Britse Konserwatiewe parlementslid ‘pleeg homoseksuele verkragting’

Nigel Evans
Deel op

Nigel EvansNigel Evans, 55, die visepresident van die Britse Laerhuis, is gister in hegtenis geneem ná ‘n beweerde verkragting op ‘n man en aanranding op ‘n ander, volgens verskeie Britse media. Dié dade is glo in die dorpie Pendleton tussen Julie 2009 en Maart 2013 gepleeg. Evens is woonagtig te Pendleton.

Die aangeklaagde is lid van die Britse eerste minister, David Cameron, se Konserwatiewe Party en verteenwoordig Lancashire in die noorweste van die land. Hy is blykbaar baie gewild in die Laerhuis en een van drie visepresidente van dié liggaam. Vanaf 1999 tot 2001 was hy medevoorsitter van die Konserwatiewe Party wat tans die land regeer. Volgens die Londense Guardian is hy eers deur die polisie ondervra en agterna op voorskuwing vrygelaat.

In 2010, agt jaar ná sy verkiesing, het hy sy homoseksualiteit in die openbaar erken en verklaar dat hy “moeg is om met die leuen te lewe”. Sy politieke teenstanders sou in elk geval sy geheim geopenbaar het, het die Mail on Sunday destyds beweer. “Ek kon nie toelaat dat iemand dit teen my gebruik nie, ek kon nie so ‘n risiko loop nie. Ek wil ook nie dat ander parlementslede sulke onaangenaamheid hoef te verduur nie,” het hy dié openbaring geregverdig.

Dié nuwe onthulling vind plaas teen die agtergrond van ‘n reeks seksskandale wat die Verenigde Koninkryk skud, onder andere ‘n ondersoek na verskeie gevalle van seksuele molestering waarvan die voorheen bekende maar afgestorwe TV-aanbieder van die BBC, Jimmy Savile, verdink word. Dié skandaal, wat verlede jaar losgebars het, het aanleiding gegee tot ‘n reeks soortgelyke onthullings. ‘n Aansienlike getal Britse openbare persoonlikhede is sedertdien aangekla van oortredings wat dikwels tot in die jare sestig, sewentig en tagtig teruggaan.

In die politiek staan Evans Evans as ‘n “regse” bekend. Hy het teen die minimumloon in Brittanje gestem en is ‘n sogenaamde “Europskeptikus” en dus gekant teen Brittanje se deelname aan die Europese Unie. Hy is oorspronklik van Swansea en was die vorige eerste minister John Major se woordvoerder oor Walliese aangeleenthede.

Volgens die Guardian was daar ewe veel homoseksuele in mev. Margaret Thatcher se regering, maar haar houding was: “Ons praat nie oor sulke dinge nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.