Internet onthoof jarelange boeksensuur

Image‘n Uiters suksesvolle metode van ons volksvyande om beheer oor ‘n volk se gedagtegang uit te oefen, is die geheime boekesensuur wat reeds jare lank in Suid-Afrika en talle ander lande toegepas word. Dit beteken die uitsluiting deur die boekhandel van alle boeke en tydskrifte wat ‘n neutrale standpunt inneem, of gekant is teen die doelstellings van die geldskieters en hul liberalisme. Die aandag is veral gevestig op boeke en tydskrifte waarin konserwatiewe standpunte onomwonde gestel word.

Reeds in die vroeë sewentigerjare is die saak in Suid-Afrika tydens ‘n Volksraadsitting geopper deur ‘n LV wat hierdie gekontroleerde denke beskryf het as so laakbaar soos boekverbranding, juis dít wat die ANC deesdae met ons geskiedenis- en godsdiens-skoolhandleidings doen. Die geheime verbanning van boeke is selfs gevaarliker as verbranding omdat dit sonder die wete van die meeste mense plaasvind.

Ook in die sewentigerjare is die aandag weer op die onderwerp gevestig tydens ‘n kongres van die Rhodesian Front in Salisbury. ‘n Voorstel is aangeneem waarin die regering gevra is om ondersoek in te stel na die onderdrukking van die vryheid van spraak in die destydse Rhodesië se boek- en tydskrifhandel. 

Die feit dat dit nodig was om hierdie vraag in die Suid-Afrikaanse Volksraad sowel as op ‘n partykongres van die Rhodesian Front te stel, dui daarop dat selfs hierdie lande, waar die linkse ondermyners soveel weerstand uitgelok het, se politieke leiers onbewus was van die gevare wat op die kulturele en die intellektuele vlak gedreig het.  Nou, na meer as dertig jaar, wil dit steeds voorkom asof politieke leiers nie bewus is van hierdie magtige denkkontrole-wyse nie, of nie kans sien om hierdie stryd met mening te pak nie.  Intussen het al die tekens van ‘n onopgevoede volk sy verskyning gemaak, ‘n volk wat duidelik vir jare nie die regte leesstof onder oë gehad het nie, ‘n onbelese, geestelik bankrot nasie wat nie weet wat besig is om met hulle te gebeur nie, daarom nie kan standpunt inneem nie, daarom nie kan terugveg nie.  Dus, ‘n verlamde, sterwende Afrikanervolk in 2008!  Hoséa 4:6 was toe honderd persent in die kol en kon net sowel gelees het:  “My volk hét toe te gronde gegaan weens ‘n gebrek aan kennis!”

Toe wyle JF Kennedy ‘n kandidaat was in die Amerikaanse presidentsverkiesing, het hy reeds twee boeke geskryf, wat beide prominent uitgestal is deur boekwinkels in Suid-Afrika en Rhodesië, voor, gedurende en na die verkiesingsveldtog.  In die daaropvolgende verkiesing was senator Barry Goldwater ‘n kandidaat wat toevallig ook reeds twee boeke geskryf het, maar ten spyte daarvan dat albei sy boeke vryelik beskikbaar was in die VSA, ook in ‘n goedkoop slapbanduitgawe, kon hulle nêrens in Suid-Afrika of Rhodesië gevind word nie.  Die verskoning dat geen vraag na boeke sou bestaan wat daarop bereken is om politieke weerstand in Suid-Afrika en die destydse Rhodesië te versterk nie, raak deursigtelik wanneer daar tegelykertyd massa-uitstallings van linkse leesstof in die vensters van dieselfde boekwinkels is – om nie eers te praat van die gunstige kommentaar daaroor in die resensies van plaaslike nuusblaaie nie!  Dit was ook nie verbasend dat die denkkontrole van Suid-Afrika op presies dieselfde wyse destyds gemanifesteer het in Rhodesië nie, aangesien die boekhandelonderneming daar, slegs ‘n verlengstuk was van Suid-Afrika se "Central News Agency".

Die beskikbare boeke en tydskrifte lyk vandag nog meer aanloklik in die vensters en rakke, en daar is vanselfsprekend geen leë plekke op die rakke wat jou in kennis stel van die afwesigheid van die ander nie!  Dit is ook nooit nodig om die liberale boeke spesiaal te bestel nie, en as die voorraad soms opraak, word die voornemende koper dadelik meegedeel: “Daar kom nog baie binnekort.”

Soms gebeur daar glipse, selfs in die ordelikste liberale koerante, soos die pragtige resensie van James Burnham se Suicide of the West, met die onmiddellike gevolg van ‘n lewendige vraag na die boek. Ongelukkig moes belangstellendes die standaardantwoord oral ontvang: “Jammer, geen voorraad, daar is geen aanvraag nie.”  Dit, terwyl daar massa-uitstallings was van Richard West se White Tribes of Africa, ‘n venynige, anti-blanke stuk leesstof vir swart-agitators, destyds seker een van die beste verkopers.  Hierdie prentjie herhaal hom jaar in en jaar uit, soos ek weer pas ondervind met ‘n bekende boekhandelaar in Pretoria ná my bestelling van ‘n boek oor sensitiewe rasse-aangeleenthede, geadverteer reeds in November 2005 in een van ons bekende liberale koerante, en seker nog lank sal wag vir daardie beloofde oproep…

Intellektuele van die regtervleuel het reeds vóór die sewentigerjare gekla oor die Kommuniste byna alle uitgewerye binnegedring het en ‘n doeltreffende veto teen hulle boeke georganiseer het, met die gevolg dat regsgesinde skrywers dit uiters moeilik gevind het om ‘n boek gepubliseer te kry.  Tans is Suid-Afrika in ‘n nog meer haglike posisie aangesien die ANC besig is met wetgewing wat enige skrywer en spreker verbied om ‘n openbaring van die regime se wandade en misdade op enige wyse te openbaar.

Daar was egter ook vanaf die sewentigerjare reeds Amerikaners wat ten spyte van hulle links-liberalistiese landsbestuur, maniere probeer vind het tot eie redding.  Uitgewerye soos Devin-Adair, Henry Regnery, Holt, Rinehart & Winston, Noontide Press en nog andere, het al meer voorsien in die dringende behoefte aan boeke wat die ander kant van die saak stel.  Die linkse monopoliste was behoorlik geskok toe hulle byvoorbeeld moes verneem dat daar van ‘n boek soos John A Stormer se None Dare Call It Treason, binne sewe maande oor die sewe miljoen eksemplare verkoop is. Daar bestaan dus wyses waarop daar gewaak kan word teen dié kommunistiese denkbeheer.

Dalk die belangrikste metode deesdae is die internet.  En is ons nie dankbaar oor die toegang tot internetfassiliteite nie!  Hier onthoof ons die geheime boekesensuur sonder ontsag.  Hier mag ons die volle waarheid verkondig soos wat die Vader in die Hemel van ons verwag.  Mag elke leser hierdeur verryk word met die kennis waarvan Hoséa praat sodat ons volwaardig in staat sal wees om weerstand te bied teen die aanslag van ons volksvyande.

086у

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.