Anton van Niekerk tokkel weer sy een snaar

Deel op

Soos die nie-intellektueel Desmond Tutu wil Anton van Niekerk graag in die kalklig wees, maar as intellektueel. Albei is hoogs ingenome met die sogenaamde demokratiese rewolusie wat ons beleef het. Onlangs (13 April, p 9) het Van Niekerk ‘n forum-artikel in Die Burger onder die opskrif, “Uit die DNS van geloof”, gepubliseer. In hoe ‘n mate hy eerder teoloog as wysgeer is, blyk uit die teks. Dit gaan om die deur hom reeds snuifgetrapte onderwerp van die verskil tussen religieuse en wetenskaplike kennis. Nêrens kom die rol van die wysbegeerte ter sprake nie.

Wat hinder, is die hoogte vanwaar Van Niekerk met die koerantlesers praat. Hy is ‘n orakel in volle swang. Hy begin met sy geliefkoosde belediging, naamlik dat “die Afrikaners” met hulle idees 200 tot 250 jaar agter die Europeërs se denke is. Heel voorspelbaar wyt hy dit aan “die outoritêre onderdrukking van die oop gesprek in die apartheidsjare en daarvóór in Suid-Afrika,” dus toe wittes aan die bewind was.

Hy betoog voorts dat gelowiges hulle godsdiens moet aanpas, dit “laat resoneer met die tydgees.” Die Bybel moet hervertolk word. Tutu en ander bevrydingsteoloë, soos van Van Niekerk se kampuskollegas, is klaarblyklik in die kol met hulle verpolitiseerde geloof. Fundamentalisme is volgens Van Niekerk ‘n onding, want geloof word tot bygeloof verwater. As by wetenskaplike waarheid gesweer word, word dit ook ‘n fundamentalistiese ideologie. Van Niekerk dink blykbaar dat hy en die bevrydingsteoloë bo hierdie fundamentalisme verhewe is.

Van Niekerk kan homself egter nie daartoe beweeg om sy vooroordele teen sy eie etniese groep, die wittes en veral die Afrikaners, af te skud nie. Nog minder kan hy krities oor die destuktiewe gevolge van die bevrydingsteoloë se gedrag besin. Hy soek die sondebokke elders, naamlik by die wittes en by voorkeur by die Afrikaners.

Teen die einde van sy artikel vind Van Niekerk, soos gebruiklik, sy uitvlug in “die misterie”. Nêrens toon hy aan dat naas enersyds religieuse geloof, waarvoor die nie-ontwikkeldes intuïtief vatbaar is, en andersyds wetenskaplike kennis, waartoe ontwikkelde, rasionele mense aangetrokke voel, laasgenoemdes ook by wysgerige insigte kan baat op die terreine waar die wetenskap hom nie kan laat geld nie.

Les bes noem Van Niekerk, by implikasie, die Universiteit Stellenbosch in sy huidige gedaante ‘n universiteit en die nuwe Suid-Afrika ‘n ware demokrasie. Albei aannames is aanvegbaar.

Volgens Van Niekerk is nie alle Afrikaners twee eeue en langer agtergeblewe nie. In ‘n verdere forum-artikel in Die Burger (17 April, p 13) skryf hy tot lof van Sampie Terreblanche: “‘n stem teen ongeregtigheid,” “dié herout van die Afrikaner se sosiale gewete,” “the trumpeter of his time.” Terreblanche se “kompromislose stem van protes teen die diepgewortelde skreiende institusionele ongeregtigheid van Suid-Afrika se sosiaal-politieke en veral ekonomiese orde het oor die jare getrompetter in die verhaal van ons uiteindelike wegdraai van die waarsin van apartheid en in die rigting van ‘n regverdiger samelewing.” Hier is Van Niekerk in sy element. Hy stapel sy woorde op teen apartheid, wat ‘n metoniem vir veral die Afrikaner is (soos Dan Roodt onlangs uitgewys het), op ‘n wyse wat hy nooit teen nie-wittes en veral swartes en die nuwe Suid-Afrika sal doen nie.

Armoede word “die speerpunt van die immoraliteit van apartheid” genoem. Apartheid het na bewering die bruines “sosiaal gekondisioneer om arm te wees.” Die Bybel noem egter dat die armes altyd met ons sal wees. Sou dit altyd (net) vanweë apartheid wees? Het die veelgeroemde demokratiese rewolusie in die nuwe Suid-Afrika armoede noemenswaardig verlig? Terreblanche het ‘n broertjie dood aan kapitalisme omdat dit glo die herverdeling van rykdom verhinder. Impliseer dít ongeregtigheid of is dit veeleerder onregverdig as mense sonder teenprestasie hulle geregtig op allerhande voordele uit die staatskas ag?

Ten slotte loof Van Niekerk Terreblanche se “ensiklopediese kennis van die geskiedenis.” Maar die voorbeeld wat hy ter illustrasie uitsonder, wek twyfel. Jan Smuts se denke oor raspolitiek is volgens Terreblanche glo soortgelyk aan dié van FW de Klerk, naamlik daardie mooi klinkende vaagheid: “‘Kom ons soek die dinge wat ons verbind, en nie wat ons skei nie … ‘Ja,’ sê Terreblanche dan, ‘sê nou net Smuts het in 1948 gewen. Hoe sou Suid-Afrika vandag gelyk het?'” Dit is die ou, ou tyding: Alles sou beter gewees het as die Afrikaners nie aan die bewind gekom het nie. Maar as hier werklik van ensiklopediese historiese kennis sprake was, sou Terreblanche en Van Niekerk geweet het dat daar groot eenstemmingheid in gesaghebbende historiese bronne is dat Smuts, veral wat raspolitiek betref, geen raad met Suid-Afrika gehad het nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.