die Tweede, met kernwapens beslis sal word nie, maar met klippe en stokke. Daarmee het hy aangedui dat hy van mening is dat die hele wêreld na ‘n na-tegnologiese epog gaan beweeg. Hierdie is ‘n scenario wat al hoe meer mense voorsien. Tegnologie en die wêreldekonomie is baie styf inmekaargeryg. Ná 2008 se skrikmaker is dit skielik heel denkbaar dat die steierwerk rondom die wêreldekonomie baie skielik kan wegval.

As dít gebeur, slaan die staatsmasjinerie vas. Lande se vermoë om elektrisiteit op te wek, sal ingrypend belemmer word en as dit gebeur, verdwyn massamedia onmiddellik en daarmee saam ons opponente se vermoë om die waarheid in propaganda op te los en om die openbare mening te manipuleer.

Ons sal dan sowaar in ‘n nuwe duister tydperk wees, een sonder moderne tegnologie waarin net die taaiste, vindingrykste, geduldigste volke sal oorleef. In Suid-Afrikaanse terme, stel ek voor, is dit die Afrikaner.

Aanpasbaarheid is ‘n voorvereiste vir oorlewing. Die Afrikaner het die afgelope twintig jaar opnuut sy verstommende vermoë om aan te pas gedemonstreer. Ons sal onsself in ‘n hoogtegnologiese wêreld handhaaf. Ons sal dit ook doen in ‘n wêreld van stokke en klippe. Ons is die akkedis, mnr. Grootboet. Jy dink maar net jy kan ons vang.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.