Joe Slovo se revolusie in 6 bedrywe

Deel op

Die afgelope tyd is dit asof die werklikheid stadig besig is om by Afrikaners in te sink. Selfs in die Nasperskoerante is daar deesdae min van die blinde lofsange aan ons “wonderlike grondwet” wat so tien, vyftien jaar gelede algemeen in die blaaie van Beeld, Die Burger en Rapport gevind kon word.

Die “wonderlike grondwet” bevat geen artikel wat eiendomsreg beskerm nie. Die onlangse Onteieningswet sien daar taamlik sinister uit en met rede. Dit is bedoel om die beplande grondgryp glad te laat verloop.

Ewe kommerwekkend is dat iemand soos Max du Preez, wat al dekades lank as kulturele marxis en propagandis help om die land al hoe meer radikaal na links te sleep, vandeesweek openlik verklaar dat “ons by Zimbabwe se florerende plase kan gaan leer”. In die Engelse koerante met hul groot getalle swart lesers, bepleit hy drastiese optrede teen Afrikaanse boere.

Ons is tans besig om die vrugte te pluk van die verwarring wat in die vroeë negentigerjare geheers het. Niemand het toe mooi besef wat aangaan nie. Die media het Mandela as ‘n Messias opgehemel en om die rugbywêreldbeker te wen, was al doelwit wat daar bestaan het.

Dat daar destyds ‘n duistere spel aan die gang was, is gewis. Uit vele van mnr. FW de Klerk se onlangse uitsprake blyk dit dat hy met vooraf bedagte rade opgetree het en waarskynlik nou met vreemdelinge saamgewerk het om die land se kiesers om die bos te lei en die SA Weermag buite aksie te stel. Waar het jy al gehoor van ‘n leier wat sy eie generaals afdank terwyl sy vernaamste vyand hom met geweld dreig?

Dis asof al die stukke van die legkaart nou eers in plek val. Soos ‘n drama wat stadig voor ons op die verhoog ontvou, kan ons sien hoe die revolusie voor ons afspeel. Aanvanklik was dit huiwerig, subtiel, maar gaandeweg kry die verhaal sy loop en kan ons nou sien hoe ons op die ontknoping afstuur. Die dramatiese finale bedryf lê nog voor.

Wat gaan ten einde laas van Afrikaners word?

Geen kommunistiese revolusie waartydens die land se bates onder dwang van een groep na ‘n ander verplaas word, het nog sonder grootskaalse geweld of selfs volksmoord plaasgevind nie. Die haat wat daar vir dekades jeens Afrikaners – “apartheid” is eintlik maar net ‘n metoniem vir “Afrikaners” – aangeblaas is, moet een of ander tyd tot uitbarsting kom.

Die afgelope paar dae het ek my verdiep in die geskiedenis rondom die Nasionale Party se kapitulasie in die vroeë negentigerjare, asook die planne van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en sleutelfigure soos Joe Slovo en Ronnie Kasrils.

Tydens Operasie Vula het die hoof van die Nederlandse Anti-apartheidsbeweging, Connie Braam, die ANC en SAKP gehelp om tonne wapentuig in die land in te smokkel. Die plan was om, terwyl onderhandelings tussen die NP en ANC plaasvind, Suid-Afrika met geweld oor te neem. Destyds het die polisie die plan gefnuik, maar niemand weet wat intussen van daardie wapens en plofstof geword het nie. Dalk word van die wapens deesdae in plaasmoorde en huisrooftogte gebruik?

Dit word allerweë erken dat Slovo die meesterbrein agter die Suid-Afrikaanse revolusie was. Tesame met Joe Modise, het hy die ANC se terreurmag, Umkhonto we Sizwe, aangevoer. Slovo en ander het in die tagtigerjare die moontlikheid raakgesien om Afrikaners te verdeel deur veral die liberale skrywers en intellektuele van die res van die volk te vevreem. Hulle moes gebruik word om die weermag en veral die dienspligtiges te ondermyn. Vandaar die Dakar-byeenkoms van 1987 waar die ANC en SAKP die Afrikaanse skrywers en ‘n politikus soos Van Zyl Slabbert geparadeer het. Intellektuele besoekers aan die destydse Sowjetunie of Kuba is mos op soortgelyke sirkusagtige wyse aan die Westerse media vertoon. Kom, spring nou deur die ring, skrywertjies.

Om te onderhandel, is gesien as maar net ‘n eerste stap in die magsoorname, of soos dit in ‘n destydse dokument van die SAKP gestel is: The path to power. Waarskynlik het Slovo die dokument opgestel. Daarin stel hy dit klinkklaar dat daar ‘n soort staats- of magsgreep moet plaasvind in die vorm van wat hy op Engels ‘n seizure of power noem. Dié dokument het in 1989 verskyn. Omdat daar reeds agter die skerms onderhandelings tussen die NP en die ANC aan die gang was, bespreek hy insgelyks die moontlikheid van ‘n “onderhandelde skikking”. Onthou, dit was nog voor De Klerk aan bewind gekom het en beslis voor Mandela se vrylating.

Slovo praat egter nie van ‘n onderhandelde skikking nie, maar van ‘n “onderhandelde magsoordrag” (negotiated transfer of power op Engels). Van die begin af het hy dus twee moontlikhede voorsien: 1) ‘n revolusionêre staatsgreep na die klassieke kommunistiese model, of 2) ‘n onderhandelde magsoordrag soos daar uiteindelik plaasgevind het.

Die punt is egter dat, ongeag die manier waarop mag verkry sou word, die uiteinde steeds die “revolusionêre transformasie van die maatskappy” sou wees. Soos Slovo dit stel:

We should be on our guard against the clear objective of our ruling class and their imperialist allies who see negotiation as a way of pre-empting a revolutionary transformation.

Slovo was bang dat daar te vroeg onderhandelings sou plaasvind alvorens die revolusionêre beweging magtig genoeg was om sy wil te laat geld en wat daarom ‘n uiteindelike kommunistiese revolusie sou stuit deur bloot sekere hervormings aan te bring.

Terugskouend kan ‘n mens nou sê dat die Suid-Afrikaanse revolusie presies volgens Slovo se plan verloop het – en steeds sy gang gaan! Dis ‘n revolusie in ses bedrywe wat ons só kan opsom:

  1. Die vyand word verdeel. Omdat die NP, KP, NP, asook die skrywers, akademici en die breë Afrikaanse publiek in elk geval besig was om soos kat en hond onder mekaar te baklei, was dit nie eens nodig vir Slovo, Kasrils en ander om verdeeldheid te saai nie.
  2. Die onderhandelde magsoordrag vind plaas. Aanvanklik het Tertius Delport, die NP se hoofonderhandelaar, weerstand gebied en wou sekere waarborge vir minderhede in die grondwet ingeskryf sien, maar De Klerk dank hom summier af. Daarna gee hy vir Roelf Meyer carte blanche om enigiets te “onderhandel” wat vir die ANC aanvaarbaar sou wees. Hiermee is Slovo se wildste drome bewaarheid en soos Cyril Ramaphosa dit destyds gestel het, “gee die Boere die plaas weg”.
  3. Die staatsadministrasie, waaronder ook die weermag, polisie en die staatsmaatskappye soos Eskom, Transnet, Telkom, die N.O.K., ens., word omvorm en van Afrikaners gesuiwer. In die praktyk het Umkhonto we Sizwe die weermag en die polisie oorgeneem.
  4. Beheer oor die SAUK, die skole en universiteite stel die revolusionêre in staat om die bevolking na willekeur te breinspoel. Oordrewe voorstellings van blanke en Afrikanerboosheid tydens “apartheid” word oor en oor uitgesaai en ook in die skoolleerplanne opgeneem. Die akademiese vryheid wat die kommuniste in staat gestel het om hul idees so te sê vrylik onder die NP-regering te bevorder, word nou beëindig. Alle pro-Afrikaanse en pro-Afrikaner-intellektuele word uit die universitêre stelsel verban en slegs diegene wat aan die revolusie onderdanig is, word voortaan geduld.
  5. Ontwapening. Die nuwe wapenwet wat enkele jare gelede ingestel is, asook die afskaffing van die kommando’s, had ten doel om ons weerloos teenoor staatsgeweld te stel. Soos die Amerikaanse kommentator Alex Jones dit al telkens gestel het, vaardig alle totalitêre bewinde wette uit om hul burgers te ontwapen. Wanneer die staat ‘n monopolie op wapenbesit bewerkstellig het, gaan die diktator of revolusionêre bewind tot optrede oor.
  6. Tydens die sesde en finale fase van die revolusie vind daar, soos in Zimbabwe, ‘n grondgryp en grootskaalse onteiening of nasionalisering plaas. Daarmee word die rug van die vyandelike groep – in dié geval die Afrikanervolk – gebreek. Óf hulle vlug landuit met slegs die klere aan hul lywe, óf hulle word in konsentrasiekampe ingejaag waar hulle weens hul reeds bewese boosheid en rassisme die geregverdigde “straf van die verdrukte massas” moet verduur. Onder sulke omstandighede is volksmoord natuurlik nie die uitsondering nie, maar eerder die reël.

Soos Slovo dit in 1989 gestel het:

As always, we Communists, together with our brothers, sisters and comrades in the liberation alliance, will remain at our posts however long the road to victory. The perspective of a protracted struggle can never be abandoned. But we are also convinced that the situation has within it the seeds of a sudden transformation. We must prepare ourselves, and be ready. Our watch words are unity, organisation and struggle.

Tans gaan ons die laaste bedryf van die revolusie binne: grondonteiening en die finale vernedering en uitwissing – hetsy fisiek, hetsy geestelik of albei – van die Afrikanervolk.

Die meeste mense voel reeds intuïtief aan dat daar iets drasties in die land fout is. Die teks vir hierdie drama is jare gelede al geskryf en ons strompel fatalisties na ons beplande ondergang voort. Dit herinner my so effens aan die beroemde roman van Gabriel Garcia Márquez, Kroniek van ‘n aangekondigde dood. Ons weet reeds wat die einde van die storie is, maar stap vir stap moet ons die hele tragiese verhaal beleef.

Soos in ‘n nagmerrie, poog ons vergeefs om wakker te word, maar voel magteloos. Immers is ons oor jare gekondisioneer om hierdie soort slawetoestand te aanvaar. Die groep mense wat hulle van ons meester gemaak het, is uitgeslape, gewetenloos. Die meeste Afrikaners mor tevergeefs oor Jacob Zuma terwyl hy waarskynlik ‘n blote marionet of figurant in die hele drama is. Hulle stem almal vir mev. Helen Zille wat haarself onlangs in ‘n toespraak onthul het as een van die meesterbreine agter die revolusie, ten minste op dieselfde vlak as Joe Slovo of Ronnie Kasrils.

Arme Afrikanerskape wat so blind vir die werklikheid is, selfs al huiwer die mes al by hul kele.

Wat staan ons te doen?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.