BRICS – ‘n geleentheid vir die Afrikaner?

Deel op

Tot gisteraand redelik laat was ek in gesprek met ‘n jong Russiese PhD-student uit Moskou wat navorsing oor Afrikaans en Afrikaners doen. Dit het toevallig op dieselfde dag gebeur as wat die BRICS-konferensie in Durban tussen die regerings van Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika plaasgevind het.

Die gesprek, maar ook alles wat daar die afgelope paar dae in die media rondom BRICS geskryf is, het my aan die dink gesit. My gevolgtrekking is dat BRICS ‘n enorme geleentheid vir Afrikaners verteenwoordig.

Met die uitsondering van China, bestaan BRICS uit lande wat tans vanuit die internasionale handelstelsel uitgesluit word. Dink daaraan: Watse Russiese handelsmerke dra jy in jou sak rond of hang in jou kas? Wanneer laas het jy ‘n Brasiliaanse tydskrif gelees? Net soos wat Afrikaans en Afrikaners in Suid-Afrika “onsigbaar” geword het, bly sekere lande op die internasionale verhoog afwesig.

Die Russe se intense belangstelling in Afrikaans is iets wat my nogal boei. Daar is seker omtrent vyftig Russe in Moskou wat Afrikaans uit hul eie aangeleer het en ons kultuur deurlopend bestudeer. Blykbaar het een van hulle al sewentien boeke oor die Russiese deelname aan die Tweede Vryheidsoorlog geskryf!

Ook die afgelope week dink en lees ek aanmekaar oor die Engelse identiteit – in ‘n poging om Suid-Afrika te verstaan. Sedert 1994, maar ook daarvoor, het Suid-Afrika amper nog meer Engels as Brittanje geword. Trouens, ‘n interessante onlangse verskynsel is die soort identiteitskrisis wat Brittanje beleef noudat Skotland, Wallis en Noord-Ierland al hoe meer selfstandig begin word, met Skotland wat dreig om heeltemal van die Verenigde Koninkryk af te skei.

Iewers in V.S. Naipaul se briljante roman oor die Kongo, A bend in the river, verwys hy na die Arabiese kultuur in Oos-Afrika wat soos die dowwe lig van ‘n vergane ster steeds flikker. In vele opsigte is Suid-Afrika se sterk Engelse identiteit vir my so iets: die Britse Ryk is lankal dood en in Engeland self wonder mense al hoe meer oor die sin en inhoud van Engels-wees, terwyl die sogenaamde “Suid-Afrikaners” hulself steeds verbeel dat hulle ‘n onderdeel van ‘n groter, universele kultuur met sy sentrum in Londen verteenwoordig.

Ook in dié opsig lui ons land se lidmaatskap van BRICS die doodsklok vir Suid-Afrika se selfversekerde Engelsheid. By al die nuttelose debatte wat daar in ons land gevoer word – soos byvoorbeeld oor “witheid” en sulke twak – het ‘n indringende gesprek en ontleding oor Engelsheid uitgebly. Want maak geen fout nie: oor die afgelope meer as 200 jaar is Afrikaners ook grondig verengels. Dis dié dat ons mense Australië en ander Statebondslande waar die Britse koningin steeds die staatshoof is as ‘n soort utopie beskou waarheen hulle wil emigreer.

In sy surrealistiese verhaaltjie, “calamity gulch (engelse gedagtes)”, wat in die bundel Katastrofes opgeneem is, skryf Breyten Breytenbach: “Een van my ideale was nog altyd om op die een of ander wyse die eentonige verloop van die alledaagse in Londen te ontwrig. Ek sou graag die stad vanuit ‘n vliegtuig in die lug wou bemors.”

Met al die stakings en geweld, is die verloop van ons Engelse lewens hier in Suid-Afrika sekerlik nie “eentonig” nie, maar ek kry dieselfde gevoel as Breyten Breytenbach se verteller as ek die meedoënlose Engelsheid in Woolworths teëkom of ons advokate in die howe aanhoor waar hulle oor mekaar val om die regters – al is hulle swartes of Indiërs – as “Milord” of “Milady” aan te spreek. Wat is meer absurd as dít? Hulle kort nog net wit pruike in die middel van die Pretoriase somer.

Maar terug by BRICS. Vele mense beskuldig China daarvan dat hy die nuwe koloniale moondheid in Afrika geword het en moontlik is hulle reg. Aan die ander kant is Chinese die grootste enkele groep besoekers aan die Voortrekkermonument. Daar is selfs meer Chinese wat die Voortrekkermonument besoek as Afrikaners wat deesdae eerder Woolworths wil vereer. Wat presies sien hulle daar? wonder ek.

Ek het nog van geen Chinees gehoor wat nee gesê het vir ‘n transaksie omdat die persoon aan die ander kant ‘n blanke was en nie ‘n swarte nie, anders as die Amerikaners en Wes-Europeërs wat Suid-Afrika toe kom en hul ellendige politieke korrektheid hier by ons kom afdwing. Ook kan ek my kwalik voorstel dat Russe, soos die Britte maak, hul neuse vir Afrikaners sal optrek en vra watse SEB-gradering jy nou eintlik het voor hulle ‘n koeksister by jou sal koop.

Kortom, ek dink ons kan met Russe en Chinese sake doen. En met die Russe kan ons selfs kulturele uitruilprogramme van stapel stuur, mekaar se boeke vertaal en iets meer van mekaar te wete probeer kom. Van ons nagraadse studente behoort Rusland toe te gaan, en andersom.

Vanweë ons land se gerigtheid op Engeland en die Statebond, weet ons omtrent niks van Rusland – of die meeste ander lande – af nie. Ons verstaan ook niks van hul ekonomieë en waar geleenthede vir uitvoer bestaan nie. Hierteenoor beskik elke Duitse dorpie oor ‘n eie Handelskammer wat plaaslike maatskappye van inligting oor handelsgeleenthede voorsien. Is dit verbasend dat Duitsland die suksesvolste uitvoerland in Europa is?

Die samewerkingsooreenkoms wat daar gister tussen Rusland en Suid-Afrika gesluit is, is reeds ‘n goeie begin. Dit gaan oor kernkrag en satelliettegnologie, albei gebiede waar Afrikaners reeds oor kennis en vaardighede beskik. Maar ons moet ook die moontlikhede van handel met Rusland op meer alledaagse vlak ondersoek.

Blykbaar is Rusland nog meer korrup as Suid-Afrika. Maar die voordeel van handel tussen lande is dat betalings gewoonlik tussen banke geskied en dikwels neem die bank die risiko van die teenprestasie deur die kliënt aan die ander kant.

Pleks dat die honderde Afrikaner-ekonome ons alewig inlig oor Pravin Gordhan of die idiotiese me. Gill Marcus se vermoedens oor die plaaslike inflasiekoers – wat in elk geval deur ander, eksterne faktore soos die waarde van die rand, die olieprys of Eskom se manewales, bepaal word – behoort ons ekonome veel meer op die buiteland te spesialiseer en inligting oor handelsgeleenthede daar beskikbaar te stel.

Vanweë hul snoesige verhouding met die moederland, het plaaslike Engelse nog altyd ‘n voordeel bo Afrikaners gehad as dit by handel met Brittanje kom. Wat BRICS betref, is die speelveld egter nou gelyk.

Ons moet inklim.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.