Stellenbosch en ander Wes-Kaapse name verander

Deel op

Mev. Helen Zille, premier van die Wes-Kaapse provinsie, het ‘n hele reeks naamsveranderings in dié provinsie aangekondig. Dít volg ná die suksesvolle transformasie van skool- en straatname wat die party reeds in Midvaal uitgevoer het.

“As ek om my kyk, sien ek nog te veel name en simbole uit die apartheidstyd,” het mev. Zille in Kaapstad gesê. “Ons party, wat die fakkel van bevryding by die ANC oorgeneem het, sal sorg dat die hele provinsie van apartheidsname gesuiwer word.”

Die naam van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad is een van die eerstes wat gaan waai. Sowel die munisipaliteit van Kaapstad as die provinsiale owerheid het reeds stukke op die skool en sy beheerraad beteken waarin hulle tien dae gegun word om die skool se naam te verander, anders sal die dit summier gesluit word.

Die skool moet ook sy wapen en leuse verander. Die leuse, “Wees jouself”, word deur die Stad Kaapstad en die provinsie as “uiters rassisties, seksisties, patriargaal en etnies chauvinisties” gesien en moet daarom saam met die naam gewysig word.

‘n Bekende naam wat ook in die slag bly, is dié van Stellenbosch. Die Swazi-gebore parlementêre leidster van die DA, me. Lindiwe Mazibuko, het die naam as “uitheems en ‘n klad op die hele Wes-Kaap” beskryf. Die party het tydens ‘n seremonie by die Victoria-en-Alfred-waterfront in Kaapstad aangekondig dat Stellenbosch voortaan as die “Robert-Sobukwe-metro” bekend sal staan.

Die Universiteit van Stellenbosch het die naamsverandering van die dorp verwelkom en terselfdertyd verklaar dat dié instelling insgelyks sy naam na die “Robert-Sobukwe-universiteit vir Afrikastudies” sal verander.

“Ons voel al lankal ongemaklik met die naam Stellenbosch,” het prof. Russel Botman, die rektor, gesê. “Dit herinner te veel aan die gekonstrueerde apartheidsidentiteit van die Afrikaner. Ons is deesdae ‘n Afrika-universiteit waar Afrikastudies een van die grootste enkele doseer- en navorsingsaktiwiteite verteenwoordig. Daarmee saam word die meeste van ons kursusse vanuit ‘n swartbewussynsperspektief aangebied, iets waarvan mnr. Robert Sobukwe, stigter van die PAC, natuurlik ‘n voorloper was. Ons is daarom baie trots om ons kampus hier onder die eikebome na die Robert-Sobukwe-universiteit vir Afrikastudies te herdoop.”

Prof. Cheryl Walker, hoof van die departement sosiologie aan die universiteit en ‘n voorste pleitbesorger vir grondhervorming, was “verheug” oor die naamsverandering. “Ons moet nou nog net van Afrikaans hier op die kampus ontslae raak, dan sal ons almal meer tuis voel.”

Wynboere op Stellenbosch het ná ‘n vergadering met die premier se kantoor hul “heelhartige samewerking met die transformasie-inisiatief” belowe. Alle wynetikette waarop die woorde “Wine of Stellenbosch” verskyn, sal eersdaags met “Wine of the Robert Sobukwe Metro” vervang word. “Ons het reeds ‘n klompie jare gelede alle Afrikaans van ons etikette verwyder,” het een van die wynboere gesê. “Dus sal ook hierdie verandering glad verloop. Mens moet aanpas by die nuwe omstandighede.”

Die bekende Dorpstraat op Stellenbosch sal insgelyks tot “Robert-McBride-straat” herdoop word. ‘n Woordvoerder van die Bruin Bevrydingsinisiatief het gesê: “Noudat mnr. McBride op klagtes van dronkbestuur en regsverydeling vrygespreek is, voel ons die tyd het gekom om hom vir sy bedrae tot die ‘struggle’ te vereer. Hy sal altyd vir sy dapper optrede by Magoo’s Bar op die Durbanse strand onthou word. Ons wil ook die universiteit versoek om ‘n eredoktorsgraad aan hom toe te ken, sommer by dieselfde seremonie waar ‘n eredoktorsgraad postuum aan Robert Sobukwe toegeken sal word.”

Terwyl die hele Robert-Sobukwe-metro (voorheen Stellenbosch) werskaf om die nuwe naamborde aan te bring, het die raad van die universiteit besluit om vandag op 1 April te vergader om die voorgestelde Ph.D.’s, honoris causa, aan die twee Roberts (Sobukwe en McBride) te bespreek.

“Ek dink nie daar sal ‘n probleem wees nie,” meen prof. Russel Botman. “Toe die eredoktorsgraad postuum aan Bram Fischer toegeken is, was daar ‘n effense polemiek, maar dié keer is ons hele gemeenskap baie eensgesind. Die Robert-Sobukwe-universiteit vir Afrikastudies is ‘n globale universiteit met Engels as voertaal en hierdie progressiewe gebaar kan net ons internasionale aansien verhoog.”

Ook die SR het tydens ‘n spesiale sitting sy onvoorwaardelike steun aan sowel die naamsverandering as die toekenning van die twee eredoktorsgrade uitgespreek.

Ander Wes-Kaapse name wat verander, is onder andere: Montagu word Winnie Madikizela-Mandela Village, De Doorns verander na Chris Hani City, Bellville word gewysig na Joe Slovo Town en Franschhoek word na Frantz Fanon Corner herdoop.

Kampsbaai sal voortaan as Tsafendasbaai bekendstaan. Volgens mev. Zille “word die liberale bydrae tot die bevrydingstryd in Suid-Afrika dikwels onderskat. Ek het veral ‘n sagte plekkie vir mnr. Frederick John Harris wat deur die apartheidsregime ter dood veroordeel is. Daarom sal ons De-Waal-rylaan na hom vernoem en ook ‘n standbeeld teen Duiwelspiek vir hom oprig van waar hy ‘n ogie oor die stasie van Kaapstad kan hou.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.