Wit Afrikaanse Stellenbosch in sy swernoot

Deel op

Na ‘n raadsvergadering het die rektor, Russel Botman, op 29 April hoogs ingenome die einde van die Universiteit Stellenbosch (US) as ‘n respektabele akademiese inrigting aangekondig; ten minste by implikasie. Kyk die video op die US-webwerf. In die universiteitsraad was daar klaarblyklik min teenstand teen Botman se voorgestelde politiek-gemotiveerde veranderings. Sy transformasieplan is goedgekeur.

Soos in my twee onlangse skrywes in die vooruitsig gestel is (Praag 28 en 29 April), gaan dit vir Botman om die terugsnoeiing en sover moontlik uitroeiing van twee dinge wat voorheen kenmerkend van die US was, naamlik blankes en Afrikaans. In hierdie proses word die derde kenmerk van die US van weleer, naamlik akademiese uitnemendheid, onbeskaamd afgeskaal en in groot mate vernietig.

Dit is wat gebeur as ‘n universiteitsraad die wesenlike aard van ‘n universiteit, naamlik akademiese voortreflikheid, misken en toelaat dat ‘n aktivistiese rektor die US op die pad van slaafse ANC-gedienstigheid lei.

Die Burger se berig hieroor (30 April, p 8) is ‘n klakkelose herhaling van die amptelike verklaring wat die US uitgereik het. Na verloop van ‘n week het die koerant self nog geen kommentaar gelewer of kommentaar deur ander toegelaat op die berig wat opsetlik in die binneblaaie weggesteek is nie. Die opskrif wek ‘n gunstige indruk: “Plan vir vernuwing kry groen lig by US.” ‘n Mens sou dink dat dit, soos dit ‘n universiteit betaam, gaan om die verhoging van akademiese standaarde; dat net die akademies beste studente voortaan tot studie toegelaat sal word en dat net die akademies beste dosente voortaan aangestel en bevorder gaan word. In werklikheid word die teenoorgestelde beoog.

In Die Burger kraai geen haan oor die uitwissing van nog ‘n beskawingsproduk, die US van weleer, waarop Afrikaners opreg trots was, nie. ‘n Histories voortreflike Westerse universiteit word tot ‘n tipiese Afrika-onderneming verwater. Al gekraai wat waarneembaar is, is dié van ANC-aktiviste, soos Botman, wat lekkerkry omdat die US so uitermate vir politieke oogmerke diensbaar gestel word.

Dit is die ou Botman-refrein. Die US moet relevant, divers, inklusief en meer verteenwoordigend (die ANC se demografiese preokkupasie) wees. Daar moet ‘n verwelkomende kultuur wees, wat in die praktyk egter net die nie-wittes in ag neem. As wittes op ‘n verswartende kampus onwelkom voel, sou beweer word dat die fout by die wittes lê.

Die menswaardigheidsvereiste neem ook net die nie-wittes in ag. Wittes met ‘n A-simbool gemiddeld in matriek en met ouers wat hulle finansiële verpligtinge (bv inkomste- en munisipale belasting) nakom, moet by toelating tot bv mediese studie terugstaan vir nie-wit nie-presteerders met ouers wat nie-betalers en selfs nie-Suid-Afrikaners is. Daar word voorgegee dat sodanige blatante rassediskrimasie geensins wittes se menswaardigheid aantas nie. Botman en kie kyk na die US uitsluitlik uit die oogpunt van die bevoordeling van nie-wittes. Diegene, naamlik die wittes, wat die US (en tewens die land) opgebou het, mag maar vertrap word.

Die politieke doelwit wat Botman aanspoor, is dat daar in 2018, wanneer die US sy eeufees vier, nie meer gesê moet kan word dat die US ‘n wit en ‘n Afrikaanse universiteit is nie. In 2018 moet die meerderheid studente nie-wit wees; ‘n raskwota in sy suiwerste vorm. Dit is ook ‘n nie- of eintlik anti-akademiese norm in sy suiwerste vorm, want oor die akademiese gehalte van die studente wat toegelaat gaan word, word geen woord gerep nie.

Let op die volgende blatante verdoeseling oor die onderrigtale. Alle voorlesings moet volledig toeganklik en daarom in Engels wees. Vir Botman maak dit versnelde transformasie moontlik, sodat die US gouer sy diversiteitsdoelwitte kan bereik. Die wyse waarop Afrikaans as akademiese taal “versterk” gaan word, is met parallelmedium-onderrig en tolking. Parallelle of aparte klasse in Afrikaans en Engels sal waarskynlik gou iets van die verlede wees. Dit herinner te veel aan wat Botman ons “ongemaklike verlede” noem.

Tolking sal Afrikaanssprekende studente dan aan die agterste speen laat suig, want hulle sal aangewese op ‘n vertaling van die dosent se Engelse voorlesing wees. Ooreenkomstig die US se personeelbeleid sal die beste vertalers nie aangestel word nie. Voorkeur sal aan voorheen benadeeldes, dus tans bevoordeeldes, dus nie-wittes, gegee word, wat gebrekkige vertaling sal meebring. Wat Afrikaanssprekende studente sal moet aanhoor, kan Kaaps of Afro-Afrikaans sonder grondige kennis van die goed ontwikkelde Afrikaanse vakterminologie wees. Daar is geen moontlikheid dat Afrikaans as akademiese taal op hierdie oorlamse manier versterk gaan word nie. Hier word doelbewus mislei om die politieke pil van die uitfasering van Afrikaans te versuiker.

Druk van die ANC het veroorsaak dat Engels as ‘n tweede onderrigtaal aan die US ingevoer is. Maar die ANC-regering is nie bereid om ‘n sent addisioneel by te dra tot die duplisering van lesings nie. Die US het sonder om vooraf finansiële waarborge te beding, hierdie dwase pad van tweetaligheid betree. Nou word die rol van die voertale omgeruil, want Engels word die hooftaal en Afrikaans die bykomende taal. Die ANC-regering was nie bereid om die Engelse aanbod addisioneel te befonds nie, al is dit ter bevoordeling van hoofsaaklik nie-wittes ingevoer. Nou beweer Botman dat ‘n tolkdiens ten behoewe van Afrikaanssprekende studente daargestel gaan word. Dit is baie duidelik dat die ANC-regering nie ‘n sent hiertoe sal bydra nie, want die vertaling (van Engels na Afrikaans) sal hoofsaaklik wit studente bevoordeel.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat Botman en kie bereid sal wees om genoeg geld aan tolkdiens te bestee ten einde hierdie proses behoorlik op dreef te kry. Ek voorspel dat die voorgestelde tolkdiens spoedig in die vergetelheid sal verdwyn. Die Afrikaanssprekende studente sal self die mas in Engels moet opkom. Hulle ontheemding van hulle universiteit sal dan volledig wees. Dit sal dan die totale transformasie wees wat Botman deurentyd nagesteef het. Onthou verder dat Botman lankal die “Afrikaanse aanbod” tot 60% afgeskaal het en dit is bloot die amptelike syfer. Daar is groot eenstemmigheid dat hierdie “aanbod” (asof dit ‘n onverdiende guns, ‘n welwillendheidsgebaar, aan Afrikaanssprekendes is) in die praktyk reeds baie minder is en steeds krimp.

My vertolking van die koers wat die US ingeslaan het, is nie vergesog nie. ‘n US-raadslid, Piet le Roux, berig in Rapport (5 Mei): “Die US sal voortaan ‘n universiteit wees waar die primêre taal Engels is en waar Afrikaans tot tyd en wyl as bykomende taal geakkommodeer word.” Van studente en dosente word nie verwag om Afrikaans magtig te wees nie, want die kampustaal gaan Engels wees. Vergelyk hierdie mening van ‘n raadslid, wat ingelig is, met die misleidende beeld van US-transformasie wat Die Burger (doelbewus) aan sy lesers voorhou.

Le Roux verwys ook na hoe nodig Botman rasseklassifikasie het om sy ideaal van ‘n hoofsaaklik nie-wit US te bereik. Maar dan is dit die einste Botman wat die eertydse departement volkekunde aan die US in onguns wou bring omdat daardie departement na bewering artefakte vir rasseklassifikasie gehuisves het.

Sedert 2007, toe Botman rektor geword het, is daar veral een verskynsel aan die US wat opval, naamlik die skaamtelose bevoordeling van bruines by toelating as studente en by aanstelling en bevordering as dosente en as ander personeel. Dit word gedoen sonder die potloodtoets waarna Botman onlangs verwys het. Die ergste is dat dit onder die vaandel van geregtigheid geskied. Ek het al dikwels daaraan gedink dat Botman darem in ‘n lekker posisie is. Hy mag lede van sy etniese groep blatant bevoordeel sonder dat ‘n haan daaroor kraai. As ‘n wit rektor dieselfde vir sy etniese groep probeer doen, sou daar dadelik uitroepe van rassisme opgeklink het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.