Xingwana en haar brouspul die deur gewys

Deel op

Lulu Xingwana, die omstrede minister van vroue, kinders en gestremdes, en haar hele afvaardiging is Woensdag die deur gewys in die parlement in Kaapstad, het Beeld berig.

Xingwana se departement is in Desember uitstel gegun om terug te rapporteer oor ‘n omkeerstrategie, maar die dokumente wat LP’s veronderstel was om te ontvang ter voorbereiding vir die sessie, is eers Dinsdagaand afgelewer.

Boonop was die verslag ‘n deurmekaarspul, het baie LP’s gesê.

Liezel van der Merwe, IVP-LP, het gesê: “Die dokumente is so deurmekaar ek weet nie of ek kom of gaan nie.”

LP’s is volgens parlementêre reëls veronderstel om sulke dokumente minstens 48 uur voor ‘n sessie te ontvang sodat hulle die nodige vrae kan voorberei en ingeligte besluite kan neem.

Ontstoke LP’s, baie van hulle ANC-lede, het Xingwana en haar afvaardiging teruggestuur om hul brouwerk reg te stel en gevra dat haar departement opgeskort moet word en sy afgedank noet word.

Xingwana het namens haar departement om verskoning gevra, en gevra of sy ‘n voorlopige verslag kan indien.

“Hierdie is onaanvaarbaar, maar die departement het so hard gewerk.”

Die departement het in sy kort bestaan meer as ‘n half miljard rand ontvang en “daar is niks om daarvoor te wys nie, buiten uitspattige partytjies, buitelandse reise en ontwerpersmeubels”, het LP’s gekla.

“Geld wat die departement ontvang het, is vermors en nou gaan dit selfs meer geld kos om dit weer op die been te bring,” het ‘n opposisielid gesê.

Intussen het die minister ook om verskoning gevra vir haar uitlatings oor Afrikaner-mans, wat dié week ‘n hewige reaksie ontlok het.

“Dit het vir my duidelik geword dat my kommentaar sommige lede van ons gemeenskap ontstel het.

“Ek wil, gevolglik, daardie kommentaar terugtrek en onvoorwaardelik om verskoning vra aan hulle,” het sy gesê.

Dié verskoning volg ná Xingwana aan die Australiese Uitsaaikorporasie (ABC) gesê het jong Afrikanermans word grootgemaak om te glo dat hulle vroue en kinders “besit”.

“Jong Afrikanermans word grootgemaak in die Calvinistiese geloof en glo hulle besit ‘n vrou, hulle besit ‘n kind, hulle besit alles, en daarom kan hulle daardie lewe neem, want hulle besit dit,” het sy gesê.

“Ons het ook kulturele verskille in ons eie gemeenskappe waar ons vroue het wat gedwing word om te trou en ons hanteer al daardie sake.”

ABC het ‘n onderhoud met Xingwana gevoer oor die dood van die Paralimpiese kampioen Oscar Pistorius se meisie, Reeva Steenkamp.

Die insetsel, wat Maandag uitgesaai is, fokus op vuurwapengeweld in Suid-Afrika.

“Ek sal hom vra om die waarheid te praat. Ek sal hom vra om vroue te respekteer,” het Xingwana gesê.

“Ek sal hom vra om ontslae te raak van sy vuurwapens. Want ek glo as hy nie vuurwapens in sy huis gehad het nie, sou Reeva Steenkamp vandag gelewe het.”

Xingwana se uitlatings is skerp gekritiseer.

“Hierdie minister het bo enige twyfel bewys dat sy nie geskik is om ‘n amp te hê in ‘n konstitusionele demokrasie nie,” het Jan Bosman, sekretaris van die Afrikanerbond, in ‘n verklaring aangevoer.

Ook AfriForum het Dinsdag gesê hy oorweeg dit om ‘n klagte teen Xingwana by die gelykheidshof te lê oor haar uitlatings.

Isaac Mangena, MRK-woordvoerder, het gesê die kommissie het drie klagtes van mense ontvang wat meen Xingwana se woorde is rassisties en diskriminerend. Die MRK ondersoek die klagtes.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.