Pasop vir Amerikaanse destabilisering van Suid-Afrika!

Telkens as ek die hoofstroom- liberale webwerwe op my rekenaarskerm oopmaak, moet ek eers my lagbuie tot bedaring bring voor ek verder kan lees. Dieselfde koerante en joernaliste wat tot enkele maande gelede nog “ons wonderlike demokrasie” met “die beste grondwet ter wêreld” besing het, is tans besig om die ANC-bewind fel te kritiseer. Die 13 soldate wat in die Sentraal-Afrikaanse Republiek omgekom het, is die jongste voorwendsel om president Jacob Zuma so sleg te sê dat die see hom nie kan afwas nie.

Ek wil vra: maar is dit nie julle alwetende mediamense wat so graag wou gehad het die ANC moet Suid-Afrika regeer nie? Wat het geword van al die lofsange aan Madiba, transformasie, versoening, grondhervorming en ander grondslae van liberale sikofansie in dié land?

Dis seker erg dat dertien SA soldate weens ‘n gebrek aan ammunisie in die SAR moes sterf. Maar dis vir my erger dat tienduisende plaas- en stadsmoorde al gepleeg is en geen dooieboomnuusorgaan soos Rapport of Beeld het al ooit geskryf nie: “Dis ‘n krisis. Só kan dit nie aangaan nie!”

Wat is nou eintlik aan die gang met “die media” soos hulle genoem word? Hoe op aarde het dit gebeur dat hulle al weer ‘n regsomkeer gemaak het, “sonder om ‘n paradepas te mis”, soos Breyten Breytenbach dit eenkeer gestel het?

Eens is regering deur die ANC en veral die halfgod Mandela as die wonderkuur vir al Suid-Afrika se etniese en politieke probleme beskou. Nou wil dit lyk asof ons twintig jaar van transformasie in trurat moet gooi, van Zuma en sy Zoeloe-magsbasis moet ontslae raak en ‘n ander regering kry. Wie sal daardie regering wees? wonder ek so by my selwers? Mev. Zille en haar ondersteuners onder die minderheidsgroepe?

Die DA wat die ANC kort-kort as “immoreel” en “korrup” tipeer, laat my insgelyks glimlag. In Midvaal het die DA ook korrupsie gepleeg en in Kaapstad is “pienk” sekstoerisme bevorder, wat tot ‘n toename in kinderprostitusie in die Moederstad gelei het. Is Kaapstad regtig ‘n meer morele plek as Nkandla?

Op PRAAG skryf ons al maande en jare oor die geostrategiese herskikking in die wêreld, asook die nuwe “stormloop na Afrika” deur die groot moondhede soos China, die VSA, Frankryk en Rusland. Soos almal weet, gaan dit om grondstowwe soos goud, diamante en veral olie. My vrou Karin het reeds ‘n spioenasieverhaal, Duiwelsasem, oor die stryd in die Meregebied naby die SAR geskryf, wat einde verlede jaar gepubliseer is. By PRAAG is ons hiperbewus van die stormloop na Afrika en hoe Afrikaners uiteindelik daarby betrek gaan word, hetsy willekeurig, hetsy onwillekeurig.

Die groot stryd is egter tussen China en die VSA. As lid van BRICS, bevind Suid-Afrika hom reeds in die China-kamp. Eintlik is dit ‘n ongelooflike geostrategiese verskuiwing wat plaasgevind het toe die ANC hom uit die omhelsing van Londen en Washington losgemaak en sy heil in Moskou en Beijing gaan soek het!

Soos ek al soveel kere gesê het, is die ANC ‘n maaksel van Groot Brittanje. Dis waarom daar ‘n standbeeld vir Nelson Mandela langs die Westminster-parlementsgebou op hul Parlementsplein in Londen opgerig is. Ook die Swart Koukus in die VSA het ‘n sleutelrol in die opkoms en magsoorname van die ANC gespeel deur president Ronald Reagan se vetoreg in 1986 te laat ophef en sodoende sanksies teen die destydse Afrikanerregering van Suid-Afrika ingestel te kry.

Veral onder Mandela, maar ook daarna, het die ANC streng in die Anglo-Amerikaanse invloedsfeer verkeer. Feitlik onmiddellik ná 1994 het ons insgelyks weer ‘n Statebondland geword en Mbeki het saam met die Britse koningin in ‘n oop koets deur Londen se strate gery.

Dat ons nou onder Zuma ‘n BRICS-land geword het, is op sy minste merkwaardig. Net soos Brittanje en Amerika die Afrikanerregering van destyds, wat gedurende die hele twintigste eeu hul bondgenoot was, weggesmyt het om die ANC te omhels, wil dit voorkom asof die ANC nou op sy beurt opsy gestoot is! Net soos Libië, Egipte, Sirië, noem maar op. Die Anglo-Amerikaanse Ryk verander maklik van bondgenote; eendag is jy nog ‘n vriend, en die volgende dag steun hulle die rebelle in jou land en stuur hul spesmagte om jou bewind omver te werp.

Dink ook hieraan, liewe leser. Die meeste Amerikaanse toeriste wat die land binnekom – of hulle nou blank, swart of van gemengde afkoms is – gaan besoek die Hector-Peterson-monument in Soweto of die plek waar die Freedom Charter aangeneem is, Kliptown. Dit strook met hul siening van Suid-Afrika, as ‘n rassestryd tussen swart en wit, soortgelyk aan hul burgerregtebeweging, wat op die triomf van swart uitgeloop het. Amerika se swart president, Barack Obama, word allerweë met sowel Martin Luther King as Nelson Mandela vergelyk.

Miskien weet u reeds waarheen die meeste Chinese toeriste in Suid-Afrika gaan? Na die Voortrekkermonument! Net gister tydens die viering van Stigtingsdag by die Voortrekkermonument loop ek ‘n toeristegids raak, ‘n vrou wat gewoonlik Duitssprekende toeriste vanuit Duitsland, Switserland en Oostenryk by die monument vergesel.

“Is daar nog heelwat Chinese wat die monument besoek?” vra ek haar.

Haar blou oë rek groot. “Hordes!” roep sy uit. “Elke dag hou hier ‘n stroom toerbusse stil. Dan klim skares Chinese uit. Hulle het hul eie toergidse wat hulle rondneem en in Mandaryns oor die monument uitwei.”

Die hoeveelheid Chinese wat die Voortrekkermonument besoek oortref die aantal Afrikanerbesoekers by verre. Wat sien die Chinese in die Voortrekkermonument raak? wonder ek. Vir seker gaan ek dit navors en moontlik een of ander tyd daaroor berig.

Suid-Afrika het radikaal verander. Maar so ook die wêreld. Binnekort gaan China oor ‘n groter ekonomie as dié van die VSA beskik. China is ‘n handelsland wat sy produkte aan almal wil verkoop. Amerika, aan die ander kant, is ‘n hegemoon wat die wêreld militêr en ideologies wil oorheers. Hy destabiliseer en vernietig kleiner lande, veral in die Midde-Ooste. Libië, Egipte, Sirië, Irak en Afganistan sal moontlik nooit van Amerikaanse politieke en militêre inmenging herstel nie.

Wee die dag as Amerika sy vliegdekskepe na ons land stuur om hier te lande ‘n “regimeverandering” te bewerkstellig! As ek so na ons histeriese media luister en sien hoe Rapport, Beeld, Business Day, die Mail & Guardian, die Sunday Times en die res ‘n intense propagandaveldtog teen die Zuma-ANC voer, dan wonder ek: Wat presies wil hulle hê? Die gedagte dat Helen Botoxilla vir die charismatiese Zuma by die stembus gaan kafdraf, is gewoon vergesog. Die LGBT-gemeenskap van Kaapstad is groot, maar daar is meer as tien miljoen Zoeloes wat sal aanhou om Zuma getrou te ondersteun.

En as die stembusopsie nie werk nie, wat dan? ‘n Sluipmoord op Zuma soos destyds op Verwoerd? Toe die presidensiële vliegtuig in Rwanda in 1994 afgeskiet is, het ‘n volksmoord daar uitgebreek. ‘n Multietniese samelewing soos dié van Suid-Afrika verkeer maar altyd op ‘n mespunt, met gevoelens wat na weerskante toe hoog kan loop.

Kragdadige Anglo-Amerikaanse inmenging in Suid-Afrika kan maklik op burgeroorlog uitloop, soos in soveel ander lande. En watter model kan Amerika ons bied? Slegs multikulturalisme wat geensins rassekonflik besweer nie, maar dit eerder aanblaas. Lees hierdie artikel vir insig oor die vrese van blanke Amerikaners wat tot 1960 ‘n meerderheid van 90% in hul land geniet het, maar wat tans ‘n ongekende demografiese afgang en toenemende diskriminasie en geweld beleef.

Soos voor die tweede wêreldoorlog, sal Afrikaners moet kies: óf Engeland óf Duitsland. Smuts was ‘n groot bewonderaar van die Duitsers maar het ter wille van realpolitik die kant van Engeland gekies. Vele Afrikaners het hom egter nie hierin gevolg nie, wat tot groot verdeeldheid onder ons mense gelei het.

Smuts het ook gesê dat “die lot van Suid-Afrika altyd buite die land se grense beslis sal word”. Dit is al oor en oor bewys. Die ANC het feitlik sonder enige bewese steunbasis in Suid-Afrika self die land in 1994 verower, bloot vanweë grootskaalse buitelandse steun.

Die afgelope week se gebeure toe ‘n skermutseling in die Sentraal-Afrikaanse Republiek plaasgevind het, verteenwoordig ‘n baie kort hoofstuk in ‘n veel groter verhaal. Dit is die geopolitieke wedstryd tussen China en die Anglo-Amerikaanse Ryk in Afrika wat van nou af aan sal woed.

Waar staan ons Afrikaners in dié konflik? By die mense wat Soweto besoek of dié wat die Voortrekkermonument aandoen? Anders as Amerika, is China ‘n land met ‘n baie ou geskiedenis wat nie aan sy eie identiteit twyfel nie. Die president is ‘n Chinees, met ‘n Chinese vrou wat blykbaar oulike Mandarynse liedjies sing. Hy is nie ‘n halwe Keniaan met ‘n Arabiese voornaam wie se geboortesertifikaat uit Hawai in sy eie land omstrede is nie.

Ek het nêrens nog gehoor dat Chinese kritiek lewer op die taal of identiteit van Afrikaners, soos die Amerikaners en Britte maak, nie. Chinese is versigtig, diplomaties. Hulle wil ons nie verander om soos hulle te word, hulle taal te praat en hulle onsinnige multikulturele idees aan te hang nie.

Dít alles laat my dink dat Afrikaners ten eerste in hul eie belang moet optree en versigtig die nuwe gegewe in Afrika en in die wêreld moet opweeg. Dalk bied China en BRICS ons veel meer as die Anglo-Amerikaanse Ryk aan wie ons vir so lank lojaal was, maar wat ons soveel kere reeds in die rug gesteek het.

En Zuma? Toegegee, daar is baie dinge in Suid-Afrika wat verkeerd loop. Maar ons kan nie alles sonder meer aan die ANC toeskryf nie. Myns insiens het blanke Engelse en die Afrikanerverraaiers – ons kan hulle gerus “Verraaierkaners” doop – sedert 1994 veel meer gedoen om ons volk te benadeel as die ANC self. Wie het ons Afrikaanse skole begin aanval? Meesal wit Engelse of Indiërs in die provinsiale onderwysdepartemente. Die eerste skoot in die hof teen Afrikaanse skole was daardie aaklige ou Sap-regter Johan Kriegler se absurde uitspraak in Johannesburg dat swart kinders in die taal van hul keuse by ‘n Afrikaanse skool onderrig behoort te ontvang, “selfs al is dit Yslands”. Yslands? Kriegler se kop het geraas. En wie het die Afrikaanse universiteite begin “transformeer” en verengels? Oorwegend Verraaierkaners wat sodoende ‘n geleentheid gesien het om bevordering te kry of om hul universiteite internasionaal as Anglo-Amerikaanse universiteite te posisioneer. Kovsies sou nou nog ‘n voortreflike Afrikaanse universiteit gewees het as Verraaierkaners op die raad nie besluit het om Jonathan Jansen daar in te voer nie.

Wat van grondhervorming? Weereens is dit Britse NRO’s en veral twee wit Engelse vrouens, Cheryl Walker en Ruth Hall, wat die meeste doen om Afrikanerboere van hul grond te beroof. Hulle beïnvloed die ANC téén Afrikaners, pleks van andersom.

Sedert Zuma as ANC-leier oorgeneem het, het hy die party geheel en al omvorm. Onder andere het hy van Malema ontslae geraak. Hy het Afrikaners in die openbaar erken as ‘n “inheemse wit stam van Afrika”.

Etnies het die ANC vir alle praktiese doeleindes ‘n Zoeloe-party geword. Ek verstout my om te sê dat die ANC vandag baie nader aan die Inkatha van die 1970s is as aan die soort kommunistiese terroristebeweging wat die Britse Arbeidersparty, die Anglikaanse Kerk, asook Swede, Noorweë en Nederland in ballingskap befonds het.

Destyds was Buthelezi een van ons getrouste bondgenote en ‘n groot voorstander van etniese federalisme, totdat Roelf Meyer, nog ‘n Verraaierkaner, hom met militêre geweld gedreig het indien Kwazulu sou probeer afstig. Soos die Amerikaners en Engelse, het ook ons Afrikaners ons bondgenote in die rug gesteek: Buthelezi, Ian Smith, Jonas Savimbi en baie ander.

Dis tyd dat ons die groter prentjie begin raaksien. Hier is ‘n paar opsies om te oorweeg:

  1. Ons doen eenvoudig niks nie en besoek maar die winkelsentrums en kyk rugby. Om Gods water oor Gods akker te laat loop, is beter as om deur die media opgesweep te raak en saam met die Amerikaanse faksie, waaronder die DA, die Zuma-ANC te probeer ontsetel.
  2. Ons hergroepeer as ‘n volk en begin iets doen aan ons veiligheid, die plattelandse munisipaliteite waar alles verval, asook ons ekonomiese situasie waar werkskepping vir Afrikaners prioriteit behoort te geniet. Soos die Jode, Grieke of Portugese, moet ons ‘n eie netwerk vorm en begin saamwerk.
  3. As ons oor die moed en visie beskik, sluit ons as volk informele bondgenootskappe met die Zuma-ANC, asook Rusland en China binne die BRICS-verband. Ons vertaal Russiese en Afrikaanse boeke oor en weer, stuur ons skrywers en sangers Moskou en Beijing toe, en word volwaardig deel van die post-Amerikaanse wêreld wat besig is om tot stand te kom. Ons onderhandel met Zuma oor grond, onderwys, veiligheid, gesondheid en selfs buitelandse kulturele verhoudinge sodat ons so selfstandig as moontlik kan begin optree. Omdat daar steeds Afrikaners by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag betrokke is en Zuma van ons Afrikanerwapens (bv. die Rooivalk) gebruik maak, kan die versterking van die SANW een van die kwessies wees waaroor ons met Zuma kan onderhandel en waartoe Afrikanerkundigheid ‘n bydrae kan lewer.

Ten minste sal die soldate se ammnunisie dan nie sommer opraak nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.