Beswaar teen naamsveranderings van skole in Midvaal

Deel op

Mnr. Timothy Nast
Burgemeester
Munisipaliteit van Midvaal

Geagte mnr. Nast,

Volgens berigte in die media steun u die naamsveranderings van Afrikaanse skole in Midvaal wat historiese name soos dié van drs. Hendrik Verwoerd en D.F. Malan insluit, en wil dit voorkom asof u, ‘n Engelsman wie se voorouers van Brittanje afkomstig is, selfs druk op sulke skole plaas om hul name te verander.

Verder het u op 2 Februarie die volgende getwiet:

“FF+ and their 23 supporters can join Verwoerd in the history books!”

In die lig van die onlangse uitlatings van me. Lulu Xingwana oor Afrikanermans wat weens hul “Calvinisme” vir geweld teen vroue in die land verantwoordelik sou wees, toon u opmerkings en teenkanting teen historiese Afrikaanse name vir ons ‘n onrusbarende vyandigheid teenoor Afrikaners en die Afrikaanse tradisie.

Namens die Pro-Afrikaanse Aksiegroep wil ek ons sterkste beswaar uitspreek teen die verandering van enige Afrikaanse name van ‘n historiese of kulturele aard in Midvaal.

Ek versoek u ook om nie verder by Afrikaanse skole in te meng of u posisie as burgemeester van Midvaal te misbruik om skole te beïnvloed of te dwing om hul name te verander nie.

Met trots kan ek aan u noem dat ek aan die Hoër Seunskool Helpmekaar gematrikuleer het, die eerste Afrikaanse hoërskool in Johannesburg. Toe die naam “Helpmekaar” destyds voor 1920 voorgestel is, was daar insgelyks beswaar van Engelse raadslede in Johannesburg daarteen omdat dit te “nasionalisties” of “rassisties” (in die destydse sin van anti-Brits) sou wees. The Star het na die stigting van ‘n Afrikaanse hoërskool in Johannesburg verwys as: “There is something rotten in the state of Denmark.”

U opmerkings oor Afrikaners wat saam met Verwoerd “tot die geskiedenisboeke behoort”, herinner sterk aan die trotse tradisie van Britse chauvinisme in ons land en verskil nie wesentlik van me. Lulu Xingwala se ewe etnosentriese opmerkings oor die geweldsgeneigdheid van “Calvinistiese” Afrikanermans nie.

Soos me. Lulu Xingwana, hoop ek dat u die vrymoedigheid sal hê om ‘n verskoning aan die Afrikanergemeenskap te bied vir u kwetsende aanmerkings oor ons kultuur en geskiedenis.

Die uwe,

Dan Roodt

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.