Louis Trichardt-munisipaliteit ontvang ‘skokkende’ ouditverslag

Deel op

‘n Ouditverslag oor die Makhado- plaaslike munisipaliteit wat verlede jaar deur die ouditeur-generaal aan die Limpopo-provinsie voorgelê is, is so pas deur die belastingbetalersvereniging van Louis Trichardt vrygestel.

Mnr. Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie het in ‘n verklaring die ouditverslag as “absoluut skokkend” bestempel. In ‘n boodskap van meegevoel met die plaaslike belastingbetalersunie onder leiding van mev. Inga Gilfillan, sê Kelder: “Dit skrei ten hemele! Ons is van mening dat julle nou behoort te sê: genoeg is genoeg! Dit sou makliker vir die ouditeur-generaal gewees het om te sê wat reg verloop het in die munisipaliteit. Dit sou net een woordjie gewees het: ‘NIKS!'”

Louis Trichardt se belastingbetalers, wat ook ‘n naamstryd teen die benaming “Makhado” voer, weerhou tans meer as R10 miljoen van die munisipaliteit omdat daar soveel wanbestuur plaasvind. Mnr. Jaap Kelder van die NBU het aan Louis Trichardt se inwoners verklaar: “Goddank het julle julle fondse van die munisipaliteit weerhou anders het die R10 miljoen ook nog in die bodemlose put verdwyn.”

In die verslag verklaar die ouditeur-generaal dat hy geen behoorlike rekords oor meer as R1,6 miljard se munisipale bates kon vind nie. Hy het reeds ‘n jaar gelede sulke syfers versoek, maar dit is nog nie beskikbaar nie.

Daar was ook nie gegewens beskikbaar oor meer as R300 miljoen se roerende bates nie.

Benewens probleme met die boekhouding wat BTW betref, het die munisipaliteit ongemagtigde besteding van R57 872 128 aangegaan.

Dié bedrag van byna R58 miljoen wat as ongemagtigde besteding aangegee word, is egter onderskat met meer as… R124 miljoen. Gesamentlik het die munisipaliteit dus ongemagtigde besteding van R182 miljoen aangegaan.

Foute van die vorige jaar wat deur die ouditeur-generaal uitgewys is, is nog nie reggestel nie.

R33 miljoen is aangewend vir ander doeleindes as waarvoor raadsbesluite geneem is.

Die ouditeur-generaal bevind dat die munisipaliteit nie oor die nodige kundigheid of bekwaamheid beskik om die wetlike vereistes vir die bestuur van ‘n plaaslike owerheid na te kom nie.

Ander elemente wat in die ouditverslag uitgelig word, is:

  • R200 miljoen se goedere en dienste is sonder pryskwotasies aangekoop, wat strydig met die toepaslike regulasies is.
  • Tenders is toegeken aan persone of entiteite sonder dat hulle verklaar het of hulle in diens van die staat of staatsinstellings is.
  • Die rekenkundige beampte het nie redelike stappe geneem om ongemagtigde besteding te voorkom soos deur artikel 63(2)(c) van die Wet op munisipale finansies en bestuur vereis word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.